Landbou
Veesiektes (13)
Versorg kalwers
DR. PAMELA HUNTER

Uitstekende bestuur, wat goeie behuising, higiëne en voeding asook gedurige toesighouding insluit, is nodig om kalwers suksesvol groot te maak. Die toepassing hiervan sal die boer baie bespaar ten opsigte van veeartskoste en verliese aan goeie teelmateriaal.

Sodra 'n kalf gebore is, moet die boer sorg dat sy neus oop is sodat die kalf goed kan asemhaal. As daar vloeistof in die longe is, kan die kalf opgetel word en — met die kop na die vloer — sag geskud word.

Biesmelk moet so gou moontlik vir die kalf gegee word as voeding en ter beskerming teen kieme. Beeste se biesmelk bevat teenliggame wat die kalf sal beskerm tot op 'n ouderdom van drie weke tot ses weke, wanneer die kalf sy eie teenliggame begin ontwikkel.

Die kalf moet binne die eerste 24 uur van sy lewe biesmelk ontvang. Dit kan opgedeel word in drie tot vier voedings. Moenie aanneem dat die kalf genoeg bies sal inkry as hy by die koei gelos word nie. Moderne melkkoeie se uiers is nie ideaal vir kalfvoeding nie en die oppasser kan nie bepaal of die kalf genoeg biesmelk gesuip het nie (dit moet 5 % van sy liggaamsgewig per voeding beloop).

As 'n mens die kalf by die koei los, sal die koei 'n band met die kalf ontwikkel en later stres ervaar wanneer die kalf weggeneem word. Die kalf moet dus net nadat die koei gekalf het, van haar af weggeneem word. Maak die kalf droog en sit die kalf op droë beddegoed in 'n plek sonder trekke.

Biesmelk kan in 'n vrieskas opgeberg word, maar moet nooit in baie warm water ontdooi word nie. Die warm water sal die teenliggame beskadig en warm melk sal die kalf brand. Voer biesmelk teen liggaamstemperatuur aan die kalf.

Geen ander voeding moet voor die biesmelk gegee word nie, want dit sal die deurlaatbaarheid van die melkpens vir die teenliggame onderdruk.

Maagwerkings is die algemeenste probleem by melkkalfies. Dit is 'n direkte gevolg van die verkeerde voedingstegnieke of swak melkvervangers. Voer kalwers gereeld en moenie die diere op een slag oorvoer nie. Die ideaal is om die kalf se totale daaglikse inname op te deel in twee voedings wat elkeen 8 % tot 10 % van die kalfie se liggaamsgewig is.

Die melk se temperatuur moet altyd dieselfde wees. Die ideale temperatuur is 37 °C tot 39 °C. Melkvervangers wat van melk gemaak is, is die beste en word aan kalwers van 'n ouderdom van vier dae af gevoer. Melkvervangers bevat gewoonlik minder vet, daarom sal kalfies wat melkvervangers kry, stadiger groei as dié wat melk kry.

Melkvervangers moet streng volgens die vervaardigers se instruksies aangemaak word.

Maak kalwers in afsonderlike hokkies of huisies groot. Dit is meer higiënies en die kalf as 'n individu kan beter gemonitor word.

Kalfies is sensitief vir koue en trekke, sorg dus dat die beddegoed altyd droog is. Swak ventilasie sal probleme veroorsaak omdat ammoniak opbou, synde een van die faktore wat bevorderlik is vir die ontstaan van longontsteking.

Inligting oor kalfbehuisingstelsels kan by landboukolleges of op die webblad van die LNR se Instituut vir Landbou-ingenieurswese gekry word by www.arc.agric.za/institutes/ili/main.

Goeie higiëne moet by grootmaakeenhede toegepas word. Dit sluit die gereelde skoonmaak (die verwydering van mis), die ontsmetting en die droog maak van die hokkies of huisies in. Skoon, droë beddegoed moet verskaf word om die kalfies droog en warm te hou.

Emmers en waterbakke moet deeglik gewas word. Indien bottelvoeding gedoen word, moet bottels en tiete gesteriliseer word met geskikte middels (soos Milton), want 'n gewone was kan nie die bakterieë wat in die hoekies en gaatjies wegkruip, verwyder nie.

  • Navrae: Dr. Pamela Hunter, tel. 012 545 0004; e-pos: pamela.hunter@afrivet.co.za. Dr. Hunter is die tegniese bestuurder van Afrivet Business Management.

    Ken verskille tussen siektes
    Buiten die rol van voeding, is daar besmetlike organismes wat siektes by kalwers kan veroorsaak. Boere moet die verskille tussen die siektes ken sodat hulle die regte bestrydingsmaatreëls kan toepas.

    Kolibasilose is die belangrikste besmetlike oorsaak van maagwerkings en vrektes by pasgebore kalfies (een dag oud tot sewe dae oud). Die oorsaak is die groep dermbakterieë, Escherichia coli, wat amper onmiddellik ná geboorte die kalf sal besmet.

    Sekere E. coli-stamme kan binne die eerste week probleme veroorsaak in die vorm van algemene besmetting of septisemie wat akute vrektes of maagwerkings veroorsaak. Kalfies ontwikkel koors, ontwater vinnig en sal later ophou drink. Wanneer die ontwatering ver vorder, sal die kalfie te swak wees om te drink, nie kan regop kom nie en baie vinnig vrek as die dier nie vinnig met die intraveneuse toediening van elektroliete behandel word nie.

    Primêre E. coli-besmetting kom net in die eerste week van die kalf se lewe voor. Die bestrydingsmaatreël daarteen is om die koei in te ent met 'n geskikte, geregistreerde entstof. Die kalf sal dan deur die biesmelk spesifieke teenliggame teen E. coli inkry. Koeie moet aanvanklik twee inentings kry en daarna elke jaar 'n skraagdosis vier weke voor kalftyd ten einde optimale teenliggaamvlakke te handhaaf.

    Paratifus of salmonellose kom gewoonlik voor in ouer kalfies wat vier tot ses weke oud is. Dit kan vinnige vrektes of maagwerkings veroorsaak. Die maagwerkings kan soms bloederig wees. Voorkoming word gedoen deur die kalfies op 'n ouderdom van 14 dae met 'n lewende entsof in te ent.

    Diarree by jong kalwers word ook veroorsaak deur virusse, soos rota en corona, wat wydverspreid by beeste in Suid-Afrika voorkom. Diarree kom gewoonlik voor wanneer higiëne van die kalfbehuising swak is, want dit lei tot die opbou van hierdie organismes. Voedingstres sal hiertoe bydra. Die tipe diarree kan met goeie voedingspraktyke en higiëne bekamp word.

    Koksidiose kan kalwers van drie weke tot ses maande besmet. Chroniese en waterige tot bloederige diarree sal voorkom en die kalf sal agteruitgaan. Spesifieke behandeling met antikoksidia-middels is nodig om die probleem op te los.

    Sodra kalfies ophou drink en diarree het, moet hulle dadelik voedingstowwe inkry. Ontwaterde kalfies se velle beweeg stadig terug wanneer die vel getrek word. Later word die oë gesonke en uiteindelik kan hulle nie opstaan nie. Kalfies wat lig aangetas is, moet elektroliete per mond kry, maar meer ernstig aangetaste diere sal deur 'n veearts behandel moet word. Spesifieke antibiotiese behandeling sal nodig wees vir paratifus of koksidiose.

    Die voorkoming van kalfdiarree moet fokus op die toediening van biesmelk, die regte voedingspraktyke en die gebruik melkprodukte van goeie gehalte. Vir die voorkoming van E. coli-besmetting moet koeie ingeënt word. Paratifus-inenting moet op die ouderdom van 7 tot 14 dae aan kalfies gegee word. Laktobasillus-bevattende produkte of produkte met bakteriese suikers wat die aanhegting van bakterieë voorkom, kan ter voorkoming aan die diere gevoer word.

    Voorkom longkwale
    Longonsteking is op een na die gevaarlikste siekte by melkkalwers. Dit kom gewoonlik op die ouderdom van 40 dae tot 50 dae voor. In hierdie tydperk begin die teenliggame wat van die biesmelk verkry is, daal, en die kalf is vatbaar vir die organismes wat longsiektes kan veroorsaak.

    Daar is 'n wye reeks organismes, soos Parainflenza 3, virusdiarree by beeste, die aansteeklike rinotrageïtis-virus by beeste, die respiratoriese sinsitiale virus en Pasteurella haemolytica, wat longontsteking kan veroorsaak. Veral kalfies wat in behuising met swak ventilasie en swak higiëne, of met 'n hoë humiditeit gehou word, ontwikkel longprobleme.

    Ander faktore, soos die speen van kalwers voor hulle genoeg vaste stowwe inneem, die meng met ander kalwers en voedingsprobleme (oorvoeding) kan probleme veroorsaak.

    Simptome van kalfies met longontsteking is neusuitloopsel wat eers waterig en later etterig word, 'n droë hoes, koors, moeilike asemhaling (met 'n oop bek) en soms maagwerkings. Die gevalle is gewoonlik akuut. As die kalfie ná behandeling oorleef, kan die toestand chronies word. Sulke kalfies sal aanhou om swak te groei en sal nooit goeie vervangingsverse wees nie.

    Siek kalfies moet onmiddellik in droë, sonnige, goed geventileerde plekke gesit word en moet so gou moontlik met geskikte antibiotika behandel word. In gevorderde gevalle mag die toediening van vloeistof nodig wees.

    Longontsteking kan voorkom word met geïnaktiveerde kombinasie-entstowwe wat respiratoriese organismes insluit. Die kalwers moet op 35 dae en weer op 60 dae daarmee ingeënt word.

    Die inentings sal net van nut wees as faktore uitgeskakel word wat longontsteking aanhelp.

    10 September 2004