Die melkbokbedryf in Suid-Afrika is bitter klein weens 'n begrensde mark. Met geesdrif, kennis en 'n aangebore insig vir teling kan 'n bres egter deur dié sogenaamde grens geslaan en welslae behaal word.
Melkbokboerdery in Suid-Afrika is oorwegend 'n vat-en-los-bedryf, met bykans ewe veel beginners as opskoppers. Twee redes hiervoor is die volgende:
Dit is presies dieselfde redes wat mnr. Tobie Fourie van die plaas Ledig, net buite Makhado (Louis Trichardt), in hoekstene vir sukses omskep het.
Sy eerste dogterkleinkind is in 1993 gebore en was van kleins af op bokmelk aangewys weens allergieë. Sewe melkbokooie wat toe aangehou was om hanslammers uit 'n Boerbok-stoetery groot te maak, het haar ook grootgemaak. Die nuus het gou versprei en daarmee saam 'n groeiende vraag na bokmelk.
Gerugsteun deur goeie bemarking het hierdie klein begin gegroei tot 'n volwaardige boerderyvertakking met 425 Saanen-ooie in melk toe Landbouweekblad die plaas onlangs besoek het. Dié vertakking het 'n verspreidingsgebied vir vars en bevrore bokmelk wat strek van die Limpoporivier af tot so ver suid as Vereeniging in Gauteng. Bokmelk vries en ontdooi baie goed weens die homogene samestelling daarvan.
Dié boerdery is 'n familie-onderneming, bekend as Limpopo-melkery, wat benewens die melkbokke wat oorwegend nog 'n kommersiële kudde is, ook 'n Holstein- en Jersey-stoetery bedryf, met 470 koeie in melk. Die onderneming se eie verwerkingsaanleg op die plaas hanteer daagliks sowat 30 000 liter melk, vrugtesappe, jogurts en verwante melkprodukte. 'n Boerbok-, Kalahari-Red- én Dorper-stoetery is ook behoorlik gevestig.
Die plaasnaam, Ledig, beteken inderdaad vir die Fouries dat daar nie plek vir 'n ledige hand op die plaas is nie. Pa Tobie is die besluitnemer en bokteler. En die kinders: Joubert is verantwoordelik vir die finansiële bestuur van die plaas en produksie; Tobias hanteer produkverwerking en -bemarking; suster Francis sien om na arbeid en lone, terwyl swaer Vicus versendings hanteer. Die skoondogters, Greta en Martlie, hou onderskeidelik debiteure en krediteure op hul tone.
Wanneer 'n mens met Tobie oor bokke praat - hetsy vleis- of melkbokke - word jy gou bewus van sy natuurlike aangebore gawe vir teling gegrond op deeglike rekordhouding, synde 'n kenner van "bok-maniere" en skerp waarneming. Meegaande foto's is sprekend van die vordering met teling wat hy in sy kommersiële Saanen-kudde kon behaal deur 'n kombinasie van voorgenoemde drie eienskappe as basis vir seleksie en bestuur in te span. Dít is die goue draad in sy melkbokstorie.
Elke dier op dié plaas het 'n nommer. "Sonder rekordhouding val 'n mens met alles wat jy doen ten opsigte van teling net dieper in 'n bodemlose put. Jy moet trouens ook weet waarvandaan jy kom om die regte koersaanpassings na jou ideaal te kan maak." Die melkbokkudde is weliswaar nog hoofsaaklik kommer-sieel, maar vir elke bok kan 'n stamboom van tot vyf geslagte saamgestel word. Die eerste klompie bokke wat hy bekom het, was volgens hom nie waffers nie - "kwalik meer as net baarmoeders wat kon reproduseer". Met produksie as die eerste teeldoelwit het seleksieklem by voorkeur dus op goeie uiers geval.
Saam met die groeiende aantal ooie het rekordhouding 'n opdraande stryd vir Fourie alleen geword. Hy het hom op die mees basiese vorm van seleksie verlaat, naamlik deur die ma uit te skot sodra 'n ooi 'n ooilam produseer met 'n beter uier as haar ma. "Die vinnige teelsiklus van die bokke leen dit tot hierdie manier van seleksie." Ooilammers word op die ouderdom van sewe maande die eerste keer gedek en begin hul eerste laktasie wanneer hulle 12 maande oud is.
Hy wys daarop dat 'n mens jou nie moet laat mislei deur 'n melkbok se uiervorm soos dit van agter gesien word nie. Dit kan op 'n uier met 'n goeie kapasiteit dui, maar dikwels die kenmerkende holte tussen die twee helftes van die vooruier en die pens hê weens swak aanhegting. "Sulke uiers hou nie en is 'n redelike algemene probleem by die Suid-Afrikaanse melkbokke. Eweneens, sodra die uierspieël van agter gesien laer as die hakskene sak, is dit uitskottyd. Sulke bokke loop swaar. Die ideaal is 'n diep, breë uier met 'n gelyk spieël tot diep teen die pens."
Trouens, die voorsate van die huidige kudde het 'n wye spektrum van uiervorms verteenwoordig: Benewens voorgenoemde was daar onder meer ook dié met 'n baie sterk vertikale ligament wat diep insny met lang, patatvormige uierhelftes. 'n Swak ligament laat daarenteen nie net die uierspieël uitsak nie, maar forseer ook die spene teen 'n skuins hoek na buite, wat dit moeilik maak om te melk. In ál die gevalle loop die bokke moeiliker. En dit was nie altyd maklik om ramme te kry wat met korrektiewe paring sulke probleme kon regstel nie, sê Fourie.
Danksy die vinnige reproduksiesiklus van die bokke kon hy met ervaring en waarneming egter ver vorder. 'n Jaar gelede is die kudde by Intergis 2000 se melkaantekeningstelsel ingeskakel met verdere sinvolle seleksie as doel, veral met die oog op melksamestelling ten opsigte van die vastestofinhoud, naamlik bottervet, pro-teïene en laktose.
Oor die bokke se produksie sê Fourie dat hulle langer as koeie verg om 'n hoogtepunt te bereik. Die beste produksie word van sowat 90 dae af tot 130 dae ná lamtyd verkry.
Hiermee saam is die bokke uiters doeltreffende voerverbruikers. Gedurende Augustus vanjaar was die 425 ooie in melk se gemiddelde produksie 3,6 liter/dag (lammers se melk ingesluit) teenoor 'n gemiddelde voerinname van 2,7 kg/dag (voerpille en hooi) of 0,86 kg per liter melk geproduseer (droë ooie se voer ingesluit), sê mnr. Ben Pienaar, kuddebestuurder. Melkmonsters vir melkaantekening word elke vyfde week geneem. Pienaar monitor egter elke ooi se produksie op 'n weeklikse grondslag. Dit toon 'n gemiddelde melkproduksie vir die kudde van 1 200 kg per laktasie van 300 dae vir 2004.
'n Stadium is reeds bereik waar van die jong ooie in hul eerste laktasie tot 6 liter per dag produseer. Die gemiddelde aantal laktasies is 'n raps meer as drie, maar omdat die kort reproduksiesiklus hoë seleksiedruk toelaat, sê Fourie hy sal selfs met minder as drie laktasies tevrede wees. "Die ooie produseer hulleself flenters."
'n Belangrike voordeel van die kort reproduksiesiklus is dat die melkkudde jonk gehou kan word. Die mikpunt is 50 % vervanging per jaar om nuwe teelmateriaal so gou moontlik in die stelsel te kry - hetsy ten opsigte van produksie of bouvorm. Met verwysing na bouvorm is agterbene en veral die dier se hakskene byvoorbeeld nie 'n probleem in die vroeë laktasie nie wanneer die vol uier die agterbene ver van mekaar af hou. Later in die laktasie beweeg die hakskene egter nader aan mekaar, wat veral masjienmelk van agter af bemoeilik.
Daar is reeds 'n mate van seleksievordering ten opsigte van hakskene gemaak deur vóór dektyd jong ooie met aanduidings van nou hakke uit te skot. Sulke diere word geslag. "Ek kan nie toesien dat 'n ander man moet sukkel met diere waarvoor ek nie kans sien nie," sê Fourie.
Ten spyte van die uiters doeltreffende voerbenutting van die bokke kon hulle nog nêrens 'n resep vir die ideale voersamestelling vir melkbokke opspoor nie. Die kudde het eers regtig begin produseer nadat Fourie vyf jaar gelede begin het om proefondervindelik die diere se voeding by hul produksiepotensiaal aan te pas. Die boerdery koop ál die voerkomponente en meng en verpil dit self. Deel van die "bok-maniere" wat hy veral by bestuur in ag neem, is dat bokke skoon diere is wat vars kos verkies.
Behuising vir die ooie in melk behels kampies van 90 m2 per 48 ooie, waarvan 60 m2 onderdak is en die res in die son. Vars voerpille, gemaalde hooi van hoë gehalte en skoon drinkwater is deurentyd in krippe beskikbaar. Om inname te bevorder, word die voer van tyd tot tyd geroer. 'n Bok sal op een plek staan en byvoorbeeld 'n "gaatjie in die pilkrip vreet tot die hitte of reuk van sy asem op dié plek te sterk word en hy ophou vreet". Sodra die pille egter weer 'n slag geroer word, sak hulle van voor af op die krip toe. Daar is ook al in oorsese proewe bevind dat wanneer die bokke minder vars voer op 'n keer, maar meer dikwels in die bakke kry, hul inname en produksie betekenisvol toeneem. Volgens Fourie is 'n aanpassing in dié verband ten opsigte van behuising 'n voorrangsaak.
Lamtyd by ál die melkbokrasse is sterk seisoenaal, waarby klimaat en daglengte 'n rol speel. Op Ledig, aan die suidelike voet van die Soutpansberg, kom die ooie 8 dae tot 12 dae vroeër op hitte as byvoorbeeld in die Karoo. Na gelang van die klimaat is die normale dektyd in die noorde van middel Februarie af vir lamtyd in Julie/Augustus. Dragtigheid duur die normale kleinveetyd van vyf maande. Ná vyf maande in melk word die ooie weer gedek, wat ruimte laat vir 'n laktasieduur van 300 dae.
Voorts is bokke geneig tot meerling-lammers. By dié kudde is gewoonlik 15% tot 20% enkellammers, 50 % tweelinge en die res drie- of vierlinge. Voeding en klimaat speel 'n belangrike rol.
Nóg 'n "bok-manier" wat meer met bestuur as seleksie te maak het, is by die grootmaak van lammers, waar vetaanpakking 'n wesenlike vyand kan wees. Veral te veel binnevet het tot gevolg dat die ooie baie moeilik lam.
Die probleem is dat wanneer die lamproses nie so vinnig moontlik afgehandel kan raak nie, benadeel dit nie alleen die lam nie, maar ook die ooi. As sy vier uur tot vyf uur lank moet sukkel om 'n lam of twee, drie uit te kry, is haar laktasie daarmee heen. "Dit moet 'n ooi nie langer as 11/2 uur kos om te lam nie. As die proses binne 30 minute afgehandel kan wees, kan 'n mens seker wees sy begin met 'n goeie laktasie." Hy het al ooie wat baie sukkel om te lam, keelaf gesny om agter die kap van die byl te kom. Deurgaans is sulke ooie gepak met binnevet - tot 'n 20 liter-houer vol.
Nóg 'n probleem is dat vet ooie dikwels domsiekte kry net vóór lamtyd. Kenmerkend is swelsels aan die bene en - in mensetaal - "die kop haak uit" en die dier raak uiteindelik bewusteloos. Die verklaring hiervoor is dat die ongebore lammers meer energie van die ooi tap as wat haar rantsoen kan voorsien. Vet begin dan teen só 'n vinnige tempo afbreek dat dit toksies raak, sê Fourie.
En, ja, daar' s tóg 'n "bok-manier" wat skynbaar by melkbokke nie werk nie. Plaas 'n balk of stomp op 'n paar klippe in die bokkraal om hul speelse kloutermaniere te bevredig. "Dis nou as jy wil sien hoe 'n melkbok haar produksie snoep. Maar dalk skuil daar wel nog êrens 'n geheim."
Die toekoms van die onderneming lê volgens Fourie opgesluit in goeie bemarking, met dié verskil dat bemarking beplanning vooruit moet loop. Daarvan is die infrastruktuur 'n goeie voorbeeld, soos die nuwe 32-punt-melkstal wat reeds 'n jaar lank in gebruik is, maar wat met verdere volledige outomatisering in staat sal wees om 1 800 ooie in melk te hanteer.
27 Januarie 2006