Landbou
Veesiektes (9)
Kruipende gevaar vir wolboere
PAMELA HUNTER

Skaapbrandsiekte word as die grootste bedreiging vir die wolbedryf in Suid-Afrika beskou. Die onomkeerbare beskadiging van die vag en die drastiese effek op die gesondheid van die besmette diere lei tot groot ekonomiese verliese. Omdat wol so 'n belangrike uitvoerproduk is, is verliese vir die bedryf só belangrik dat dit as aanmeldbare siekte verklaar is.

Die sluipende geaardheid van brandsiekte weens die aanvanklike onopsigtelike voorkoms daarvan in die vroeë stadium van besmetting maak dié siekte 'n groot gevaar. Hoewel dit veral vir wolboere 'n gevaar inhou, kan skape van alle ouderdomme en rasse met dié siekte besmet word.

Brandsiektemyte kom ook op bokke voor, maar die diere is nie permanente draers van die myt nie. Hulle is vatbaar vir ander myte wat "bokskurfte" veroorsaak. Dié besmettings word maklik bekamp met dipstowwe wat vir skaapbrandsiekte geskik is.

Die voorkoms van skaapbrandsiekte in Suid-Afrika het toegeneem en kan onder meer aan die volgende faktore toegeskryf word:

  • Skeerders beweeg van plaas tot plaas en pas nie higiëniese praktyke ten opsigte van klere en gereedskap toe nie.
  • Vendusies is ideale plekke vir die verspreiding van skaapbrandsiekte weens die noue kontak tussen groot getalle skape.
  • Die gebruik van dipstowwe wat nie sterk genoeg aangemaak is nie, het gelei tot die ondoeltreffende dip van besmette skape wat later weer besmet word.
  • Die landwye vervoer van groot getalle skape speel beslis 'n rol.
  • Die ekstensiewe toestande waarin skape aangehou word, maak dit moeilik om ál die diere bymekaar te maak en hulle te dip.
  • Die verbod op organofosfaat-dipstowwe deur sekere oorsese wolmarkte.

    Die skaapbrandsiektemyt (Psoroptes communis ovis) is só klein dat dit amper nie met die blote oog raakgesien kan word nie. Die myt is spesifiek 'n skaapparasiet, hoewel dit vir 'n baie kort tyd op die hare van bokke kan oorleef. Dit kan slegs met mikroskopiese ondersoeke onderskei word van ander myte, soos dié wat Australiese jeuksiekte veroorsaak.

    Die myt het 'n geweldige potensiaal vir vermeerdering, want die wyfiemyt kan al op 'n ouderdom van nege dae eiers lê. Die wyfie lê haar eiers op die vel van die skaap en hulle broei twee tot drie dae later uit. Binne drie dae verander die larwes in nimfe. Op die sesde dag is die myte volwasse en kan paring plaasvind. Die lewensiklus word dus binne 11 dae voltooi.

    Die volwasse myt byt deur die vel en voed op die vog wat uitsypel. Die byte veroorsaak ernstige irritasie en inflammasie, en vorm ná vier dae korste. Die letsels vergroot teen 250 mm per maand en die parasiete beweeg dan na die kante van die wond.

    Die mees algemene metode van oordrag is direkte kontak met besmette skape, maar die myte kan vir 'n tydperk van 13 dae op stukkies wol, oorpakke, werktuie, voertuie en in kampe oorleef.

    Die siekte breek gewoonlik in die winter uit wanneer die myte aktief word, maar skape kan tydens die somer onopsigtelik besmet wees. Die myte kruip weg in warm plekke soos die "ou oog", die oksel en die basis van die horing. In vetstertskape kom hulle in die voue van die stert voor.

    Die simptome van skaapbrandsiekte sal dus veral in die winter waargeneem word wanneer die myte aktief word. Besmette skape sal begin krap, na die wol byt en hul vag uitpluk. Die skape verloor gewig as gevolg van aanhoudende irritasie; ramme sal nie ooie dek nie en ooie mag hul lammers weggooi weens die ongemak wat hulle verduur.

    Wanneer hierdie simptome verskyn, moet die diagnose deur middel van mikroskopiese besigtiging van die parasiet deur 'n veearts gedoen word. Dit is belangrik, want soortgelyke simptome kom ook voor met jeuksiekte, sowel as rooiluis- of skaapluisvliegbesmetting.

    Indien die brandsiektemyt geïdentifiseer word, moet die uitbreking by die naaste staatsveearts aangemeld word. Hy of sy sal die plaas onmiddellik onder kwarantyn plaas, met ander woorde geen kleinvee mag na of van die plaas verskuif word nie. Wanneer 'n uitbreking van skaapbrandsiekte verklaar word, moet alle kleinvee op die plaas twee keer met geregistreerde middels behandel word. Dié behandelings moet met 'n tussenpose van 8 dae tot 10 dae gedoen word. Besmette diere kan met 'n dip of 'n inspuiting behandel word.

    Die enigste aanvaarbare metode vir die aanwending van dipstowwe vir skaapbrandsiekte is dompeldip omdat dit die beste benatting gee. Dit moet ook reg gedoen word, anders sal die siekte weer uitbreek.

    Die dipgat moet reg gebou en bestuur word. Die tenk moet diep genoeg wees om die dier heeltemal te bedek.

    Vir min skape is 'n 200 l-drom wat in die grond gesink is, voldoende, maar vir groot troppe moet groter tenke gebou word. Vir duisende skape moet 'n dompeldiptenk 'n kapasiteit van 4 000 l tot 8 000 l hê. Die diptenk moet van 0,7 m tot 1 m wyd wees en van 1 m tot 1,5 m diep. Die hele lengte van die tenk moet toeganklik wees indien 'n probleem sou ontstaan.

    Die tenk moet versigtig gekalibreer word sodat die kapasiteit akkuraat bepaal kan word. Kalibrering kan gedoen word met permanente merke of met 'n merkstok. Aanvulling van die dipstof moet gedoen word omdat die aktiewe bestanddeel uit die water gestroop word. Konstante aanvulling is die doeltreffendste manier van aanvulling. Dit is die aanhoudende inloop van dip uit 'n reservoir in die tenk om die konsentrasie van die dipstof reg te hou.

    Geregistreerde dipstowwe vir skaapbrandsiekte sluit organofosfate (soos diasinon), deltametrien (die enigste piretroïed wat geskik is) en amitras-bevattende dipstowwe in. Laasgenoemde is baie doeltreffend teen skaapbrandsiekte, maar teen 'n hoër konsentrasie as wat vir die bekamping van bosluise gebruik word.

    Alle kleinvee van alle ouderdomsgroepe op 'n besmette plaas moet gedip word. Die diere moet ten minste 60 sekondes in die diptenk wees en hul koppe moet drie keer onder die dipmengsel ingedruk word.

    Daar is sekere mikro-organismes wat in dipvloeistof kan oorleef en wat probleme by skape kan veroorsaak. Die bakterie Erysipelothrix rhusiopathiae word deur skape in hul mis uitgeskei. Die dip word besmet met dié kieme, wat dan deur enige klein velwond kan indring. Die vel word rooi, geswel en soms loop die skape 'n paar dae later mank. Die skape kan met antibiotika behandel word, maar die toestand kan chronies word en kan die skaap se kondisie laat versleg.

    'n Ander bakterie, Dermatophilus congolensis, veroorsaak besmetting van die vel en die gevolglike verkleuring van die vag.

    Die byvoeging van sinksulfaat (ZnSO4) teen 1 kg per 400 l dipmengsel sal die groei van bakterieë onderdruk en mankheid ná die dip en klontwol help voorkom as die dip vir meer as een dag gebruik moet word.

    'n Inspuiting met makrosikliese laktone (ivermektien, moksdektien, ens.) is doeltreffend teen skaapbrandsiekte teen die voorgeskewe dosis en is 'n baie nuttige manier van behandeling. Daar moet sorg gedra word dat alle diere behandel word en die regte dosis ontvang. Die akkuraatheid van outomatiese spuite is dus van kardinale belang.

    Nie alle makrosikliese laktone-produkte is geskik vir gebruik by bokke nie. Hierdie produkte se etikette moet eers nagegaan word voordat dit vir bokke gebruik word.

    Die voorkoming van skaapbrandsiekte is eenvoudig. Dit behels net 'n enkele jaarlikse behandeling van skape deur 'n dip of 'n inspuiting nadat hulle geskeer is. Die gebruik van dipstowwe het die voordeel dat die dip ook vir blou- en rooiluise, skaapluisvlieë en jeuksiekte sal werk. Nuwe skape wat na die plaas toe gebring word, moet twee behandelings kry voordat hulle op die plaas vrygelaat word.

    Dit is raadsaam om besoekende skaapskeerders van oorpakke te voorsien en daarop aan te dring dat higiëne ten opsigte van alle skeerinstrumente toegepas word. Rondloperskape moet uitgehou word deur die plaas se heinings gereeld na te gaan en reg te maak.

  • Navrae: Dr. Pamela Hunter, tel 012 545 0004; e-pos: pamela.hunter@afri vet.co.za.

  • Dr. Hunter is die tegniese bestuurder van Afrivet Business Management.

    13 Augustus 2004