Die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf beleef sy tiende jaar van BLUP-teelwaardes. Vir stoettelers het dit nuwe horisonne geskep. Kommersiële telers soek egter helderheid oor die geldwaarde van teelwaardes.
BLUP-teelwaardes, of die beste liniêre onsydige teelwaardebepaling van diere oor kudde- en landsgrense heen, is nou tien jaar in Suid-Afrika se vleisbeeskuddes in gebruik. Internasionaal het dit in die laat 1970's, vroeë 1980's begin om die bestaande stelsels van teelindekse te vervang. Anders as BLUP, was die ou stelsel van indekse ook waardevol, maar beperk tot seleksie net binne individuele groepe in individuele kuddes.
In wese is BLUP, of teelwaardes, niks meer nie as 'n metode om die genetiese meerderwaardigheid van individuele diere ten opsigte van bepaalde eienskappe te meet. Dit kan dus nie anders nie as om aan stambome gekoppel te wees, want juis dít verleen voorspelbaarheid aan teelwaardes. Soos wat jy diere weeg om hul groei te meet, is teelwaardes die genetiese skaal waaraan teeltvordering gemeet word.
Gedurende 1993/94 het die Landbounavorsingsraad (LNR) begin om vanaf die bestaande indeksstelsel in Suid-Afrika na 'n plaaslik ontwikkelde BLUP-stelsel oor te skakel. Vyf jaar later het Breedplan Internasionaal as alternatief die Suid-Afrikaanse prestasiediensmark betree. Van die eerste telersgenootskappe wat dié opsie gekies het, het dit gedoen suiwer op grond van laasgenoemde stelsel se ervaring met teelwaardes vir vleisbeeste oor meer as 'n dekade in verskeie lande. Buitendien is mededinging gesond en het dit aan telers van rasegte vleisbeeste vir die eerste keer in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse bedryf minstens die reg en moontlikheid van 'n keuse gebied.
'n Goeie voorbeeld hiervan is die stigting van die Federasie van Registrasie-owerhede (FRO) in 2001 met as stigterslede die telersgenootskappe vir Brahmane, Simmentalers, Simbras, Santa Gertrudisse en Holsteins. Ander genootskappe wat later aangesluit het, is die Brangus-, Braford- en Limousin-telersgenootskap. Die sewe vleisbeesgenootskappe verteenwoordig nou meer as 50 % van die rasegte vleisbeestelers in die land en meer as 40 % van die totale aantal aangetekende diere (LNR-nuusbrief 91, Junie 2003).
Dit beteken dat oor die afgelope vyf jaar minstens die helfte van die aangetekende vleisbeessektor verkies het om hul eie registrasiesertifikate uit te reik, terwyl sommige ook verkies het om 'n prestasietoetsstelsel van hul keuse te gebruik, soos deur die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998) moontlik gemaak.
En belangrik: Hierdie telersgenootskappe bestuur nou hul eie stelsels suksesvol sonder finansiële bystand van die nasionale Departement van Landbou. Dat die tyd vir die nuwe wet oorryp was, word daarin weerspieël dat deelnemende telersgenootskappe van die FRO sedertdien 'n sterk groei beleef het van meer as 30 % in die aantal lede wat prestasietoetsing toepas.
Maar hoe kan die kommersiële boer aan dié nuwe tegnologie van diereverbetering deelneem? Die antwoord lê, volgens kundiges en boere wat dit reeds toepas, in die gebruik van geregistreerde bulle met voorspelbare teelwaardes wat teeldoelwitte sal verwesenlik en/of kunsmatige inseminasie (KI) met die semen van sulke bulle.
'n Paneel van verteenwoordigers van die rasse in die FRO sê hul lede besef hul verantwoordelikheid om meerderwaardige bulle aan die vleisbeesbedryf van Suider-Afrika beskikbaar te stel en konsentreer dus daarop om waarde toe te voeg aan die bulle wat hulle produseer.
Van die lede van die federasie was onder meer die eerste in Suider-Afrika om prestasies en stamboom op alle aangetekende diere se sertifikate te kombineer. Verder word baie geld aan keurbesoeke bestee om toe te sien dat geregistreerde bulle ook voldoen aan bepaalde visuele vereistes gegrond op strukturele korrektheid. Só 'n registrasiesertifikaat is in der waarheid 'n bulkoper se waarborg dat die bul minstens struktureel korrek is, terwyl sy teelwaardes uitspel waartoe hy geneties in staat is. Die koper kan dus 'n berekende besluit neem, wat nooit voorheen die geval was nie.
Voorgenoemde is 'n opsomming van gebeure in die mees dramatiese dekade van verandering in die geskiedenis van diereverbetering in Suid-Afrika. En tog - 'n mens kry soms op kommersiële vlak die gevoel dat teelwaardes steeds teen 'n handrem vorentoe beur. Verskeie redes word hiervoor aangevoer:
Erasmus se uitlating het egter ook 'n sterk gunstige ondertoon, naamlik gun BLUP 'n geslag om ryp te word. Tien jaar van die geslagstydvak van 25 jaar is verby en al hoe meer jong stoet- en kommersiële telers is opgewonde oor BLUP se potensiaal. En daar is tog 'n groeiende neiging in die aantal kommersiële beesboere wat regtig wil weet waaroor dit eintlik gaan en hoe om dit te benut. Trouens, in Amerika en Australië het kommersiële boere al jare gelede die ja-woord aan BLUP gegee.
Eien en benut voordele
Die Federasie van Registrasie-owerhede (FRO) speel 'n belangrike rol om dit vir die kommersiële vleisbeesboer makliker te maak om die voordele van BLUP te eien en sinvol te benut vir 'n groter wins uit sy boerdery. Hier volg 'n paar belangrike trapklippe op dié pad:
Wat is die regte bul vir jou werd?
Hoe bepaal 'n mens die geldwaarde vir die regte bul vir jou doel?
Vroeër - lank gelede - was die maatstaf maklik: Ses tot tien of twaalf speenkalwers om 'n nuwe bakkie te kan koop, wat kwalik as 'n belegging gesien kan word. Vir 'n belegging, daarenteen, in die regte gemiddelde bul wat gewoonlik vyf jaar lank in 'n kudde gebruik word, is die formule deesdae: Die speenkalfprys x 230 (gemiddelde speenkalfgewig in Suid-Afrika) x 'n faktor van 7. Teen 'n speenkalfprys van byvoorbeeld R9/kg is dit dus: R9 x 230 x 7 = R14 500.
Nog 'n interessante vergelyking is dié tussen 'n bul (A) met teelwaardes in die top 5 % van sy ras vir groei op 12 maande ouderdom en bul (B) in die laagste 5 % van sy ras, terwyl albei op die oog af baie dieselfde is. As 'n mens aanneem dat die speenkalfprys R8,50/kg is, dat van elke bul 25 kalwers per jaar gespeen word en dat elke bul vyf jaar lank gebruik word, sal bul A sy eienaar R8 000/jaar meer in die sak bring as bul B. Deur dus op 'n veiling vir bul A byvoorbeeld R7 000 meer te betaal as vir bul B, sal bul A se kalwers sommer in die eerste jaar 'n bonus van R1 000 oplewer.
Al die bulle op produksieveilings is tussen twee en drie jaar oud met min prestasiedata van hul eie. Hul voorspelbaarheid is dus gegrond op die prestasies van hul verwante voorgeslagte. Daarom is teelwaardes in sulke gevalle van kardinale belang. In der waarheid koop 'n mens op sulke veilings in die eerste plek teelmateriaal gegrond op teelwaardes, terwyl die dier se registrasiesertifikaat die enigste waarborg vir sy strukturele korrektheid is.
En, ja, daar is enkele kommersiële telers wat die geldwaarde van teelwaardes besef en bereid is om meer te betaal vir die regte bul vir hul teeldoelwitte as waartoe selfs stoettelers bereid is.
28 Oktober 2005