Plase wat 'n halfeeu gelede net as weiding beskikbaar was omdat daar geen water was nie, is deur vasbyter-boere ontwikkel in 'n wildparadys waar jagters tou staan om 'n skietkans te kry.
Op Omuramba en Finale in die noordooste van Namibië loop trofeediere wat jagters uit die buiteland lok. Dit was nie altyd só nie. Meer as 50 jaar gelede het twee neefs onder 'n sinkskuiling die plase begin ontwikkel toe selfs die regering skepties was oor die lewensvatbaarheid van boerdery daar.
Dis Dorslandtrek-wêreld waar die Koekemoers 'n lewensruimte uitgeswoeg en -gesweet het. Vandag word die onderneming steeds uitgebou en waarde met welslae toegevoeg namate geleenthede hulle voordoen.
Mnr. Gert Koekemoer vertel hoe sy pa, Gert sr., en dié se neef Koos Koekemoer in 1951 met 'n paar beeste en bokke op dié plase by Epokuro, noord van Gobabis, in Namibië ingetrek het.
Die regering het destyds daar water gesoek en niks gekry nie. Die hele plek het oop gelê. Toe doen die twee neefs aansoek om twee eenhede. Hulle mog dit as weigrond benut en as hulle water gekry het, kon hulle dit koop, was die antwoord.
Die pype, boorgereedskap en alles wat hulle nodig gehad het, moes met perdekarre van Okahandja aangery word, 'n tog van twee weke daarheen en twee weke terug.
Geld was min, maar moed baie. Die eerste gat het hulle tot op 78 meter (256 voet) geboor, en toe raak neef Koos se moed ook op, want dit was nie maklik nie. Hulle het in 'n sinkskuiling gebly. Maar pa Gert het daarop aangedring dat hulle nóg 'n meter of wat moet boor. Sowat 'n halfmeter dieper kry hulle toe die eerste water op die plaas Gelukwater.
Daar is die eerste dam gebou om vir die vee water te gee. Mettertyd is nog gate geboor en vandag is daar 43 standhoudende boorgate wat gebruik word.
Daar is ook 102 droë boorgate.
In die beginjare is Rooi Poenskop-kruistipe koeie geselekteer wat só goed melk gegee het dat sy pa 'n melkery met 100 koeie kon bedryf en room wegstuur, wat die kontantvloei goed aan die gang gekry het.
Maar in 1961 het 'n ramp hulle getref toe bek-en-klou-seer uitbreek. Omdat hulle net agter die rooilyn is, is die beweging van vee, vleis en melk stopgesit. En in 1964 tref 'n groot droogte hulle en 60 % van die vee moes verkoop word. Twee dae ná die verkoping het 50 mm reën geval.
Dié terugslae het hulle oorleef en om die kwesbaarheid van die boerdery te verminder is die melkery kleiner gemaak en stelselmatig oorgeskakel na 'n speenkalfstelsel.
In 1968 koop hy drie Brahmanbulle by mnr. Jurgen Cranz in die Khomas Hochland wat met 'n vragmotor aangery en die laaste 90 km te perd aangejaag is plaas toe.
In 1975 het Gert plaas toe gekom en twee jaar later die plaas Finale by sy pa gekoop en met 100 koeie begin boer. Omtrent dieselfde tyd het sy pa 'n paar elande in 'n wildkamp van 100 ha begin aanhou.
Dit was ook die begin van die benutting van wild wat natuurlik daar voorkom. Die eerste biltongjagters wat daardie jare kom skiet het, het vir 25 jaar daarna elke jaar daarheen gekom. Hulle het die nuus versprei en namate die wildgetalle gegroei en die jagbedryf uitgebrei het, het ál meer jagters gekom en elke jaar was hulle vol bespreek sonder dat geadverteer is. Die afgelope jagseisoen was daar 'n waglys van tien groepe.
In 1977 is hy met Alta getroud en het hulle die jagtery oorgeneem, huisvesting vir tien mense by hul plaasopstal aangebou en in 1990 het hulle trofeejagte begin aanbied.
Wild wat natuurlik voorkom en wat hy mettertyd gekoop en hervestig het, word in drie wildkampe van 1 000 ha elk aangehou. Daar is elande, rooibokke, koedoes, blouwildebeeste, kameelperde, gemsbokke, sebras, hartbeeste, swartwildebeeste, waterbokke, jagluiperds, springbokke, blesbokke, vlakvarke, duikers en steenbokke.
Dit het die jagbedryf uitgebrei deurdat oorsese jagters trofeediere kom skiet en plaaslike jagters die uitskotwild (diere wat nie trofeë dra nie sowel as oortollige vroulike diere) vir biltong kom jag.
Drie groepe jagters kan gelyktydig jag. Die trofeejagte duur gewoonlik van 8 tot 14 dae. Die oorsese jagters, hoofsaaklik van Pole en Hongarye, word op die lughawe ontmoet en weer daarheen teruggebring.
Om verder waarde tot die trofeejagte toe te voeg, het hy en sy dogter Anthea hulself as beroepsjagters bekwaam om die jagters te vergesel. As daar drie groepe tegelyk jag, help 'n private beroepsjagter, mnr. Boeta van Heerden, ook.
Van die buitelandse jagters kom herhaaldelik en bring ook hul gesin saam wat die behoefte aan toere na besienswaardighede laat ontstaan het, wat nog 'n geleentheid vir waardetoevoeging geskep het.
"Die taal is 'n groot probleem. Ons beduie met hande, tande, voete en op enige ander moontlike manier om mekaar te verstaan. Deur die jare het ons geleer om op 'n manier te kommunikeer.
"Die mense verkies gevolglik om eerder saam met ons die besienswaardighede te besoek as saam met vreemdes wat hulle glad nie verstaan nie," sê Koekemoer.
Hulle bied nou toere met mikrobusse aan, ook vir binnelandse jagters. "Die groep jag eers klaar en dan, terwyl ons personeel die trofeë verwerk, bring ons hulle na die Waterberg-natuurreservaat, Etosha-wildtuin en vat ons hulle ook Hentiesbaai toe waar hulle die kans kry om 'n haai te vang, dit te merk en weer los te laat, wat nogal iets besonders is vir die besoekers.
Die jongste toevoeging is 'n toer na die suide van Namibië waar hulle die Visrivier-afgrond, Sesriem en Sossusvlei en die Hardap-natuurreservaat besoek. Toere word ook op spesiale versoek gereël. En vanjaar word 'n toer na die Victoria-waterval beplan waar die besoekers tiervis kan vang.
Die Koekemoers boer op 26 000 ha grond waarop verskeie wildsoorte natuurlik voorkom. Veral koedoes aard nie goed in die wildkampe nie en hulle word op die plaas gejag.
Die wildgetalle het nou só aangegroei dat jaarliks minstens 30 elande, 30 rooibokke en 'n groot aantal koedoes, veral koeie, uitgeskiet moet word.
Die ou bulle en ramme word uitgeskiet en dan vervang met spesifieke diere wat gekoop is. Sulke bulle en ramme word gemerk en in die wildkampe vrygelaat om nuwe bloed in te bring. Die vordering om diere met 'n beter bouvorm en groter trofeë te teel, word dopgehou.
Daarby word die reënval ook elke jaar fyn dopgehou. Die gemiddelde is sowat 378 mm per jaar. As die reën skraps is, word meer wild uitgeskiet om te verseker dat die res goed oorleef.
Augustus, September en Oktober is gewoonlik die krisismaande. In die winter voor dié tyd help biltongjagters om die regte hoeveelheid en veral ou diere wat in die swaar tyd gaan maer word, uit te haal. Diere wat dan al maer is, word vir rantsoene op die plaas gebruik.
Die wild word baie oordeelkundig uitgeskiet om te verseker dat net die regte teeldiere oorbly. Die bokke wat geskiet mag word, word aan die jagters uitgewys. Dis hier waar die taalprobleem soms lol. Teen die tyd wat die prentjie klaar in die sand geteken is, staan die bokke nie meer op dieselfde plek nie en moet oor beduie word.
Die wild kry deur die jaar 'n lek in blokvorm. 'n Spesiale winterlek word vir die diere gemeng. Van begin Augustus af word kameeldoringpeule, turksvyblaaie en tsammas daagliks vir die wild uitgesit.
Koekemoer sê die aanwas van die wild hang nou saam met die bestuur. As daar te veel bulle of ramme in die troppe is, kom daar minder kalwers en lammers aan. As die bestuur reg is, behoort die aanwaspersentasie van 50 tot 60 te wees.
By koedoes behoort daar van vyf tot nege koeie per bul te wees en by elande van 15 tot 20 koeie per bul.
Die Koekemoers sê die geheim van hul welslae is om sulke diens te lewer en dit só 'n onvergeetlike ondervinding te maak dat besoekers weer terugkom. Die mense moet deurgaans voel hulle kry waarde vir die geld wat hulle betaal.
Met biltongjag kan 'n mens nie baie geld maak nie. Dit gaan meer oor vriendskappe wat gesluit word en die feit dat dié jagters dit vir jou makliker maak om jou wildkudde doeltreffend te bestuur sonder dat dit jou baie geld kos.
Afgesien van die wildboerdery word 'n vleisbeesboerdery op sowat 22 000 ha bedryf. Hoofsaaklik Brahmantipe koeie word saam met Simmentaler-, Bonsmara- en Santa Gertrudisbulle gebruik.
22 April 2005