'n Skaapboer het sy skape gedoseer volgens gereelde misontledings en sodoende sy uitgawes aan dieregesondheid met tot 85 % verminder sonder om sy kudde se gesondheid te benadeel. Boere doseer soms blindelings omdat hulle nie weet of dit nodig is nie, sê hy.
Hoekom word omgewingsverskille nie in ag geneem wanneer doseerprogramme vir middels voorgeskryf word nie? Toestande verskil tog van streek tot streek en dikwels selfs van plaas tot plaas. Hoe kan dus in sulke verskillende toestande in doseerprogramme klem gelê word op presies wanneer om te doseer of nie? Wat van die invloed van reën en droogtes? Hoekom bly sy skape se gesondheidstoestand meestal onveranderd of hy doseer of nie? Is dit werklik nodig om te doseer, al makeer jou skape niks?
Dit was vrae soos dié wat mnr. Jan Wiese, Dorperboer van Biesiespoort, buite Loxton in die Karoo, besig gehou het in die eerste klompie jare van die bykans twee dekades wat hy al met skape boer.
Sowat 10 jaar gelede het hy finaal besef dat baie van die programme wat dieregesondheidsmaatskappye voorskryf en baie boere so slaafs navolg, hulle onnodig baie uit die sak jaag sonder dat bewyse bestaan dat dit werklik nodig is. ''Dit is soos om met 'n haelgeweer in die donker te skiet en te hoop jy tref iets,'' sê hy.
Wiese het met medeboere gesels en agtergekom dat daar Dorperboere is wat nooit doseer nie. En hul skape is niks minder of meer gesond as syne nie - wat vier tot vyf keer per jaar gedoseer word. Ál verskil was dat hul bankrekenings dalk heelwat beter as syne gelyk het omdat hulle baie geld op onnodige dosering bespaar het.
In die laat 1990's het hy besluit om met 'n proefneming te begin deur inenting teen bloednier op sy een plaas te ''toets''. Hy het heeltemal van sy gewone (en aanbevole) program afgewyk en skape net ingeënt wanneer die weer verander het, byvoorbeeld net ná reën. Voorheen het hy sy vee vier keer per jaar ingeënt, ongeag enige ander toestande.
Dadelik ná die eerste seisoen het hy besef dat hy deur die jare baie geld op onnodige inentings gemors het, want niks meer of minder van sy skape het die siekte opgedoen as tevore nie. Hy het daarna op aandrang van mnr. Bertie Hugo van 'n dieregesondheidsmaatskappy op Victoria-Wes, sy lammers ses weke ná geboorte teen bloednier ingeënt, weer 'n maand later met 'n skraagdosis en daarna net een keer per jaar - sonder enige nadelige gevolge.
Toe die nuwe stelsel met bloednier werk, het hy dit na gewone dosering uitgebrei, sê Wiese.
Vir die eerste keer het hy werklik begin let op die redes waarom hy sy skape so gereeld inent en besef dat hy doseer vir heelwat dinge wat nie werklik 'n probleem is nie. Só het hy uitgevind dat die langnek-bankrotwurm, wat aanhoudend kop uitgesteek het, eintlik sy grootste probleem op die plaas is. Dít het hy vasgestel deur vir die eerste keer mismonsters van sy diere te neem en die inhoud daarvan te ontleed.
In daardie stadium het Hugo vir hom gesê hy moet let op die breëspektrum-spuitmiddels wat hy toe in sy doseringsprogram gebruik het.
Hugo het gesê dat die spuitmiddels waarskynlik net in die onvolwasse stadium van die langnek-bankrotwurm werk. Volwasse wyfies oorleef en besmet diere telkens weer. Die doseermiddels is aangepas en 'n middel met die aktiewe bestanddele levamisool en rafoksanied is gekombineer met een wat die aktiewe bestanddeel ivermektien in 'n doseerbare vorm bevat. Elke sewe dae ná dosering is volledige mismonsters geneem en ontleed.
Namate dié nuwe program begin vrugte afwerp en die langnek-bankrotwurms in die ooie se mis drasties afgeneem het, is mismonsters elke 14 dae geëvalueer. Binne die eerste jaar nadat die nuwe program begin is, is dosering teen die probleem van vyf tot ses keer per jaar verminder tot twee tot drie keer. Hy het net gedoseer wanneer die mismonsters hom waarsku dat die wurmtelling styg, sê Wiese.
In die tweede jaar van die program is ooie se mis een keer per maand geëvalueer en ooie is gemiddeld twee keer per jaar gedoseer. Deesdae doseer Wiese een keer per jaar, en die langnek-bankrotwurm is in bedwang. Hy neem nou gemiddeld twee keer per jaar mismonsters vir ontleding.
Wiese het besef dat daar jare is wanneer dit nodig is om meer te doseer as gewoonlik weens eksterne toestande. Maar hy het besef ál manier hoe hy kon bepaal hoeveel keer hy moet doseer om die entstof doeltreffend te maak, maar nie oorbodig nie, is deur misontledings. Die ou waarheid van ''om te meet, is om te weet'' is baie belangrik, meen hy.
'n Boer behoort deur uitwendige evaluering te weet wanneer van sy skape siek is. Hy sien dadelik wanneer 'n dier olik is, haar oë tranerig is en haar kondisie in die algemeen afsteek teen die res van die trop. Wanneer só 'n ooi visueel geïdentifiseer is, kan sy uitgekeer en mismonsters van haar geneem word.
Deur siek skape gedurig uit die kudde te verwyder, kon Wiese oor die jare sy diere se weerstand teen parasiete verbeter, omdat hy nie onnodig doseer en die parasiete dus tydig en ontydig aan spuitmiddels blootstel nie.
Wanneer hy wel doseer, word die ooie baie fyn dopgehou. As hulle nie na wens reageer nie, gebruik hy 'n volgende middel om weerstand daarteen uit te skakel. Só het hy in 2003 die eerste keer nodig gehad om van die middel met die aktiewe bestanddeel ivermektien oor te skakel na die een wat 'n kombinasie van levamisool en rakoksanied as aktiewe bestanddeel bevat. Dié waarneming sou nie met die blote oog gedoen kon word nie. Dit was weer die misontledings wat aangedui het dat daar weerstand was. Dit is hier waar ander boere kan leer, meen Wiese.
Talle boere hou aan doseer met 'n aktiewe bestanddeel waarteen weerstand op hul plase is sonder dat hulle dit besef. Teen die tyd dat hulle dit agterkom, is dit te laat en is die skade gedoen.
Hy meen 'n boer moet altyd bedag wees daarop dat 'n middel of middels vir 'n ruk uitstekend werk, maar in 'n stadium blykbaar minder suksesvol is. Mismonsters is weer sentraal hier, want die eiertellings van 'n parasiet in sulke monsters styg lank voordat die dier enige simptome toon.
Voor elk van sy produksieveilings word sy ooie en ramme ook met 'n ivermektien-spuitmiddel behandel sodat hulle vry van in- en uitwendige parasiete is.
Wat sy lammers betref, het Wiese aanvanklik met 'n gekombineerde middel teen ronde- en melklintwurm gedoseer. Evaluasies van mismonsters het getoon dat 'n volwaardige lintwurmmiddel wat ál drie lintwurmspesies, naamlik melklintwurm (Moneizia spp.), geriffelde lintwurm (Thysaniezia spp.) en smallintwurm (Avitellina spp.), in toom hou, nodig is om die probleem heeltemal die hoof te bied.
Dit is belangrik dat lammers op ses weke, wanneer ál drie die lintwurmspesies nog nie in hulle aanwesig is nie, 'n aparte rondewurmmiddel kry ongeag wat hul mismonsters in daardie stadium toon. Verder moet lammers op 10 weke teen bloednier ingeënt word, en tesame hiermee kry alle lammers hul eerste lintwurmdosering. Die tweede lintwurmdosering tesame met 'n breëspektrum-dosering teen rondewurm vind plaas met speen. Die lintwurmmiddel wat Wiese gebruik, se aktiewe bestandeel is niklosamied.
Mismonsters word deurentyd tot met speentyd geneem om eiertellings dop te hou. Vir die eerste sowat vyf jaar nadat hy na sy nuwe doseerstelsel oorgeskakel het, het Wiese regstreeks ná speentyd 'n breëspektrum-rondewurmmiddel met die aktiewe bestanddeel fenbendasool in kombinasie met 'n middel met die aktiewe bestanddeel niklosanied, teen lintwurm aan sy lammers gegee.
In 2002 het die eerste weerstandsprobleme begin kop uitsteek en hy het oorgeskakel na 'n middel met die aktiewe bestanddeel prasikwantel teen lintwurm.
Hy sê lammers moet beslis meer gedoseer word as volwasse ooie, want hul lewe lê nog voor, en hoe ''skoner'' die diere volwassenheid betree, hoe beter is hul kans om gesonder lammers in die wêreld te bring.
Só word 'n program gevestig waardeur diere die kans kry om eerder op hul eie gehardheid te oorleef as hoofsaaklik weens ent- en doseringsmiddels. Só keer hy met sy Dorpers terug tot 'n natuurliker manier van siektebestryding. Dit is wat die Dorper aanvanklik so 'n uitsonderlike skaap gemaak het, meen hy. Want as eiertellings in die diere se mis nie buitensporig hoog begin raak nie, doseer hy eenvoudig nie.
Die kern, volgens hom, is dat 'n boer moet weet wat binne-in sy diere aangaan voordat hy willens en wetens doseer. 'n Skaap moet jou eers wys daar is 'n probleem, hetsy deur sy visuele voorkoms of deur sy mismonsters.
''Om sommer net te doseer, is soos om met 'n haelgeweer in die donker te skiet en te hoop jy tref iets. En die treurigheid is dat 99 % boere juis dit doen. Deur net te doseer wanneer dit nodig is, kan 'n skaap op 'n natuurlike wyse sy natuurlike weerstandsvlakke teruggekry,'' glo Wiese.
23 April 2004