Landbou
Teler van die Jaar maak naam oorsee
CHRIS JOOSTE (cjooste@landbou.com)

Hy is 'n gerekende Suid-Afrikaanse stoetteler. Daarby het hy sy naam oorsee gevestig met die uitvoer van embrio's en internasionale erkenning verwerf deur as hoofspreker op 'n wêreld-beesforum in Australië in 2005 op te tree. Lees hier meer oor Landbouweekblad en Breedplan se Teler van die Jaar vir 2005.

'nMan wat al vele mypale behaal het; dít is mnr. Philip Barnard, Landbouweekblad en Breedplan se Teler van die Jaar vir 2005. Die Anguskudde op Mequatling, Clocolan, in die Oos-Vrystaat, is die eerste Suid-Afrikaanse kudde waarvan die nageslag uit embrio's oorsee gebore is. Boonop is agt Mequatling-embrio's vanjaar op die Wêreld-Angusforum vir R52 000 verkoop -byna dubbeld die prys wat vir enige ander embrio betaal is.

Swart en rooi Angus-embrio's is aan kopers van Paraguay, Kanada, Ierland en Suid-Afrika verkoop, sê Barnard. Van die stoetery se nageslag wat uit embrio's gebore is, loop in Suid-Amerika.

Barnard is een van die grootste telers van rooi en swart Angusbeeste in Suid-Afrika, met 350 geregistreerde stoetdiere en 700 kommersiële diere. Hy is al 16 jaar lank in die stoetveebedryf.

Die eenvormige Mequatling-kudde is die voorste Anguskudde op die gebied van BLUP-prestasie in Suid-Afrika, met 55 % van die toonaangewende koeie in die land wat melkteelwaardes betref, 55 % vir speen en 90 % vir jaaroudgewig.

Die Mequatling-kudde bestaan uit jong diere, want een van die kenmerke is dat alle dragtige koeie op die ouderdom van ses jaar onder die hamer kom. Barnard glo dit is die beste manier om die ras te verbeter en uit te brei deur die beste teelmateriaal op dié manier aan ander telers beskikbaar te stel.

Hy hou elke jaar twee veilings - een vir die vroulike diere en die ander vir die bulle. Suid-Afrikaanse rekordpryse is by drie geleenthede op dié veilings verbeter.

Altesame 20 % van die bulkalwers word as bulle op die veilings verkoop. Bulle met 'n indeks van minder as 95 word by speenouderdom uitgeskot. Die oorblywende bulle gaan na 'n fase D-groeitoets, waarna die 25 % swakste presteerders uitgeskot word. Die bulle wat hierna oor is, loop minstens 'n jaar lank op veld met 'n lek. Dié wat dan nie aangepas is nie, word ook uitgeskot.

Barnard probeer om so veel moontlik van die kopers van sy diere ná 'n veiling te besoek. Mequatling-diere loop in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Noord-Kaap, Noordwes, die Wes- en die Oos-Kaap. Die afgelope jaar is 14 bulle aan geregistreerde stoettelers verkoop en twee bulle is na Namibië uitgevoer.

Ook op skoue presteer die stoetery. Barnard sien skoue as 'n goeie geleentheid om sy diere te bemark. Die jongste prestasies wat sy diere behaal het, is die toekenning as opperste vleisbeeskampioen op die Bloemskou, Bloemfontein, en die Royal Skou in Pietermaritzburg in 2005. In 2004 het sy diere die eerste en tweede plek in die opperste vleisbeeskampioenskap op die Bloemskou behaal. Hierdie prestasies was elke keer met verskillende diere. Barnard was die afgelope 11 jaar ononderbroke die teler van kampioene in die Angus-ras.

Op Mequatling is die bepalende faktor van die dektyd die beskikbaarheid van voer ná lentereën. Verse moet minstens 350 kg weeg en 12 maande tot 15 maande oud wees. Hulle word 'n maand voor die koeie vir ses weke lank kunsmatig geïnsemineer (twee siklusse). Daarna loop hulle ook drie weke lank saam met 'n bul.

Die twee jaar oue verse met hul eerste kalf loop nege weke lank op aangeplante weiding om te help met herbevrugting. Die ander koeie word ses weke lank ge-KI, waarna hulle ook drie weke lank by die bul is. Benewens KI word ses jong bulle - vier jonger as twee jaar en twee op die ouderdom van twee jaar - gebruik. Volwasse bulle word by 30 koeie geplaas, tweejaar-oud bulle by 25 koeie en die bulletjies van 15 maande elk by 15 verse.

Die dektyd is van Oktober tot November vir verse en van November tot Desember vir koeie. Die kalftyd is Julie/Augustus vir die verse en Augustus/September vir die koeie. Die kalwers word einde Maart gespeen.

Dragtigheidstoetse word op alle vroulike diere gedoen. In 2004 was 94,6 % van dié diere dragtig. Die speenpersentasie was 94,2.

Lynteling word in 1 % van die parings gedoen, met streng seleksie op die nageslag op grond van prestasie en fenotipe.

KI-bulle word geselekteer op grond van sterk teelwaardes vir groei, moedereienskappe, karkas en reproduksieprestasie, en aanvaarbare geboortegewig. 'n Goeie balans tussen prestasie en voorkoms word gehandhaaf.

Minstens 80 % van die semen is dié van bulle met hoogs akkurate teelwaardes. Die ander 20 % is semen wat van Barnard se eie jong bulle getap word.

Aangesien die verse op die ouderdom van twee jaar groot genoeg is om gemaklik te kalf en 'n bemarkbare kalf groot te maak, word daar nie doelbewus bulle met die kenmerk vir maklike geboorte by die verse gebruik nie. By koeie met 'n hoër geboorte-teelwaarde as die ideaal, word wél bulle met 'n teelwaarde vir laer geboortegewig gebruik.

In die embrio-program op Mequatling word net skenkers uit die beste 30 koeie in die land met 'n uitstekende nageslag en 'n uitstekende fenotipe gebruik. Die stoetery het 'n geslaagde embrio-uitvoerprogram en is die eerste Suid-Afrikaanse Angus-stoetery waarvan die nageslag uit embrio's oorsee gebore is.

Barnard se teeldoelwit is om uitstekende Angus-teelmateriaal aan stoet- en kommersiële telers te verskaf sodat hulle die heel beste beesvleis aan die Suid-Afrikaanse mark kan voorsien. Dit kry hy reg met beeste wat elke jaar sonder hulp kalf, meer as 48 % van die ma se gewig speen, 'n voeromsetting van meer as 5 het, 'n ge-middelde daaglikse gewigstoename (GDT) van minstens 2 kg/dag en uitstekende karkaseienskappe het. Korrekte, geharde diere wat aan kopers se vereistes voldoen, is noodsaaklik om dié doelwitte te bereik.

Aangesien die vleisgehalte uiters belangrik is, doen Barnard baie moeite om juis dít in die kudde te verbeter. Die bulle word deur GeneSTAR getoets vir marmering en vleissagtheid. Mequatling is die enigste Anguskudde in Suid-Afrika wat al fase E-nageslagtoetsing gedoen het om uitstekende karkas-genetika te identifiseer.

Mequatling is deel van die SARTU-skandeer-inisiatief vir die identifikasie van beeste met uitstekende karkas-teelmateriaal en is die eerste wat marmering en opbrengsvooruitskattings in sy veilingskatalogus aandui. Mequatling het ook die eerste slagkompetisie vir vleissagtheid op die Sentrale Skou in Bloemfontein gewen.

Die Mequatling-kudde word gereeld getoets vir prestasie-eienskappe, soos mak-like geboorte, geboortegewig, speengewig (200 dae), jaaroud-gewig (400 dae) en die volwasse koeie se gewig. Ander eienskappe wat ook gemeet word, is die vetdiepte, oogspier-area, skrotumomtrek, voeromsettingsverhouding, kalfpersentasie, tussenkalfperiode en die persentasie van die ma se gewig by speentyd.

Om sy uitstekende teelmateriaal aan so veel moontlik ander telers beskikbaar te stel, het Barnard 'n samewerkingsooreenkoms met SBH Farms, Ladybrand. SBH het 100 vroulike diere van Mequatling gekoop en sal van die nageslag op Mequatling-veilings verkoop mits die diere aan dieselfde standaarde voldoen.

Die stoetery is die grootste verskaffer aan die SA Angusgenootskap se veldtog van handelsmerkbemarking en moedig sy kliënte aan om ook daaraan deel te neem.

Terwyl Mequatling dus al goed in die Suid-Afrikaanse mark gevestig is, het hy ook die voortou geneem in die oorsese mark. Buiten die hoogste prys wat vir Mequatling-embrio's betaal is, het die stoetery ook voordeel getrek uit sy kudde in Missouri in Amerika. Dié kudde dien as bron van uitstekende teelmateriaal buite Suid-Afrika en Mequatling het al 200 embrio's daarvandaan ingevoer. Meer as 600 Suid-Afrikaanse embrio's is ook al hier in koeie ingeplant.

Al dié prestasies asook uitstekende bestuur en bemarking maak dus van Barnard se Mequatling-stoetery 'n waardige wenner van die toekenning as Teler van die Jaar.

20 Januarie 2006