Landbou
Rekenaarprogram met skop vir eierboere
DANIE VISSER

Die bruto produsentewaarde van die pluimveebedryf in Suid-Afrika beloop R8,14 miljard en eierprodusente se aandeel hierin is sowat 'n derde. Om hierdie aandeel te behou en te vergroot, is 'n doelmatige rekenaarprogram vir eierprodusente ontwikkel. Boonop is dit vir Suid-Afrika die begin van 'n nasionale inligtingsbasis vir die hele bedryf.

'n Nuwe rekenaarprogram wat tred hou met die ontwikkelings in die pluimveebedryf en die rekenaartegnologie ten volle benut, is die afgelope agt jaar deur die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Diereverbetering (DVI) by Irene, met die samewerking van die Suider-Afrikaanse Pluimveevereniging, eierboere en die programmeringsonderneming Felix Solutions ontwikkel.

Dié program, EGGS 2000TM, lê die grondslag vir 'n objektiewe inligtingstelsel vir die totale bedryf waaraan produksieneigings gemeet en gemonitor kan word. Die gebruik en invloed van dié program strek dus heelwat wyer as Suid-Afrika se landsgrense.

Dit is aanvanklik vir klein tot mediumeierprodusente (dié met 2 000 tot 100 000 lêhenne) ontwikkel. Van die begin was dit uitsluitlik gerig op die behoeftes van produsente en dit word gereeld verbeter om aan te pas by hul veranderende behoeftes.

Van die belangrikste voordele van die program is dat dit beter beheer bied en beter en betroubaarder inligting verskaf. Met behulp van grafieke op die rekenaarskerm kan markneigings onmiddellik waargeneem word. Dit gee 'n betroubare aanduiding van die gelykspeelpunt wanneer verliese by 'n lot begin intree.

Daaglikse, weeklikse en maandelikse verslae van elke lot henne in die boerdery dek aspekte soos produksiestatistiek, getalle en vrektes. Dit vereenvoudig produksie- en doeltreffendheidsnorme tot 'n enkelsyfer. Die boer kan dus vinnig by veranderinge op die plaas aanpas en besluite — veral ten opsigte van voer- en waterinnames en graderingsprofiele — neem.

Weergawe 4 van dié program is vroeër vanjaar in gebruik geneem en kan boerdery-eenhede van tot 300 000 lêhenne met gemak hanteer. Met behulp van netwerkskakeling is die weg oop om selfs die grootste eierprodusente te kan bedien. Dié weergawe voldoen veral aan die wyer internasionale behoeftes en dek die volgende:

  • Die aantekening van kuikenbesonderhede vanaf die eerste dag.
  • Ventilering.
  • Omgewingsbeheer in lêhuise, soos die opstel van alarmbeheer by maksimum en minimum temperature, asook vooraf bepaalde temperature vir 'n lêhuis en 'n natmuur vir die beheer van lugvog.
  • Die opstel en druk van kennisgewings vir werknemers.
  • Hengewig en die verspreiding daarvan per huis op 'n daaglikse grondslag. Dit word gebruik om die koëffisiënt van variasie en standaard-afwykings te bereken en op te berg.
  • Daaglikse standaardafwykings. Dit kan op 'n verdelingsgrafiek weergegee word.
  • Immunisering. Gepaste programme kan opgestel word.
  • Verbeterings is aan die in- en uitvoerkomponent aangebring.

    Hierdie produksieprogram word, buiten in Suid-Afrika, ook in Botswana, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Lesotho, Zambië, Nigerië en Portugal gebruik. Demonstrasie-CD's is in Ghana, Zimbabwe, Kameroen, Zambië, Egipte, Botswana, Mauritius, Mosambiek, Malawi en Namibië versprei.

    Mnr. Fanus Weldhagen van Zeekoegat, Pretoria, se produksie-eenheid is in die kategorie 100 000 tot 300 000 lêhenne. Volgens hom is dié rekenaarprogram 'n unieke en doelgerigte produk vir eierprodusente en 'n mens moet nie verwag dat dit sakespesifiek is nie. Dit kan dus meebring dat 'n boer van sy stelsels moet aanpas om die inligting sinvol te kan gebruik. "Dit is nie 'n nadeel van die program nie, maar verg eerder 'n aanpassing in die boer se sakevisie."

    Mnr. Weldhagen vind dit 'n nuttige bestuurshulp. Dit is volgens hom nie net 'n program wat 'n mens in staat stel om lotte lêhenne se prestasies met mekaar te vergelyk nie, maar ook om die plaas se totale eierproduksie daagliks in ooreenstemming te bring met die hoeveelhede wat verpak en verkoop word sonder om 'n dubbele bestuurstelsel te bedryf.

    'n Verdere voordeel is volgens hom dat 'n mens met 'n databasis werk en nie 'n spreiblad nie. Die integriteit van die inligting bly dus deurentyd behoue. Hierbenewens is die grafiese interpretasie van die inligting op die rekenaarskerm nuttig. Dit spaar tyd en maak vingerpuntbestuur maklik.

    Boere het groot waardering vir die dienste wat aan die program gekoppel is. Die belangrikste hiervan is waarskynlik dat 'n afskrif van die plaas se inligting elke tweede of derde week elektronies na die Instituut vir Diereverbetering vir bewaring oorgeplaas word. Dit bied vrywaring teen dataverlies in die geval van diefstal of ander ernstige rekenaarskade. Terselfdertyd stel dit die instituut in staat om mettertyd 'n nasionale databasis vir die bedryf daar te stel.

    Die program kan deur 'n enkelrekenaar gehanteer word, maar mnr. Weldhagen hanteer dit op 'n netwerk, wat meer gebruikersvriendelik is, terwyl die inligting steeds op een veilige plek lê. Die inligting kan by enige van die werkstasies aangevul word.

    'n Werksessie word jaarliks by die Instituut vir Diereverbetering aangebied waar gebruikers oor die nuutste ontwikkelinge en programveranderinge ingelig word, boere se behoeftes bespreek en die nuutste weergawe van die program op hul rekenaar afgelaai word.

    Die voermaatskappy Epol het 'n ooreenkoms met die instituut beklink om die lisensie van die program vir sy kliënte in die hande te kry. Daarmee het 'n nuwe tydvak aangebreek waar ondernemings en die wetenskap hande vat om die toekoms van die kommersiële wetenskap binne die bedryf te bevorder.

  • Voornemende gebruikers kan die program by internet-adres www.felixsol.co.za/arc aflaai om dit te bestudeer. Diegene wat daarin belang stel, kan die Instituut vir Diereverbetering nader vir 'n kode wat die program aktiveer. Bel mnr. Frits Voordewind by tel. 012 672 9068 of 083 957 4885.
  • Mnr. Danie Visser is assistent-direkteur van vark- en pluimveeprestasietoetsing by die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Diereverbetering. Sy foonnommers is 012 672 9076 en 082 809 7488.

    21 November 2003