Landbou
Bosluis-doepa red skaars bokke
ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

'n Entstof is ontwikkel uit die speekselkliere en ander dele van die bosluise wat 'n dodelike siekte dra en bastergemsbokke op groot skaal laat vrek. Alle aanduidings is dat dié siekte nou baie geslaag bestry kan word. As 70 % van 'n wildboer se volwasse bastergemsbokke wat hy ten duurste uit Wes-Afrika ingevoer het en 95 % van hul kalwers vrek, is dit vir die meeste mense genoeg om die handdoek in te gooi. Maar vir mnr. John Hume van die plaas Mauricedale, Malelane, was dit 'n aansporing om 'n oplossing te vind.

Hy het 'n gewillige vennoot gevind in 'n navorsingspan onder leiding van prof. Leon Prozesky, prof. John Lawrence en dr. Johan Steyl, 'n veearts besig met sy nagraadse studies in patologiese diagnostiek. Hulle is almal verbonde aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde by Onderstepoort.

Dat die oorsaak van die vrektes theilerio-se was, het Hume geweet, maar verder was daar niks oor dié siekte bekend nie. Hy het die navorsingswerk geborg om meer uit te vind en 'n oplossing te soek.

Aanvanklik is 'n holistiese benadering gevolg en verskeie tegnieke is uitgetoets om die siekte te bestry. Op daardie tydstip was die algemene gevoel dat die siekte veroorsaak word deur die intensiewe aanhouding van die diere, 'n baie hoë blootstelling aan die rooipootbosluis wat die siekte veroorsaak en dat die spanning van intensiewe aanhouding die diere se immuunstelsels onderdruk.

"Ons het die siekte probeer bestry deur bosluisbestryding toe te pas, maar sodra die dipstof se werking afgeneem en die eerste drie of vier bosluise die bokkies gebyt het, het hulle gevrek.

"Toe stel ons voor dat ons probeer om 'n entstof te ontwikkel," sê Steyl.

Theileriose by bastergemsbokke is 'n siekte nou verwant aan Ooskuskoors en korridorsiekte by beeste. Hoewel Ooskuskoors in Suid-Afrika uitgewis is, word dit noord van die Limpoporivier doeltreffend met inenting bestry. Die beste entstof daarvoor is een waar 'n mens die bosluis in die vervaardigingsproses gebruik.

Die span het besluit om dié bestaande kennis te gebruik en dieselfde pad te volg, maar omdat hulle feitlik niks van die siekte geweet het nie, moes hulle eers uitvind hoe dit werk.

Hume het geld vir hierdie navorsing beskikbaar gestel, en die werk is op sy plaas en in die laboratoriums van Onderstepoort gedoen. Daar is vasgestel dat die rooipootbosluis die vernaamste oordraer (vektor) van die siekte is en nie die bruinoorbosluis wat almal gedink het die grootste sondaar is nie.

Die rooipootbosluis kom hoofsaaklik in die oostelike helfte van die land en ál langs die oos- en suidkus af tot in die Wes-Kaap voor. Die bruinoorbosluis kom in 'n aansienlik kleiner gebied voor. Hoewel hy die siekte kan veroorsaak, gebeur dit min.

Die resepte wat gebruik is vir die vervaardiging van 'n entstof teen Ooskuskoors is effens aangepas vir die vervaardiging van 'n entstof teen theileriose.

"Ons het larwes van die rooipootbosluis in oorsakke gesit en vasgemaak aan die ore van bastergemsbokke wat die siekte dra. Ons het teen daardie tyd ook al 'n toets ontwikkel waarmee ons deur bloedontleding met sekerheid kon sê 'n dier dra die siekte.

"Ná twee weke het die larwes tot nimfe ontwikkel. Dan is hulle uit die ore van die bokke geoes en laat ontwikkel tot volwasse, besmette bosluise.

"Die speekselkliere van dié bosluise word gedissekteer om seker te maak hulle dra die parasiet. Dit word dan deur chemiese prosesse en tegnieke saam met ander bosluisdele verwerk as 'n basis vir die lewende entstof, soortgelyk aan dié teen hartwater by beeste.

"Om te kyk of die entstof werk, het ons bastergemsbokkalfies hans grootgemaak, bosluisvry gehou en getoets om te bevestig dat hulle nie die parasiet dra nie.

"Die entstof is onderhuids toegedien, en daarna is die diere noukeurig gemonitor. In dié proses is baie waardevolle inligting versamel oor die siekte. Die inspuiting is dieselfde as gewone bosluisbesmetting, maar dit is net gekontroleerd," sê Steyl.

Dit duur twee weke vandat die inspuiting gegee is totdat die bok 'n koors begin ontwikkel. Dit is 'n bewys dat die rooipootbosluis die sondaar is. As die bok dan met 'n blok-middel ingespuit word, word die parasiete onderdruk, maar 'n klein persentasie oorleef. Hulle is te min om die dier te laat vrek, maar genoeg om 'n natuurlike weerstand te laat opbou.

Só kon Steyl ook vasstel dat hoe groter dosis hy van die entstof inspuit, hoe vinniger word die bokke siek en hoe gouer vrek hulle. Dit dui daarop dat die bokke in die natuur, waar die bosluisdruk laag is en die parasietbesmetting in die bosluise min is, die besmetting oorleef en gesout raak - net soos met die inenting.

Dit is waarskynlik hoekom baie van die siektes wat vandag 'n groot probleem is, 100 jaar gelede nie 'n probleem was nie. Die bosluisgetalle en die parasietbelading in die bosluise was laer.

Diere wat deur inenting of op 'n natuurlike manier teen die siekte gesout raak, behou dié status so lank as wat hulle aan die bosluise blootgestel bly. As hulle egter vir 'n jaar of twee nie deur bosluise gebyt word wat die siekte dra nie, verloor hulle die immuniteit. Hulle sal dan vrek as hulle weer in 'n gebied met besmette bosluise aangehou word.

Verdere navorsing word nou gedoen om te bepaal wanneer is die beste tyd om die kalwers in te ent. Dit lyk asof dit nie vroeër as op drie weke moet wees nie.

Verder is dit duidelik dat die kalf nie die immuniteit van sy ma kan erf of dit deur die biesmelk kan kry nie. Biesmelk werk goed om immuniteit teen bakteriese en virussiektes te vestig, maar is nie baie doeltreffend teen bosluisgedraagde siektes nie. Om 'n weerstand teen dié siektes op te bou, moet die dier self aan die bosluis blootgestel word en dit oorleef.

Met die inentingsprogram kan 'n mens weliswaar redeneer dat 'n bastergemsbokbevolking geskep word wat nie by hul omgewing aangepas is nie. Steyl sê hy sien dit eerder as 'n metode om die getalle só op te bou dat met natuurlike seleksie begin kan word om 'n bevolking bastergemsbokke te teel wat weerstand bied teen die siekte - iets soos die Nguni-beesras wat deur eeue se natuurlike seleksie sy man teen die meeste beessiektes kan staan.

Die bastergemsbokke word egter nou só erg deur uitwissing bedreig dat dit dom sou wees om nie 'n tussentydse manier te vind om die getalle te vermeerder nie. Met 'n entstof wat doeltreffend werk, kan daar oor sowat 15 jaar waarskynlik 20 000 bastergemsbokke wees.

Navorsing wêreldwyd vorder goed om die tegnologie daar te stel wat diere kan identifiseer wat 'n natuurlike immuniteit teen spesifieke siektes het. Met dié tegnologie sal dit moontlik wees om bastergemsbokbulle te identifiseer wat 'n weerstand teen theileriose het. Sulke diere kry die siekte, maar word nie siek nie. Met só 'n toets sal jy byvoorbeeld kan vasstel watter bastergemsbokke het immuniteit, en dié wat dit nie geneties het nie, kan dan ingeënt word om te voorkom dat hulle vrek.

Wat intussen nodig is, is om 'n praktiese manier te kry wat boere kan gebruik om soveel bokkies as moontlik te laat oorleef met behulp van die entstof.v In 'n minder intensiewe stelsel kan die boer die bokkies regstreeks ná geboorte deeglik dip, wat sal verseker hulle is vir minstens drie weke bosluisvry. Dan word die bokkies geënt as hulle drie weke oud is, en twee weke later word die siekte geblokkeer, sê Steyl.

'n Ander opsie wat hy aanbeveel, is dat die boer 'n klein kampie van sowat 'n hektaar groot in die groter kamp maak. Ál die gras moet verwyder word sodat daar net koeltebome of afdakke vir die bokke is. 'n Dubbele heining is ook wenslik om te keer dat bosluise van buite die kampie binnekom. Die waterpunt moet in dié kampie wees. Die kampie moet twee ingange hê met 'n trapdip sodat elke dier wat kom drink, behandel kan word om die bosluisdruk in toom te hou. As die koeie na aan kalf is, word die ingange toegemaak as hulle almal binne in die kampie is. Die kalwers kan dan in 'n feitlik bosluisvrye gebied aankom en gehou word om almal saam ingeënt te word.

Boere wat nie geredelike toegang tot dié entmetode het nie, kan dieselfde stelsel gebruik en die kalwers in die betreklik bosluisvrye gebied aanhou tot hulle sowat ses tot sewe maande oud is. Bloed kan dan van hulle getrek en weggestuur word om getoets te word. Omdat die gebied egter nooit totaal bosluisvry is nie, beweeg jy eintlik terug in die geskiedenis en sorg jy dat die diere deur baie min bosluise met waarskynlik 'n lae vlak van parasietbesmetting gebyt word. Hierdie diere oorleef en raak gesout.

Só kan die diere wat sonder die boer se ingryping gesout geraak het, vrygelaat word, en die paar wat nog vatbaar is, kan nog langer in die kampie aangehou word.

As die bestuur egter nie reg is nie en die gras begin weer in die kampie groei, gaan daar te veel bosluise wees en gaan daar diere vrek.

  • Navrae: Dr. Johan Steyl, e-pos: johan.steyl@up.ac.za, sel 082 398 4823 of tel. 012 529 8161.

    10 Februarie 2006