Doelgerigte seleksie vir vrugbaarheid, volgehoue navorsing, spanwerk en 'n begeerte om net teeldiere van die beste gehalte aan sy mede-boere te bied, is die belangrikste bestanddele in die wenresep van die Dohne-Merino-telersgenootskap se Teler van die Jaar.
Noukeurige, vergelykende boereproewe, harde werk en 'n besonderse sameloop van omstandighede het die Swarco-Dohne-Merino-stoetery op Swartrivier, buite Caledon, vanuit die staanspoor op die wenpad geplaas.
In die laat 1970's het mnr. Michael Swart, die Dohne-Merino-telersgenootskap van Suid-Afrika se Dohne-Merinoteler van die Jaar 2004, begin om parallel met sy Merinokudde ook met Dohne-Merino's te boer. Met kenmerkende deeglike boekhouding en plaasnavorsing kon Swart bewys dat Dohnes eenvoudig beter vaar. "Dit was duidelik dat die Dohnes die veld in ons omgewing beter benut as Merino's. Hul lampersentasie en ons inkomste was hoër. By die wol het ons nie 'n noemenswaardige verskil in inkomste gekry nie."
Kort nadat Swart in die begin 1990's besluit het om na Dohne's oor te skakel, is drie van Suid-Afrika se beste Dohne-stoeterye een na die ander te koop aangebied. In Augustus 1991 het Swart die Drostersnes-stoetery van mnr. Willie Louw van Malmesbury gekoop, in Februarie 1992 die Lighuis-stoetery van mnr. André van der Merwe van Humansdorp, en in Oktober 1992 het hy die Jacnic-stoetery van mnr. Nikola van der Westhuizen van Jakkalsdans, Loxton, verkry.
Al het hy met van die beste teelmateriaal in die land begin, het Swart geen steen onaangeroer gelaat om sy stoetery te verbeter en eienskappe te verfyn nie. Deur volgehoue seleksie van top-diere uit die stoetery, die koop van 'n uitstekende ram van die Schoongezicht-stoetery, en embrio-oorplasings en laparoskopieë met semen van die beste beskikbare meriete-ramme, het die Swarco-stoetery in 'n kort tydjie só gevorder dat hy die afgelope vyf jaar grootliks staatmaak op ramme uit sy eie stoetery. "Swarco se ramme staan nie terug vir enige ander nie, en ons roem daarop dat die wolgehalte, gehardheid, vrugbaarheid en aanpasbaarheid van ons ramme nie maklik geklop word nie."
Net die beste teelmateriaal (tabel 1) behoort oorweeg te word wanneer beoog word om 'n stoetery te begin, sê Swart, wat die stoetteel- en boerderybeginsels op Swartrivier, én redes vir die boerdery se welslae, soos volg opsom:
Benewens die Swarco-stoetery van 700 ooie, het Swart ook 'n kommersiële kudde van sowat 2 000 ooie. Die plaas Swartrivier beslaan sowat 3 000 ha, waarvan 1 700 ha berg en veld is en die orige 1 300 ha gelykop verdeel is tussen saaigrond en peulplantweidings. Die kudde maak sowat twee derdes van die boerdery uit en die stoetery 'n derde, maar die inkomsteverdeling is omtrent gelyk.
Die stoetooie word in twee groepe gepaar en lam in Januarie en September. Dit is ook wanneer die streng seleksieproses begin. Stoetlammers word net ná geboorte vir afwykings ondersoek. Alle prulfoute word aangeteken. Op 100 dae word die lammers geweeg, gepunt en geskeer. Alle jong diere en prulle word vir 'n jaar gehou. Die aantekeninge wat met lamtyd gemaak is, word vir verwysing gehou, sê mnr. Japie Hamman, stoeterybestuurder. Sowat 100 ramme word uiteindelik vir veilings uitgehou.
Op 12 maande vind hand- en oogseleksie plaas, waarna wolmonsters van die hele groep geneem word. Die hele groep, prulle ingesluit, word geskeer en vagte en diere geweeg. Dié inligting word vir amptelike prestasietoetsing na die Woltoetsburo in Port Elizabeth gestuur. Daarna word pruldiere bemark.
Ooie word volgens die ooikaarte op die rekenaar geprul. "Omdat ons so streng is met ons keuring, is ons ooikaarte baie betroubaar," sê Swart. Hulle is ook baie trots op hul ooie se reproduksiesyfer van tot 150 %. Op vanjaar se veiling was meer as 'n driekwart van die ramme meerlinge (3 drielinge, 52 tweelinge).
Hoewel die Swarco-stoetery met groot welslae aan veilings op Mosselbaai en Caledon deelneem, is hul jaarlikse veiling in Mei 'n belangrike datum op die Wes-Kaapse landboukalender en by uitstek 'n vertoonvenster vir die boerdery.
Dié veiling stel besonder hoë standaarde en is die hoogtepunt van Swartrivier se boerderyjaar, sê Swart, wat veral vol lof is vir die bestuursbydrae wat Hamman lewer.
Hulle verkoop die meeste van hul stoetdiere op dié veiling omdat hulle jaar ná jaar goeie gemiddelde pryse (tabel 2) in hul eie omgewing behaal. Boonop is dit 'n geleentheid om die ras te bevorder en iets aan hul kopers terug te gee.
Om gehalte te handhaaf en te verseker dat net die beste ramme in die stoetery bly en op veilings verkoop word, inspekteer Swart en Hamman gereeld die ramme met die hulp van konsultante. Dit is veral mnre. Cameron McMaster, Dohne-deskundige en vorige bestuurder van die Dohne-Merino-telersgenootskap, en Johan de Wet, Cape Mohair & Wool se veldbeampte, wat hulle help om klein foute uit te wys en regstellings te doen. Die onlangse afsterwe van mnr. Coen Barnard, wat van die begin af hul stoeteryraadgewer was, laat volgens Swart 'n groot leemte.
Saam met elke dier wat die Swarco-stoetery verkoop, gee Swart en sy span 'n magdom inligting en 'n waarborg, naamlik dat al die diere siektevry, fiks en vrugbaar is. Trouens, Swart is al gekritiseer dat hy voornemende kopers te veel inligting gee, maar hy meen as 'n koper bereid is om R18 000 vir 'n ram te betaal, is hy geregtig op alle tersaaklike inligting.
Daarom toets 'n veearts ses weke voor die veiling die ramme vir vrugbaarheid én dekbehendigheid. Laasgenoemde Is, volgens Swart, uiters belangrik, maar raar in die plaaslike veilingsomgewing.
"Boere kan ons ramme reguit van die veiling af by die ooie sit en hulle sal hul werk doen omdat hulle gereeld geoefen word."
Vir drie maande voor die veiling word veilingramme snags onderdak aangehou. Bedags loop hulle buite in die veld en bly fiks op die klipperige grond, wat help om kloue en pote te versterk.
'n Verdere diens wat Swart aan voornemende kopers lewer en waaroor hy baie sterk voel, is om nie net mikronwaardes soos dit op 12 maande gemeet is, op die veilingskatalogus aan te dui nie, maar ook dié waardes kort voor die veiling te laat meet en by die veilingskraal beskikbaar te stel.
"Sekere ramme se mikronwaardes kan met tot 'n mikron en 'n half van 12 maande tot veilingsouderdom versterk. Al manier om dít teen te werk, is om die mikronwaardes op veilingsouderdom weer te meet. Ons glo boere moet daarop begin aandring." Swart sê hulle laat al om die ander jaar al hul groot skape se veseldikte deur die Woltoetsburo toets.
Hulle hou streng by die dieregesondheidsprogram wat drr. Ian Herbst en Oubaas Retief van Caledon opgestel het, maar volg tog 'n holistiese bestuursbenadering. "Ian sê altyd ons kopers is ook sy kliënte, so hy kan allermins bekostig dat óns kortpaaie volg met dieregesondheid. Tog is ons versigtig vir te veel doseermiddels, maar ons waag nie kanse met ons lammers nie."
Swart sê hulle selekteer hul diere in die veld en maak seker dat skape wat vatbaar is vir inwendige parasiete of wurms, geprul, en ooie wat moeilik lam, uitgeskot word.
Omdat sekere veemedisyne vantevore onbevredigend gewerk het, doen hulle nou met die samewerking van kundiges hul eie navorsing oor weerstand.
Lammers word vir die eerste keer op ses en agt weke gedoseer en daarna elke vier weke. Hulle sorg ook dat daar te alle tye vir die lammers kos beskikbaar is. Jong skape kry op 100 dae langwerkende pille, wat volgens Swart wel duurder is, maar beter beskerming verleen.
Ouer skape word op vasgestelde tye, byvoorbeeld voor paar- en lamtyd, gedoseer. Dosering word aan die hand van mismonsters en eiertellings deur die veearts gedoen.
Swart sê soms dink hy die veeartskoste is te hoog, maar ná elke geslaagde veiling en verkoopstransaksie met tevrede kopers besef hy dat die waarborg en versekering wat hy aan sy kopers kan gee en die gemoedsrus wat die dieregesondheidsprogram hom gee, dubbel die geld werd is.
'n Lampersentasie vir die stoetery en kudde van 138 en 'n speenpersentasie van 115 word ten spyte van groot verliese weens ongediertes gehandhaaf. Lammers uit die kommersiële kudde word as slaglammers op drie en 'n half tot vier maande verkoop.
Die kommersiële ooie se wolproduksie wissel van 5 kg tot 6,5 kg. Die kudde se gemiddelde wolproduksie oor die afgelope drie jaar was 5 kg en die gemiddelde veseldikte 20,1 mikron. Om drie skeersels oor twee jaar te kry, probeer hulle om die stoetvee op A-lengte te skeer. Die gemiddelde veseldikte vir die stoetvee is 20,3 mikron.
Swart sê hy is vol vertroue dat die wolmark weer gaan herstel. Daarom meen hy dat 'n stoetteler nie van sy teelbeleid moet afwyk nie, maar hom moet bepaal by die doel waarvoor die skaap geteel is. "Jong boere moenie op hol raak oor mikrons nie. Dit help nie om vandag fynwol te teel en môre sterkwol nie. Stel vas wat jou die mees ekonomiese resultaat gee en hou daarby."
3 Desember 2004