Landbou
Suinige ooivoeding knou lammer-oes
ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

Die geheim van 'n winsgewende Boerbokboerdery is om insetkoste laag te hou sonder om ooie se voeding af te skeep. Swak ooivoeding laat lammers vrek en maak die volgende lammer-oes kleiner. Geld wat oordeelkundig aan ooivoeding bestee word, is goed belê.

Een van die beste maniere waarop Boerbokboere hul wins per eenheidsoppervlakte kan verhoog, is deur die verhoging van die totale gewig van die lammers wat per hektaar gespeen word. Om dit die vinnigste reg te kry, moet die speenpersentasie verhoog en die lammergroei versnel word.

Dr. Jasper Coetzee van Voermol Voere het op 'n Boerbokinligtingsdag op Klippan by Zeerust gesê in die huidige moeilike ekonomiese toestande moet die produsent alles in sy vermoë doen om insetkoste laag te hou. Hy sal egter doeltreffender moet produseer om finansieel te oorleef.

Maar, waarsku hy, die beste teeltegnieke en die waarde van die modernste hulpmiddels kan vernietig word deur swak voeding van ooie gedurende laat dragtigheid en die eerste twee maande van laktasie.

Want dis algemeen bekend dat 'n lae reproduksietempo weens lamvrektes grootliks verantwoordelik is vir lae winste en stadige teelvordering. En as 'n jong dier swak groei, veral in die eerste jaar van sy lewe, is dit grootliks verantwoordelik vir swak produksie en reproduksie deur daardie dier se hele lewe.

Omdat Boerbokooie so 'n hoë lampersentasie het, word met die voeding van lakterende ooie veral aandag geskenk om die ooie wat meerlinge soog, goed te versorg. Byvoeding behoort te begin op die dag wat met skandering bepaal is dat 'n ooi meer as een lam dra.

Dit is gewoonlik in die tweede maand van dragtigheid en dié ooie behoort van dan af totdat hul lammers gespeen is, in 'n afsonderlike trop gehou te word. Navorsing het bewys dat geboortegewig die grootste invloed op die oorlewingsvermoë van lammers het. Sowat 80 % van alle lamvrektes hou verband met die voeding van die ooi gedurende dragtigheid en kort nadat sy gelam het. Lammers wat 3,5 kg tot 5,5 kg weeg, het die beste kans op oorlewing.

As die geboortegewig van lammers laer as 3,5 kg is, kan lamvrektes met tot 50 % beperk word as hul geboortegewig met 0,5 kg tot 1 kg verhoog word.

Die afsterwing van fetusse, veral van 30 tot 65 dae ná bevrugting, is een van die grootste redes vir 'n lae reproduksietempo, en baie boere weet nie eers daarvan nie.

Fetusse wat in dié tyd afsterf, word meesal geaborteer. Die vrugvliese van die baarmoeder absorbeer dit gewoonlik. Dit staan bekend as resorbsie. Al wat die boer daarvan sien, is 'n lae dragtigheidspersentasie en min meerlinge.

Omdat Boerbokke normaalweg so 'n hoë lampersentasie het, kan fetale verliese maklik ongesiens verbygaan. Daarom is dit noodsaaklik om dit voortdurend te monitor. Fetale verliese word bereken as die verskil tussen die aantal lammers geskandeer in die ooikudde en die aantal wat werklik gebore word.

Fetale verliese kan tot 25 % wees, maar met ernstige droogte, koue, swak voeding en oormatige hantering kan dit tot 50 % en meer wees.

Ondervoeding gedurende middragtigheid (maand 2 en 3 van dragtigheid) veroorsaak dat die plasenta (nageboorte) nie tot die normale grootte ontwikkel nie. Dit lei tot laer geboortegewig en laer lamoorlewing.

Dan kry klimaatstoestande, soos koue en reën, dikwels die skuld vir die vrektes pleks van die wanvoeding gedurende dragtigheid.

Die finale grootte van die plasenta bepaal hoofsaaklik die geboortegewig van lammers asook die grootte van die uier. As die plasenta in middragtigheid nie voldoende ontwikkel nie, ontwikkel die fetus nie tot die volle grootte nie. Dit verhoog ook fetale vrektes, lei tot lae geboortegewig, 'n lae oorlewingsvermoë van die lam ná geboorte, 'n afname in die energiereserwes van die lam en swak moedereienskappe van die ooi, wat alles saam lamvrektes verhoog. Voeding, temperatuur, die aantal fetusse in die baarmoeder en die ouderdom, kondisie en liggaamsgewig van die ooi is die belangrikste faktore wat die grootte van die plasenta beïnvloed.

Indien die plasenta nie ten volle ontwikkel nie, is goeie voeding gedurende laat dragtigheid 'n vermorsing omdat dit nooit ten volle kan vergoed vir swak plasenta-ontwikkeling in middragtigheid nie.

Die grootte van die plasenta bepaal ook veral die grootte van die uier en gevolglik melkproduksie. Swak voeding in die eerste 100 dae van dragtigheid kan tot 'n afname van 25 % in melkproduksie lei.

Dit gebeur omdat die plasenta hormone produseer wat die uier laat ontwikkel. Die hoeveelheid hormone wat afgeskei word, word bepaal deur die grootte van die plasenta. Dié hormone speel ook 'n belangrike rol in die moederlike gedrag van die ooi wat verantwoordelik is vir die vorming van 'n band tussen die ooi en haar lammers net ná geboorte.

Hoë omgewingstemperature beperk die bloedvloei en dus die vloei van voedingstowwe na die baarmoeder. Dit kan die plasenta- en fetusgewig met tot 50 % verminder. Die voorsiening van skaduwee gedurende middragtigheid en lamtyd kan dus onderskeidelik die geboortegewig en lamoorlewing verbeter.

Die kondisie en ouderdom van die ooie speel ook 'n belangrike rol. Jong ooie het kleiner baarmoeders, wat tot kleiner plasentas lei. Jong ooitjies wat die eerste keer lam, behoort in 'n aparte kamp met beter weiding gehou te word of byvoeding moet gegee word.

Die plasenta groei gedurende middragtigheid die meeste en bereik sy finale grootte teen dag 100 van dragtigheid. Voeding speel dus gedurende middragtigheid 'n kritieke rol in die oorlewing en groeitempo van lammers en veral meerlinge. Ooie wat met meerlinge dragtig is, se gewig moet gedurende middragtigheid met minstens 100 g per dag toeneem. As dit nie met die beskikbare weiding moontlik is nie, moet 'n geskikte lek voorsien word. Die tipe lek sal afhang van die kondisie van die ooie en die tipe, gehalte en hoeveelheid weiding wat beskikbaar is.

Om lamvrektes te beperk, moet ooie wat met meerlinge dragtig is, in die laaste twee maande van dragtigheid ongeveer 12 kg tot 15 kg swaarder word. 'n Ooi wat 'n tweeling dra, se voedingsbehoefte is 2,5 keer meer as vir onderhoud, en een wat 'n drieling dra, drie maal meer.

Ooie wat meerlinge dra, moet ses tot agt weke voor hulle lam genoeg deurvloeiproteien vreet om uierontwikkeling te stimuleer, bies en melkproduksie te verhoog en die lewenskragtigheid van lammers te verbeter. Dit sal ook help om geboorteprobleme (geel lammers) en abnormale dik en taai bies te beperk. In proewe met ooie op swak weiding is deurvloeiproteïen bykomend aan hulle verskaf. Dit het daartoe gelei dat vir elke ooi wat gepaar is, die speenlammers se gewig met tot 5,1 kg verhoog het en die daaropvolgende lampersentasie met tot 28.

Met die byvoeding moet ses tot agt weke voor die ooie lam, begin word. Dit geskied teen 300 g per ooi per dag en moet vier weke voor lamtyd tot 400 g per ooi per dag verhoog word.

Om sterk lewenskragtige lammers met geboorte te verseker, benodig die ooie 'n voedingspeil wat 'n matige toename in hul liggaamsgewig en kondisie gedurende die volle duur van dragtigheid kan handhaaf.

In die eerste twee maande nadat hulle gelam het, behoort die ooie nie meer as 10 % van hul gewig te verloor nie. In proewe is bevind dat ooie wat meer as 10 % gewig verloor het, se daaropvolgende lampersentasie tot 25 en in een geval tot 51 laer was.

Om 'n hoë speengewig asook 'n hoë lampersentasie in die volgende seisoen te verseker, moet dieselfde deurvloeiproteiengebaseerde lekke wat gedurende laat dragtigheid gevoer is, ook gedurende vroeë laktasie teen 400 g tot 500 g per ooi per dag gegee word.

Die groei van tweelinglammers word benadeel as hul moeder vir langer as tien dae te min kos kry.

Plaaslike en oorsese waarnemings wys dat die voorsiening van lekblokke gedurende lamtyd minder steurings veroorsaak. Die risiko van ooie wat hul lammers weggooi of van hul lammers geskei word, verminder dus aansienlik.

Bies is die lam se hoofbron van energie en die enigste bron van water en teenliggaampies. 'n Lam wat in die eerste vier uur ná geboorte nie genoeg bies suip nie, se kans op oorlewing word dus dramaties geknou.

'n Lam wat in die eerste vier uur dikwels suip, dui daarop dat die ooi nie genoeg bies produseer nie. Daar moet genoeg bies wees sodat hy hom vol kan suip. Net goeie en korrekte voeding kan dit voorsien.

As die lam nie in die eerste paar uur suip nie, verloor hy die vermoë om die spene te soek en stel die ooi ál minder in hom belang. En as die lam van die ooi geskei raak voordat hy gesuip het, verloor die ooi binne drie uur belangstelling in hom.

Deur dus suinig te wees met ooivoeding, kan dit 'n boer duur te staan kom omdat hy baie lammers om verskeie redes, wat met voeding verband hou, kan verloor. Hy kan ook 'n swak lammer-oes in die volgende seisoen verwag.

6 Augustus 2004