Lamvrektes kan 'n skaapboerdery onekonomies maak. Die probleem kan voorkom word met goeie toesig gedurende lamtyd, goeie bestuur, kennis van siektes wat lamvrektes veroorsaak en die identifisering van ander dinge wat tot lammervrektes lei.
Verhongering is die grootste oorsaak van lamvrektes in Suid-Afrika. By tot 50 % van alle vrektes is dit die waarskynlike oorsaak, het navorsing aan die lig gebring. Moeilike geboortes (25 %) is die naasgrootste oorsaak.
Net 25 % van alle lamvrektes kan aan ander oorsake, soos siektes, roofdiere, tekorte en oorerflike probleme, toegeskryf word.
Die opnames het getoon dat lamvrektes in sekere kuddes tot so hoog as 30 % kan wees. As dit só erg is, is skaapboerdery nie ekonomies nie. Goeie toesig en bestuur gedurende lamtyd sal die oorsake van lamvrektes aan die lig bring. Deur dit reg te stel, sal vrektes tot 'n meer aanvaarbare vlak (minder as 10 %) verminder word.
Die verhongering van pas gebore lammers kan verskeie oorsake hê. Die voeding van dragtige ooie, veral in die laaste maand van dragtigheid, is belangrik. Swak voeding sal tot 'n lae geboortegewig en swak, ligte lammers lei. Na gelang van die ras is die ideale gewig van pas gebore lammers 3 kg tot 4 kg.
Swak lammers sukkel om te suip en is vatbaar vir verkluiming in ongunstige weer. Die lammers vrek omdat hulle geen vetreserwes het nie en te swak is om te suip. Indien ooie in die laat stadium van dragtigheid met wurms besmet is, kan dit hul voeding aantas. Dit is wanneer ooie die meeste wurmeiers uitskei as gevolg van 'n verlaging in wurmweerstand net voor lamtyd. Lintwurmbesmettings kan dragtige ooie doodmaak weens swak voeding.
Stoppellande met min voedingswaarde en met geen skuiling nie is 'n voorbeeld van onaanvaarbare toestande vir ooie in die laat stadium van dragtigheid.
Swak moedereienskappe veroorsaak dat ooie hul pasgebore lammers weggooi of nie toelaat dat hulle dadelik suip nie. As hierdie ooie se lammers nie met die hand gevoed word nie, vrek hulle.
Moedereienskappe is rasgebonde en oorerflik. Ooie moet dus vir goeie moedereienskappe geselekteer word. Die hanslammers van sulke ooie moet nie vir teeldoeleindes gebruik word nie.
Ooie met mastitis of gebreklike of beskadigde uiers kan ook nie hul lammers voed nie. Hul lammers vrek gewoonlik, tensy daar goeie toesig in lamtyd is.
Lammers wat met geboorte swak is, leef net sewe dae, is lusteloos en gaan lê en vrek uiteindelik. Diere wat aan verhongering dood is, het 'n plat buik.
Swak lammers kan deurgehaal word deur 40 ml tot 100 ml glukose (20 %) met 'n maagbuis in die buik te spuit. Gevriesde biesmelk kan ook gehou word vir hanslammers wat nie bies van hul moeders gekry het nie.
Genetiese gebreke veroorsaak 'n sekere persentasie afwykings in kuddes. Misvormde kake of ledemate, velmisvormings en die afwesigheid van 'n anus word die algemeenste gesien. Gebreklike lammers wat oorleef, moet nie vir teling gebruik word nie.
Sekere virusse kan aangebore gebreke veroorsaak. 'n Voorbeeld is die Akabane-virus wat in die somer in sekere gebiede voorkom. Inenting met bloutongentstof van ooie in die eerste twee maande van dragtigheid kan brein- en senuweegebrekke by lammers veroorsaak. Bloutong-inenting in die laaste helfte van dragtigheid sal nie nagevolge veroorsaak nie.
Die volgende stappe kan gedoen word om lamvrektes te voorkom:
Boer moet bedag wees op siektes
Ensoötiese aborsie is 'n aansteeklike siekte wat deur die kiem Chlamydia psittaci veroorsaak word. Dit word oorgedra van skaap tot skaap en word gewoonlik deur ingekoopte skape in 'n kudde ingebring. 'n Swak lampersentasie, aborsie in laatdragtigheid of resorpsies is gewoonlik tekens van ensoötiese aborsie in 'n kudde.
Vroeggebore, doodgebore of swak lammers is die gevolg. Besmette lammers kan te swak wees om te staan of te suip of kan longonsteking of gewrigsontsteking hê. Inenting van ooie ses weke voor die dektyd sal aborsies en verliese voorkom. Bloedpens kom sporadies in Suid-Afrika voor en word deur Clostridium perfringens B veroorsaak. Die lam is slegs vatbaar binne die eerste 7 tot 14 dae. Aangetaste lammers wys pyn, lusteloosheid, bloederige laksering en vrek redelik vinnig.
Die toestand kan verhoed word deur inenting met 'n entstof wat C. perfringens B bevat. Die ooie moet aanvanklik twee keer ingeënt word met 'n tussenpose van drie tot vier weke tussen die inentings. Die tweede inenting moet 'n maand voor lamtyd gegee word.
E.coli-besmetting kom meer by kalwers voor, maar kan ook 'n probleem wees by skape wat intensief grootgemaak word. Lammers ontwikkel diarree, ontwater en vrek vinnig binne die eerste week nadat hulle gebore is. In kuddes waar sulke vrektes voorkom, kan 'n E.coli-entstof toegedien word, maar net as die lammers genoeg biesmelk inkry.
Die gebruik van rekkies vir kastrasie en om sterte te verwyder, skep die ideale toestande vir klem-in-die-kaak. Die wonde word besmet met Clostridium tetani wat in die verstrengelde weefsel groei en 'n toksien produseer. Die toksien veroorsaak spastiese (rukkerige) verlamming wat later tot die dood lei.
Drie weke is die ideale ouderdom vir kastrasie en die verwydering van sterte. Die lammers het dan nog baie biesmelkteenliggame. Die ooie moet ten minste twee inentings kry, met die laaste een twee tot drie weke voor lamtyd.
Vuilbek word veroorsaak deur 'n virus wat die groei van vratagtige letsels tot gevolg het. Die letsels kom veral voor op die bekke van lammers asook op die uiers en spene van ooie. Suiplammers kan aangetas word. Hulle kan selfs weier om te suip. Ooie wat aangetas is, kan mastitis ontwikkel en weier om hul lammers te laat suip.
'n Entstof is beskikbaar, maar die voorkoms van die siekte kan verminder word deur te keer dat die diere doringagtige plante vreet omdat die wonde wat deur die dorings veroorsaak word, die ingangsplekke van die virus is. Die entstof word deur die "skraap"-metode aangewend.
Slenkdalkoors is 'n virussiekte wat sporadies in Suid-Afrika voorkom. Die laaste uitbrekings was in 1950 en weer in die laat 1970's. Hoewel die virus nog in muskiete teenwoordig is, moet uiters geskikte toestande teenwoordig wees vir 'n epidemiese voorkoms van die siekte, soos swaar reën wat staande water tot gevolg het. Baie muskiete broei dan uit en 'n sekere persentasie is met die slenkdalkoorsvirus besmet.
Die muskiete wat slenkdalkoors oordra, het 'n voorkeur vir vee, beeste, skape en bokke en besmet hulle tydens voeding. Die vernaamste tekens van die siekte is aborsies en die dood van pasgebore lammers, bokkies en kalwers.
Daar word geskat dat miljoene stuks vee in die laat 1970's gevrek het. Daar is doeltreffende entstowwe beskikbaar, maar dit word min gebruik weens 'n persepsie dat die siekte nie meer voorkom nie. Hoewel dit twee dekades laas 'n uitbreking veroorsaak het, kan slenkdalkoors weer epidemies voorkom. Entstof moet voor die somer toegedien word.
Ander besmettings wat aborsies by skape en bokke kan veroorsaak, is Brucella melitensis, Coxiella burnetti en Toxoplasma gondii. By Angorabokke kom "gewoonte-aborsies" voor as gevolg van metaboliese stres of inteling.
16 Julie 2004