Landbou
Kalwers laat die rande inrol
ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

Reproduksie is vyf keer belangriker as groei en tien keer meer werd as karkaseienskappe.

'n Goeie kalfpersentasie laat nie net die rande inrol vir 'n beesboer nie, maar maak dit ook vir hom moontlik om met sterker seleksiedruk die vrugbaarder verse as vervangingsdiere in sy kudde op te neem.

In reproduksiebestuur vir 'n hoër wins moet boere kyk na die basiese beginsels en dit deurdag saam met nuwe tegnologie gebruik, sê mnr. Leslie Bergh, hoof van die Nasionale Vleisbeesverbeteringskema van die Landbounavorsingsraad op Irene.

Die doelwit met reproduksiebestuur is om die natuurlike hulpbronne optimaal te benut om die maksimum gewig top-slagdiere en/of teeldiere in 'n toepaslike produksiestelsel op so 'n manier te produseer dat dit die hoogste moontlike wins per hektaar op die lange duur sal verseker.

Dit beteken om die optimale aantal en gewig speenkalwers per 100 koeie teen die laagste moontlike koste per boerderyeenheid te produseer en hulle teen die regte gewig met die beste karkassamestelling so ekonomies en so gou as moontlik ná speen te bemark. Hiervoor is doeltreffende bestuur nodig en goeie boekhouding vorm die basis van doeltreffende bestuur, want as jy nie weet waar jy is nie, hoe weet jy waarheen jy op pad is?

Maar om die bogenoemde mikpunt te bereik, is naas minimum prestasiestandaarde goeie bestuur noodsaaklik. Ten opsigte van kalfpersentasie, is die riglyn dat die kuddegemiddelde minstens 80 % moet wees, vir verse minstens 90 %, vir eerstekalfkoeie minstens 70 %, vir tweedekalfkoeie minstens 75 % en vir volwasse koeie minstens 80 %, sê Bergh.

Verse moet op die ouderdom van 36 maande of jonger die eerste keer kalf. Wanneer hulle bul toe gaan (24 maande) moet hulle minstens 65 % van die volwasse koeie se gewig hê, teen die einde van die dektyd minstens 85 % en net voor sy kalf 90 %.

Die gewig en kondisie van die verse is belangriker as die ouderdom waarop verse die eerste keer gedek word. 'n Kondisiepunt van 3 tot 3,5 is nodig op 'n skaal van 1 tot 5. Verder behoort die dektyd hoogstens 90 dae te wees. Waar kunsmatige inseminasie (KI) gebruik word, moet minstens 60 % koeie dragtig wees wat in die eerste derde van die dektyd kunsmatig geïnsemineer is.

Kalfvrektes tot met speentyd moet onder 3 % wees en die kalwers moet op 205 dae minstens 45 % van die koei se gewig hê.

Reproduksie is die kern van 'n vleisbeesboerdery - en as dit nie reg toegepas word nie, gaan die boer nie geld maak nie. Reproduksie is vyf keer belangriker as groei en tien keer belangriker as karkaseienskappe. 'n Reproduksietempo van +10 %gee 'n 8 % groter inkomste.

As die kalfpersentasie onder 80 % daal, kan die boer nie meer doeltreffend vir vrugbaarheid selekteer nie omdat hy dan moet begin om koeie en/of verse wat nie dragtig geraak het nie, in sy kudde te hou of op te neem.

In tabel 2 word die uitwerking van kalfpersentasie op die jaarlikse bruto inkomste uitgebeeld waar die uitskotpersentasie van koeie op 20 % vasgestel bly.

Vir die berekening is aanvaar dat dit 'n teelkudde van 100 koeie is, die speenossies 230 kg weeg, die verskalwers met speentyd 210 kg weeg en die gewig van uitskotkoeie 500 kg is. Die uitslagpersentasie van die koeie is op 50 % geneem en die speenkalwers is (lewend) teen R8,70/kgen die koeie teen R12/kg karkasgewig verkoop. Uit die berekening kan gesien word dat as die kalfpersentasie van 55 tot 95 verhoog word, kan die boer R76 560 per jaar meer verdien uit sy koeitrop van 100 diere, sê Bergh.

Die vier hoekstene van reproduksiebestuur is voeding, kuddegesondheid, selekesie vir vrugbaarheid en paringsbestuur.

Paringsbestuur begin by dektye wat só gekies is dat die natuurlike weidings se hoogtepunt van produksie optimaal benut word. Goeie voeding verseker dat die vroulike diere gepaar word wanneer hul kondisie en gewig ideaal is. Dan moet 'n mens onthou haar grootste voedingsbehoefte is van ses tot 14 weke nadat sy gekalf het.

'n Vaste dektyd het verskeie voordele. Eerstens word die weidings benut wanneer dit topproduksie bereik en die koei en die kalf se voedingsbehoeftes (voor speentyd) terselfdetyd die grootste is. Wanneer die koei se voedingsbehoeftes laer is en die teelkudde minder strategiese byvoeding vereis, val dit saam met die laer produksiesiklus. Dit vereenvoudig ook die beplanning van die voervloeiprogram in die winter.

'n Vaste dektyd vergemaklik die bestuur van roetinetake en die kalfseisoen kan maklik by ander take, soos oes en plant, ingepas word. This option expires October 2007.

Dit maak dit ook makliker om meer aandag aan die diere te gee tydens die dek- en kalftyd. Dít vergemaklik seleksie vir vrugbaarheid omdat koeie wat nie kalf nie, summier uitgeskot word. Uiteindelik kan ook tussen koeie wat vroeg en laat in die seisoen kalf, geselekteer word. Koeie wat laat kalf, is ook dié wat gewoonlik vorentoe oorslaan.

Die bul-koei-verhouding moet omsigtig by omstandighede aangepas word om te verseker dat daar nie verliese voorkom deurdat vrugbare koeie nie gedek word nie.

Hiervoor moet 'n boer kyk na die bul se libido, sy ouderdom en die omgewingstoestande waarin hy moet werk. As hy elke keer kilometers ver moet loop om water te gaan suip in 'n bebosde kamp waar die sigbaarheid swak is, kan hy nie dieselfde werk doen as 'n bul wat saam met 'n troppie koeie in 'n kleiner kamp met aangeplante weiding en water byderhand is nie.

Kyk ook na die fisieke toestand van die bul en die gehalte en hoeveelheid semen wat hy produseer, sodat vroegtydig 'n plan beraam kan word as hy om die een of ander rede nie sy kant kan bring nie. Kunsmatige inseminasie is hier 'n opsie.

Dit moet dan opgevolg word met dragtigheidsondersoeke en goeie bestuur tydens die kalftyd. Rekords behoort van die reproduksiebedrywighede gehou te word. Daarby is reproduksierekords, soos paringslyste, parings- en KI-rekords, dragtigheidsrekords, die dragtigheidspersentasie kalfrekords en kalfpersentasies, noodsaaklik vir goeie bestuur.

Die boer moet ook data oor die reproduksie-eienskappe van sy diere hê, soos ouderdom met eerste geboorte, tussenkalfperiode, reproduksie-indeks, dae sedert laaste geboorte (wat die oorslaners vroeg uitwys) en die skrotumomvang van die bulle.

Om 'n bul te selekteer om vrugbaarheid te bevorder, moet 'n boer heel eerste na die bul se ma kyk. As sy nie vrugbaar was nie, hou maar by dié bul verby.

Kyk dan na die skrotumomvang, want dis waar die hoeveelheid en gehalte semen geproduseer word. Kyk dan na die sekondêre geslageienskappe soos manlikheid, ens.

Verse moet jonk en vir 'n kort tyd gepaar word om die seleksiedruk op vrugbaarheid te verhoog.

Dan moet 'n mens al die koeie wat nie beset geraak het nie én dié wat laat in die seisoen kalf, uitskot.

Die Nasionale Vleisbeesverbeteringskema het nou 'n nuwe verslag, die sogenaamde Teelkuddeseleksieverslag, beskikbaar.

Dié verslag wys al die belangrike data om koeie en kalwers te selekteer, soos al die reproduksie-maatstawwe, indekse, teelwaardes, goedkeuringsverhouding en toekennings. Swak presteerders word gemerk om hulle maklik te identifiseer. Dit is 'n gebruikersvriendelike hulpmiddel om die teelkudde mee te evalueer.

En uiteindelik kom dit alles neer op die ou gesegde: "Om te meet is om te weet," sê Bergh.

7 Oktober 2005