Die bydrae wat verskillende oorwinteringspraktyke en 'n goeie bul tot 'n winsgewende vleisproduksiestelsel lewer en hoe die ideale speenkalf vir voerkrale moet lyk, is op 'n boeredag van die Oos-Vrystaatse Sussexklub by Reitz bespreek.
Oesreste het 'n groot invloed op die winsgewendheid van 'n vleisproduksiestelsel omdat dit oorwintering vergemaklik, die drakrag verhoog, goeie groei verseker (vanweë die reste se hoë energiewaarde) en betreklik goedkoop is.
Mnr. Hendrik van Pletzen, tegniese bestuurder van 'n veevoervervaardiger, sê oorwintering bly 'n probleem vir veeboere. Omdat dit besonder duur kan wees, moet boere na die koste van verskillende praktyke kyk.
In 'n vergelyking van mielie- en sojareste, kuilvoer, hooi, staande hooi en spaarveld en lek is dit duidelik dat net mielie- en sojareste se voedingswaarde genoeg is om produksie te onderhou terwyl die ander bronne hoofsaaklik net genoeg is vir die onderhoud van die diere.
Mieliereste kan óf gratis beskikbaar wees óf tot soveel as R1 250 per grootvee-eenheid kos. Veronderstel die mielies se produksiekoste is R2 000 per hektaar en met 'n swak opbrengs (soos in 'n droogte) is die inkomste R1 000 per hektaar. Die mieliereste vir oorwintering kos dan in werklikheid R1 000 per hektaar.
In gebiede met 'n hoë opbrengspotensiaal maak boere gewoonlik 'n wins met hul mielies en is die reste gratis beskikbaar. Navorsing op die oostelike Hoëveld het ook gewys dat dié boere wat gewoonlik werklik geld maak met vee, dié is wat met gewasverbouing slaag en die reste beskikbaar het vir oorwintering.
Waar graan se potensiaal hoog is, sal die finansiële risiko van die oorwinteringstelsel op oesreste laag wees, en andersom.
As 'n boer hooi of selfs kuilvoer grootliks vir oorwintering gebruik, kan die koste van dié stelsel maklik tot R500 per GVE styg.
Die laer mielieprys het druk op baie boere geplaas om hul marginale grond aan mielieproduksie te onttrek en weiding te plant. Dit is gewoonlik 'n duur keuse en as 'n mens kyk na die voordeel wat dit vir diereproduksie in Suid-Afrika inhou, moet 'n mens dit omsigtig benader.
As 'n boer sy vee op spaarveld laat oorwinter, kom die koste af tot R75 tot R100 per grootvee-eenheid, maar dan is 'n proteïenaanvulling nodig. Die persentasie ruproteïen van die gespaarde winterveld is sowat 3,5 tot 5,3, terwyl dié van mieliereste van 6 tot 8,6 is.
Gespaarde winterveld het meestal 50 % tot 53 % verteerbare organiese materiaal. Mieliereste het 60 % tot 84 % totale verteerbare voedingstowwe.
Die energiewaarde van die mieliereste is aansienlik hoër as dié van die veld wat verklaar hoekom 'n mens produksie op mieliereste kry en spaarveld net vir onderhoud sorg.
Maar die benutting van oesreste moet nooit ten koste van die langtermyngraanproduksie geskied nie. Volgens 'n proef oor 17 jaar is vasgestel dat waar alle reste verwyder is, die graanproduksie net 280 kg (5,33 t/ha teenoor 5,61 t/ha) laer was as waar die oesreste nie verwyder is nie.
Met gewone beweiding word alle oesreste nie verwyder nie en bly van 50 % tot 60 % oor. En as die reste glad nie bewei word nie, verdwyn sowat 21 % daarvan in elk geval.
As 'n boer beeste of skape van die veld af op 'n varsgestroopte mielieland jaag waar die koppe opgetel is, sal hulle die eerste paar dae soveel mieliepitte vreet dat suurpens 'n wesenlike probleem kan wees.
Maar met 'n lek waarin buffers ingebou is, soos Voermol se Landelek (Reg. No: V15414), behoort suurpens te verminder mits die diere genoeg daarvan inkry.
Met dié lek is die groei van goeie speenkalwers met 35 % verbeter en 115 kg lewende gewig per hektaar geproduseer. In 'n ander studie met speenkalwers op mieliereste met dié lek, is 100 kg lewende gewig per hektaar geproduseer. Met goeie wolskape kan 70 kg lewende gewig per hektaar en 12 kg skoonwol per hektaar op mieliereste geproduseer word.
Oesreste van hoëpotensiaallande met 'n hoë produksie sal noodwendig 'n hoër drakrag hê as lande met 'n laer potensiaal. Die tabel wys dit.
Van Pletzen glo oesreste het 'n groot invloed op die winsgewendheid van 'n vleisproduksiestelsel in die somersaaigebiede, want dit het 'n hoë drakrag, 'n hoë energiewaarde en lae oorwinteringskoste. Probleme waarvoor boere op die uitkyk moet wees, is 'n marginale proteïeninhoud, tekorte aan kalsium, magnesium, sink en koper, asook suurpens, wat vroeg in die weityd 'n wesenlike gevaar is. Met die regte lekaanvulling kan hierdie tekorte reggestel word.
Die ideale voerkraalkalf
Boere sal meer as ooit tevore 'n speenkalf moet produseer wat winsgewend verder afgerond kan word en wat terselfdertyd vir homself 'n goeie inkomste verseker, sê mnr. Chris Boshoff, 'n boer en voerkraaleienaar.
Die klein winsgrens die afgelope tyd plaas voerkrale onder geweldige druk. Slagpryse is onrealisties laag en voerpryse het die afgelope maande weer skerp gestyg. Ongelukkig bly die verbruikersprys van vleis heeltemal te hoog. Iemand is besig om te veel wins te maak en dit is nie die boer of die voerkraal nie. Dit is noodsaaklik dat die boer die maksimum opbrengs per koei-eenheid behaal en dat soveel vleis moontlik per hektaar geproduseer word.
Boshoff reken die ideale speenkalf moet 200 kg tot 250 kg weeg. Hy het boere gemaan om hul kalwers nie te lig te verkoop nie, want geen prys kan gewig klop nie.
Sulke kalwers moet onthoring, gekastreer en klaar gespeen wees, want hulle behaal buitengewoon goeie pryse. Tatoeëer hulle eerder as om die boud te brand, want die brandmerk beskadig die huid.
Temperament speel 'n groot rol. Rustige kalwers pas makliker aan. Daarteenoor veroorsaak stres kwale van die asemhalingstelsel, wat dodelik is in 'n voerkraal. Gesonde en parasietvrye kalwers het hoë speengewigte en hulle groei ook goed in die voerkraal.
Dit is nou meer as ooit noodsaaklik dat boere speenkalwers produseer wat vir hulle geld in die sak bring, maar wat dit vir die voerkraal ook moontlik maak om die diere winsgewend af te rond, sê hy.
2 April 2004