Die Wildboer van die Jaar het 'n wegbreekplek in die bos - waar hy net sy stres wou gaan afskud - binne 'n paar jaar met skaars wildsoorte in 'n sterk, selfstandige sake-eenheid omgeskep.
Aangesien hy só lief is vir die natuur en 'n behoefte gehad het aan 'n plek waar hy kon gaan ontlaai van die spanning wat 'n landwye sake-onderneming meebring, het mnr. Jacques Malan 'n plaas aan die voet van Rooiberg, wes van Bela-Bela in Limpopo, gekoop.
Die plaas is lekker naby aan Pretoria, maar tog genoeg in die bos om van al die spanning te vergeet. Malan bedryf die plantonderneming Malanseuns en die Plantland-ondernemings in Pretoria en hy het sowat 1 000 mense in diens.
Hy het die plaas met wildwering omhein en die eerste wild afgelaai kameelperde en swartwitpense. Aanvanklik het hy geprobeer om so 'n ietsie van als aan te hou en só min of meer sy eie wildtuintjie tot stand te bring.
Dit was gou duidelik dat dit 'n duur stokperdjie was en dat wild met 'n hoë waarde net soveel vreet as die gewone bokke, maar dat hulle aansienlik meer geld inbring as daar verkoop moet word. Hoe duurder die wild, hoe meer ekonomies is dit om met hulle te boer mits hulle in die gebied aanpas.
Dié verandering was so geslaag dat hy vanjaar aangewys is as die Wildboer van die Jaar van die Noordelike Wildboerorganisasie.
Sedert Malan met die verandering begin het, word die meer algemene soorte wild jaarliks verminder om ruimte te laat om meer van die skaars wild aan te hou. Die oogmerk is om soveel wild moontlik lewend te verkoop.
Met die jaarlikse verkope van tussen 300 en 400 stuks wild word die elande byvoorbeeld minder gemaak om plek te maak vir Livingstone- ;elande, blouwildebeeste word verminder en goudkleurige blouwildebeeste word meer, ensovoorts.
Die verskillende soorte wild word grootliks eenders bestuur en die mikpunt is om hulle so naby as moontlik in natuurlike toestande aan te hou sodat kopers wild kry wat vir hulself kan sorg en maklik kan aanpas.
Die skaars wild loop egter in kampe van nagenoeg 100 hektaar sodat hulle beter bestuur kan word. Hul kleintjies word sodoende ook teen roofdiere beskerm, aangesien luiperds, rooikatte en jakkalse 'n probleem is. In die winter kry die skaars wild byvoeding.
Die doel van die byvoeding in die winter (lusern en mielies wat in water geweek is) is om hul kondisie in stand te hou ten einde 'n goeie lam en kalfpersentasie te verseker.
Dié byvoeding van sowat 500 gram per groot dier per dag word net in die winter in bomas gegee. Die bomas is só ontwerp dat die diere deur 'n nou gangetjie moet loop waar hulle 'n spuit aftrap wat hulle met 'n dipmiddel bespuit teen uitwendige parasiete.
Die bomas is van garingboompale gebou, met 'n "venster" sodat 'n mens van buite af kan deursien sonder dat die wild 'n mens maklik opmerk. Dit vergemaklik bestuur.
Om veral die lammers en kalwers van die skaars wild teen roofdiere te beskerm, is verseker dat daar aanvanklik geen roofdiere in die kampe was nie. Daarna moes hulle verhoed dat vlakvarke gate onder die heinings deur grawe waardeur roofdiere toegang kan kry. Nadat die wildwerende heinings om die kampe gespan is, is sifdraad aan die buitekant gespan. Dié sifdraad is teen 90 grade gebuig. Die een deel van 0,5 meter is plat op die grond met penne vasgeslaan en die opgebuigde deel van 1,3 meter is aan die wildwerende heining vasgebind (sien die foto hiernaas).
Daarna is vier elektriese drade aan die buitekant aangebring, een net bokant die platgespande sifdraad op die grond, nog twee teenoor die regop sy van die sifdraad en een bo aan die heining om te voorkom dat luiperds en rooikatte oor die heining spring.
Malan sê hy het goeie bure, maar hulle boer met toeriste en roofdiere is daar 'n aanwins, terwyl hy die roofdiere uit sy wildkampe moet hou. Vanghokke word op die res van die plaas gebruik om roofdiere te vang.
Om goeie weiding te verseker, word 'n meganiese en chemiese ontbossingsprogram saam met 'n veldbrand-program gevolg om 'n goeie stand gras te verseker. Met die brandprogram word jong indringerbosse doodgebrand. Terselfdertyd word die dekgrasgedeeltes op dié manier benutbaar gemaak omdat die diere dit graag vreet wanneer dit ná 'n brand uitgroei.
Sowat 'n kwart van die plaas word elke jaar gebrand in 'n rotasiestelsel wat aangepas word by die reënval. In goeie jare word meer gebrand en in droogtetye minder.
Die vyf kampe waarin die skaars wild aangehou word, is spesiaal aangelê op plekke waar die betrokke diere die beste aard en hulle gevolglik die vinnigste sal aanteel.
Malan het besluit om die kampe sowat 100 ha groot te maak omdat dit by sy bestuurstyl pas. Die diere is ook maklik beheerbaar vir sy personeel van tien mense onder die leiding van die bestuurder, mnr. Josiah Motshai.
Die voordeel van dié semi-intensiewe stelsel is dat hy die beste diere maklik kan selekteer vir teeltvordering. Die diere loop in natuurlike toestande en hy kan die diere met vrymoedigheid aan ander wildboere aanbied.
Malan sien homself as 'n stoetboer en hy bied uitstekende teelbulle aan wat ander boere met vrug kan gebruik. Van tyd tot tyd bring hy nuwe diere in, wat sy kudde verder kan verbeter.
Daarvoor is die bomas baie gerieflik omdat die diere daar gaan water drink en hulle gereeld ondersoek kan word. Die bomas is sowat 70 meter by 70 meter groot en diere kan daar verdoof word amper sonder dat die res van die trop dit agterkom.
In elk van die vyf kampe loop 'n maksimum van onderskeidelik sowat 35 swartwitpense, 35 bastergemsbokke, 30 goudkleurige blouwildebeeste en 200 swart rooibokke. Die 24 siektevrye buffels word in 'n kamp van 250 ha aangehou.
Dat dié stelsel slaag, word weerspieël deur die feit dat die gemiddelde kalf- en lampersentasie die afgelope vier jaar tussen 80 en 100 vir die verskillende wildsoorte is en dat ál die kleintjies wat aankom, gespeen word.
Daarby word die belading streng gemonitor om 'n goeie stand gras en genoeg kos vir die blaarvreters te verseker. Daarvoor gebruik Malan 'n rekenaarprogram van prof. Piet du Plessis om die regte verhouding gras en blaarvreters aan te hou. Hy gebruik 'n helikopter om die wild gereeld te inspekteer, te tel en te vang.
Mettertyd het Malan nóg plase bygekoop. Vandag boer hy op 4 500 hektaar, waarop daar 'n netwerk van goed beplande paaie is. Dié netwerk maak die brandprogram en die bestryding van onbeplande brande maklik en maak van wildkyk 'n plesier.
Die plase waarop hy boer, was oorspronklik drie plase wat afsonderlik met wildwerende heinings toegespan is en waarvan die binneheinings verwyder is. Dit word vandag net so bedryf, maar die hekke tussen die plase is normaalweg oop sodat die wild vrylik kan beweeg. Die hekke kan maklik toegemaak word om bestuur te vergemaklik, veral tydens vang- en jagtyd.
'n Groot wildvangkompleks is só opgerig dat dit die drie plase saam kan bedien, met tregterheinings wat met seile aangevul kan word. Die wildvangkompleks is baie netjies van afvalmateriaal gebou en baie deeglik beplan.
Die tregters voer die wild in die eerste groot hok in. In dié hok is daar drade booor gespan, waaraan takke gehang word. Dit skep die indruk van 'n bos, wat vir die wild na 'n veilige skuilplek lyk.
Uit die hok word die bokke in 'n volgende sirkelvormige hok met 'n stellasiestruktuur ingedruk, waarop 'n mens kan staan. Daar is ook openinge waardeur die bokke met 'n spesiaal ontwerpte paalspuit ingespuit kan word.
Vanuit die hok loop 'n gang in 'n halfmaan sodat die bokke nie die einde van die gang kan sien en hulle nie vassteek nie. Uit die gang loop daar verskeie hekke wat skuins in die gang in oopmaak sodat die bokke in houhokke inhardloop.
Ál die swaaihekke in die kompleks is effens skeef gehang sodat dit outomaties toeswaai as dit gelos word. Verskeie skuifhekke wat op rollers loop, word ook gebruik. Ál die hekke kan van 'n loopbrug af of van die grond af beheer word.
Malan sê hy vang al die wild self en verkoop dit uit die hand, of op die jaarlikse veiling van die Noordelike Wildboerorganisasie.
Die plaas word as 'n afsonderlike sake-eenheid bedryf. As die koopprys van die grond en die koste van die infrastruktuur buite rekening gelaat word, maak dit al 'n beduidende wins.
As die koste wél bereken word, het die plaas die potensiaal om die bogenoemde onkoste vinnig te betaal. Met die skaars wild is die duur stokperdjie nou verander in 'n selfstandige onderneming met 'n uitstekende winspotensiaal.
Malan is nou betrokke by die georganiseerde wildboerderybedryf omdat die voortbestaan van dié onderneming vir hom baie belangrik is. Sy betrokkenheid is vir hom belangrik, want hy en ander wildboere het baie geld in die bedryf belê en dié beleggings moet beskerm word.
Hy glo die bedryf se toekoms is rooskleurig, veral met die insig wat die nuwe Minister van Omgewingsake, mnr. Marthinus van Schalkwyk, hieroor het.
27 Mei 2005