Landbou
Damaras wattel se moses
ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

Damaraskape het al etlike hektaar grond skoongevreet wat deur wattelbome in die Underberg-gebied van KwaZulu-Natal ingeneem is. Nou word spikkel- en appelkolbokke uit Namibië en inheemse Zoeloe-bokke saam met die skape ingespan om die probleem behoorlik hok te slaan.

Wattelindringing is al jare lank in dele van KwaZulu-Natal 'n groot probleem. Dit neem die weiveld in, maak dit onbruikbaar, bied skuilplek vir veediewe en skep 'n jakkalsparadys.

Só ook op mnr. André Truter se plaas, XL, sowat 30 km suid van Underberg. Op 'n nabygeleë plaas is 160 ha van 'n stuk grond van 200 ha só deur wattelbome ingeneem dat dit nie meer vir veeboerdery gebruik kon word nie.

Mnr. Truter, wat 'n veiligheidsonderneming op Underberg bedryf, het die wattelbome op sy grond met onkruiddoders probeer uitroei en dit probeer afkap, maar klokslag het dit die volgende somer weer soos hare op 'n hond gestaan. Toe hoor hy van Damaraskape en besluit dit kan die probleem dalk hokslaan en terselfdertyd 'n lekker stokperdjie wees.

Van die eerste 20 Damaras wat hy gekoop het, het drie aan bloednier gevrek. Die oorblywende 17 het hy laat wei waar die wattelindringing die ergste was. Toe dit duidelik word dat hulle dit vreet, het hy sy planne agtermekaar gekry.

Hy het die wattel afgekap, dit in windrye gegooi en in die winter aan die brand gesteek. Daarna het hy klein kampies gespan. Die hitte van die vuur het baie saad wat in die grond was, die volgende somer laat ontkiem.

Sy bure was skepties en het voorspel dat hy 'n wilde perd opgesaal het wat hy nie maklik sal kan ry nie. Maar die skape het hul kant gebring en die jong wattelbome stelselmatig teruggevreet totdat daar net stompe in die kampies oor was.

Ná 'n jaar het die 17 skape vermeerder tot 46 en omdat die stelsel so goed gewerk het, het hy nog skape gekoop. In sy soektog na goeie teeldiere het hy by mnr. Clinton Collett van Bethulie uitgekom en 32 goeie ou ooie by hom gekoop. Dit was daardie tyd droog daar en die prys het sy sak gepas. Hy het toe 'n goeie ram op die koop toe gekry.

Die skape het gou gewys dat hulle taamlik selfversorgend is. Daarby kon die veediewe hulle nie maklik in die hande kry nie, jakkalse het min skade aangerig en die plaaslike inwoners het graag van die skape op die hoef kom koop.

Toe byt die Damara-gogga ook sy skoonpa, mnr. John Nicholson, 'n afgetrede melkboer wat saam met hom boer, en hy koop ook 200 Damara-ooie by me. Petra Scholtz van Hopetown.

Aanvanklik sukkel die diere wat uit bossieveld kom om op die grasveld aan te pas, want inwendige parasiete is vir hulle onbekend en 'n betreklik groot probleem.

Die nageslag van daardie diere pas egter beter aan en mettertyd is dit nie meer noodsaaklik om hulle te doseer nie. Daarby het hy sy skape nog nooit teen bosluise behandel nie.

Die getal Damaraskape in KwaZulu-Natal neem ook nou toe en daar is deesdae aangepaste diere in die provinsie. Aanvanklik was daar kommer dat hulle nie so goed in die natter klimaat sou vaar nie.

Hy het egter geglo dat dié diere, wat deur Afrika suidwaarts beweeg het, deur moerasgebiede moes gekom het waar hulle oorleef en geproduseer het. Sy aanvoeling was reg en hy glo dat die Damara 'n skaap is wat by enige toestande kan aanpas.

Vandag het hulle sowat 700 diere. Hulle koop net rasegte Damara-ooie en gebruik stoetramme. Dit het ontwikkel in 'n volwaardige skaapboerdery waarin die diere steeds gebruik word om wattelbome te bestry.

Die ramme word van Oktober tot November by die ooie gesit sodat hulle van Maart tot April lam. 'n Tweede opvolgdekseisoen duur van April tot Mei en daardie ooie lam in September en Oktober.

Die lammers wat van Maart tot April aankom, vaar die beste. Dit is omdat die parasietlading dan afneem en hulle sterk is wanneer die parasietdruk weer toeneem.

Die lampersentasie wissel van seisoen tot seisoen. In gunstige jare is daar tot 40 % tweelinglammers en in nat jare, wat moeiliker is, daal dit tot sowat 15 %.

In sy soektog na Damaraskape het hy ook kennis gemaak met Damaraland se appelkol- en skilderbokke. Hoewel die Damaras 'n onderskeid maak, is die twee bokke geneties eenders.

Hy het van die bokke aangeskaf omdat hy glo hulle kan die Damaraskape baie goed aanvul met die wattelbestryding, veral in die winter.

Dié bokke is gesog onder die swart mense van KwaZulu-Natal, is gehard en het uitstekende moedereienskappe.

Terselfdertyd het hy 'n klompie Zoeloe-bokke ook in die hande gekry en die afgelope twee jaar bou hy 'n bokkudde op uit dié inheemse rasse. Hul getalle het tot sowat 50 aangegroei en hy het al van die ramme verkoop.

Truter sê hy is baie in sy skik met die welslae wat hy tot nou toe met die inheemse kleinvee behaal het. Dié diere het beslis sy indringerprobleem hokgeslaan en lewer boonop 'n goeie wins.

Jakkalse kry die oorhand
Een van die groot probleme waar mnr. André Truter in die omgewing van Underberg boer, is dat die jakkalse só vermeerder het dat selfs geharde skape daaronder begin ly. Dit is hoofsaaklik omdat kleinveegetalle afgeneem het en daar nou meer beboste gebiede is waar die probleemdiere kan vermeerder.

Sowat 14 jaar gelede kon 'n mens saans nie dorp toe ry sonder om 'n haas raak te ry nie en het jy uiters selde 'n jakkals in die motorligte gewaar. Vandag sien jy nie meer 'n haas nie en ry jy waarskynlik 'n jakkals dood. Daar is ook nie meer groepe wat jakkalse jag nie, sê Truter.

Die aasvoëlvoerdery op talle plase het deesdae ook eintlik jakkalsrestaurante geword. Dié diere se getalle hou regstreeks verband met die hoeveelheid kos wat in hul loopgebied beskikbaar is. Hoe meer kos, hoe kleiner die loopgebied en hoe meer jakkalse. Sulke voerplekke behoort met jakkalswerende draad omhein te word, meen Truter.

Die jakkalse vang nog nie die groot diere nie, maar hulle kom in troppe. Dit beteken dat 'n ooi nie oral kan keer nie. Lammerooie moet deesdae nader aan die opstal gehou word.

Hy het toe Anatoliese herdershonde aangeskaf. Sedertdien het hy geen skape verloor nie. Hulle help ook om veediewe te verwilder.

10 September 2004