Uitwendige parasiete, soos bosluise, vlieë, muggies en luise, veroorsaak jaarliks groot produksieverliese. Hulle kan kleinvee selfs laat vrek. Hierdie parasiete se skade kan met verskillende metodes aan bande gelê word.
Kleinveeboere in talle dele van Suid-Afrika ly groot verliese weens uitwendige parasiete. Elke jaar kom vrektes en verliese as gevolg van bosluise en bosluisoorgedraagde siektes, vlieë en vlieg-oorgedraagde siektes voor. As skape met myte, soos brandsiektemyte en rooiluise besmet word, verloor hulle gewig en daal hul wolproduksie.
Brommeraanvalle veroorsaak groot produksieverliese, asook vrektes by wolskape. Merino's is die vatbaarste. In die somer lê wyfiebrommers eiers op skape met nat of misbesoedelde wol, of met snye of wonde aan die vel.
Aangetaste skape is onrustig, skop en skuur, skud hul sterte aanhoudend, stamp hul pote en byt na die wonde. Die wonde ruik kenmerkend sleg. Onbehandelde brommeraanvalle kan skape binne 'n week doodmaak.
Brommerlarwes moet behandel word met wondolie wat piretroïed of organofosfate bevat, asook die betrokke insekdoders self teen die gespesifiseerde dosis.
Voorkoming vereis 'n kombinasie van bestuursfaktore, soos die seleksie van gladdelyf-Merino's, mikskeer, bosluisbestryding, wondbehandeling en die gebruik van afweermiddels/insekdoders (organofosfate) of insekgroei-reguleerders (IGR's), soos siromasien of triflumuroon.
Muggies is klein bloedsuigende lede van die vliegfamilie. Hulle teel gewoonlik in water, dikwels in groot getalle. Muggiebyte is irriterend en kan tot korsvorming om die oë en ore lei. Die diere weier om te vreet, te teel of hul lammers te laat suip.
Culicoides-muggies teel in modder om damme en riviere of in die mis van diere. Hulle is aktief van sonsondergang tot sonsopkoms en dra bloutong, perdesiekte en drie-dae-stywesiekte oor.
Leptoconops is 'n muggie wat in droë gebiede in seisoenale water teel. Hulle het 'n plaag geword in gebiede soos De Aar, Williston, Aliwal-Noord en Walvisbaai. Riviermuggies (Simulium) teel in vinnig vloeiende water soos die Vis-, Vaal- en Oranjerivier en is volop in die somer. Simulium kan doeltreffend bestry word deur die riviervlak lank genoeg te verlaag om die larwes uit te wis.
Muggies kan bestry word met dip- of opgietmiddels wat sintetiese piretroïed bevat.
Myte is die belangrikste oorsaak van vagverlies by skape in Suid Afrika. Die brandsiektemyt is die vernaamste. (Lees volgende week meer hieroor.) Jeukmyt of Australiese jeukmyt (Psorergates ovis) kom ook in Suid-Afrika voor, maar minder as brandsiekte. Die tekens van besmetting is 'n aanhoudende gekrap, die versteuring, en die verkleuring en uittrek van die vag. 'n Jaarlikse dipbehandeling met organofosfate of amitras ná skeertyd of inspuiting met makrosikliese laktone sal die besmetting opklaar.
Twee groepe luise sal op skape gevind word: Suigende of blouluise, wat beperk is tot sekere plekke op die skaap se lyf, en bytende of rooiluise wat verspreid oor die liggaam voorkom. Rooi- of bytende luise is van ekonomiese belang omdat hulle hewige irritasie by skape en Angorabokke veroorsaak. Diere trek hul vag uit en verloor gewig. Rooiluise kan met dompeldip net ná skeertyd bestry word. Dit sal verhoed dat hulle in die winter 'n probleem word as die diere se vagte lank is en dit moeilik is om wolskape te behandel.
Organofosfaat- en piretroïeddip is doeltreffend as dit reg gebruik word. 'n Tweede behandeling 10 dae tot 14 dae ná die eerste behandeling is nodig om goeie beheer te kry. Piretroied- of IGR-bevattende opgietmiddels het 'n lang werking, maar omdat dit eers moet versprei, kan dit twee weke duur om die luise dood te maak.
Bestryding is makliker wanneer dit ná skeertyd gedoen word omdat die eiers (nete) verwyder word wanneer die dier geskeer word. Makrosikliese laktone wis rooiluise nie heeltemal uit nie. Blouluisbesmetting kan met inspuiting van makrosikliese laktone behandel word of diere kan gedip word met organofosfate of piretroïed.
Luisvlieë is harige, vlerklose, taamlik groot vlieë wat maklik gesien kan word wanneer die vag oopgemaak word. Die dip van skape vir brandsiekte het die voorkoms van luisvlieë baie verminder. Op plase waar nie gedip word nie, kan dié parasiet 'n probleem word. Soos met myte en luise, veroorsaak hulle irritasie, beskadiging van die vag en gewigsverleis.
Bosluise het meer geword
Verskeie soorte bosluise kom in verskillende dele van die land voor en boere in elke streek moet bedag wees op die probleme wat in die bepaalde streek kan voorkom.
Die Karoo-verlammingsbosluis (Ixodes rubicundus) kom wyd in die sentrale en Suidoos-Vrystaat voor en sporadies in die Wes-Kaap en in die Queenstown-gebied in die Oos-Kaap. In Mpumalanga is daar enkele gevalle.
Die verspreiding van dié bosluis hang meestal saam met die voorkoms van die besembos (Rhus erosa) en suurpolgras op die suidelike hellings van bergagtige gebiede omdat die plantegroei waarskynlik gebruik word as skuiling vir die tussengashere van die onvolwasse bosluise, naamlik die rooihaas en die klaasneusmuis.
Die voorkoms van dié bosluis het uitgebrei met die oorbeweiding van plase. Die vermeerdering van onvreetbare bossies bied skuilplek aan die gashere van die bosluis.
Die volwasse bosluise begin in die laat somer voed, gewoonlik ná skielike koue, reën of sneeu. Hulle parasiteer op skape en bokke, asook wildsbokke en klou meestal aan die onderlyn van die lyf en nek, die bene en soms die wange en onderkaak.
Tekens van verlamming kan in Februarie gesien word. Dit eindig gewoonlik laat in Mei of Junie. Die toksien wat deur die speeksel van die volwasse bosluise afgeskei word, veroorsaak simptome van effense mankheid tot totale verlamming. 'n Groot aantal diere kan gelyk aangetas wees. Diere herstel binne 24 tot 48 uur nadat die bosluise verwyder is.
Dit help as die vee in Februarie uit die bergkampe verwyder word en hulle weekliks gedip word. Bosluisdipmiddel wat in 'n pensbad toegedien word of opgietmiddels wat geskik is vir die diere wat behandel moet word, lewer goeie resultate.
Net opgietmiddels met 'n waterformule is geskik vir wolskape en Angorabokke. Die meeste middels het 'n langer nawerking op wolskape as op haarskape en bokke.
Sweerklou of voetabses is 'n besmetting van die weefsel om die kloue van kleinvee. Bakterieë dring die vel om die kloue in deur klein wonde wat deur bosluisbyte of dorings veroorsaak is. Bruinbosluise (Rhipicephalus sp.) wat tussen die kloue van kleinvee vasbyt, of die bontbosluis is gewoonlik betrokke. Diere word gewoonlik mank in een poot. Meer as een poot kan aangetas word.
Die vel bo die kloutjie word rooi en geswel en kan mettertyd na buite versweer. Dit kan met vrotpootjie verwar word, wat meestal tussen die kloutjies begin. Die aangetaste diere verloor kondisie en behandeling met antibiotika laat hulle stadig herstel. As bosluise die wonde veroorsaak, moet voetbaddens met 'n dipmiddel gebruik word.
Bruinverlammingsbosluise (Rhipecephalus sp.) veroorsaak verlamming by jong Angorabokkies in dele van die Vrystaat en die omgewing van Barkly-Oos wat tot groot verliese kan lei. Die bosluise kruip in die ore van die bokkies wanneer hulle op die grond lê. Verlamming van die bokkies kan noodlottig wees, selfs nadat die bosluise verwyder is. Kolbehandeling met bosluismiddels word aanbeveel.
Rooipootbosluise (Rhipecephalus evertsi) wat in die oostelike dele van die land voorkom, kan lastig wees by skape weens die skade wat die onvolwassenes in die ore aanrig. Hulle kan ook verlamming by lammers veroorsaak, bekend as lente-lamparalise. Skade kan voorkom word deur die diere te dip of hul ore met bosluismiddels te behandel.
Die bontbosluis (Amblyomma hebraeum) is verantwoordelik vir die oordraging van hartwater in die warm oostelike dele van die land (Mpumalanga, Limpopo (Noordelike Provinsie), dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap). Die bosluise heg aan die haarlose dele van die ligaam, soos die lies, die oksel en onder die stert.
Hartwater is 'n akute siekte by kleinvee en beeste. Besmette diere ontwikkel 'n hoë koors, het senuweesimptome en haal moeilik asem as gevolg van die versameling van skuim in die longe. 'n Dier wat nie behandel word nie sal vrek. Die diagnose word bevestig op grond van die besigtiging van die oorsakende organisme, Cowdria ruminantium, in 'n breinsmeer.
Diere wat hartwater onder lede het, moet met 'n kort- of langwerkende tetrasiklien behandel word (20 mg/kg). Twee behandelings mag nodig wees. Die siekte kan voorkom word deur die diere in die somer weekliks en in die winter elke twee weke te pensdip.
Inenting kan gebruik word, maar die immuniteit sal daal as die bosluisgetalle met dip afgebring word. As diere van ouer as drie weke ingeënt word, sal hulle met tetrasiklien behandel moet word. Die immuniteit wat die entstof verskaf, moet aanhoudend versterk word deur middel van bosluisbyte. As gereeld gedip word, sal die immuniteit dus daal.
Dit is moeilik om te bepaal hoeveel gedip moet word om die immuniteit van inentings te behou. Angorabokke is vatbaar vir hartwater en moet met sorg ingeënt of geskuif word.
6 Augustus 2004