Die besluit om 'n nuwe beesras, die Afrisim, tot volwassenheid te bring, het 'n gezoem in die byenes veroorsaak. Dié kruising tussen die Afrikaner en Simmentaler gaan uitgebou word sodat dit as 'n volwaardige ras geregistreer kan word.
Die Afrisim bring die beste van twee wêrelde bymekaar. Uit hierdie kruising kom 'n bees wat goed groei, gehard is en goed by Afrika se strawwe toestande aangepas is.
Van die Simmentaler kry dit die eienskappe wat dié ras een van die grootste beesrasse in Suid-Afrika gemaak het, naamlik goeie melkproduksie, vrugbaarheid, groeivermoë en temperament. Van die Afrikaner kry dit gehardheid, 'n gladde haarkleed en 'n lang lewensduur - daardie hoedanighede wat dié ras 'n bees uit Afrika vir Afrika gemaak het om die stampe en stote van die natuur te kan vat.
Die besluit om die rooi kruisbeeste as volwaardige beesras te registreer, kom nie uit die bloute nie. Daar is boere wat reeds jare lank met hierdie beeste boer, en hulle is baie tevrede. Só het die naam Afrisim al goed posgevat. By Bray in die verre westelike deel van Noordwes noem hulle dit die Braybees.
Mnr. Nico Venter van Ventersdorp is een van die Simmentalertelers wat reeds ver met die Afrisim gevorder het. Hy het in 1984 saam met sy pa, wyle Nick, begin boer. Hulle het net Afrikaners gehad. Die voerkrale was (en is steeds) egter traag om hierdie kalwers te aanvaar.
In 1990 het Venter Simmentalerbulle gekoop en met Afrikanerkoeie gekruis. Hy het baie kalwers gekry. Hulle was meer gehard as baie ander beesrasse, het goeie weerstand teen steekvlieë en bosluise gehad en minder bosluis- en oogsiektes gekry. Dié siektes kom gereeld op sy plaas voor omdat hy baie vleiweidings het. Die dipkoste is dus nou laer.
Venter het die halfkruisversies gehou en kommersieel daarmee begin boer. Soos boere maar maak, het hy deur die jare sy kruisbeeste oor die grensdraad met die bure s'n vergelyk. Hy was oortuig sy halfkruise vaar beter as ander kruisings en rasegte beeste.
Dit was genoeg rede om sy Afrisimkudde gaandeweg te vergroot. Hy gaan ook steeds met die Simmentalers aan. Laasgenoemde het steeds 'n volwaardige plek in die Suid-Afrikaanse beesopset.
Venter se vereistes vir seleksie is:
Die versies kry kans om groter te word voordat hy hulle op die ouderdom van twee jaar as oop of dragtige verse verkoop. Dit is benewens die verse wat hy hou om sy ouer koeie te vervang. Dié verse kom reeds op 12 maande by die bul sodat hulle op 24 maande kan kalf.
Venter gaan nou sy eie halfkruisbulle by die Afrisimkoeie gebruik. 'n Halfkruis by 'n halfkruis sal volgens die voorgenome rasstandaarde voldoende vir registrasie wees.
'Dit is 'n lekker boerbees'
Die Afrisim is 'n lekker boerbees - mak, gehard en maklik om op die veld en in 'n voerkraal af te rond. Aan die woord is mnr. Schalk de Jager, voorsitter van die Afrikanerbeestelersgenootskap. Hy boer op Broeders-put tussen Vryburg en Delareyville.
Dié genootskap gaan die nuwe beesras se registrasie hanteer. Mnre. Charl van Rooyen, die genootskap se adviseur, en Lynton Vermaak van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Diereverbetering is besig om rasstandaarde op te stel. Daarna sal hulle by die Registrateur vir Veeverbetering aansoek doen om die ras te registreer.
De Jager sê die Afrikaner se kruisteelvermoë en vermoë om gewenste eienskappe aan ander rasse oor te dra, is welbekend. Dié eienskappe sluit in aanpasbaarheid, gehardheid, goeie moeder-eienskappe, 'n vermoë om op die veld afgerond te word en goeie vleisgehalte. Die koeie kalf ook maklik. Daarby is die diere se gladde haarkleed waardevol.
"Die Afrikaner is in Afrika geteel en hier aangepas en is dus baie gehard. Hierdie eienskappe, tesame met die Simmentaler se goeie eienskappe, bring die beste van twee wêrelde in die Afrisim byeen.
"As 'n mens mooi dink oor die vleisbedryf se toekoms in Suid-Afrika, is daar twee baie belangrike aspekte, naamlik die vermoë van 'n bees om op die veld afgerond te word en vleisgehalte," sê hy. Afronding is goedkoper op die veld.
Neem ook die grootte van 'n koei wat op die veld aangehou word in aanmerking. Weens hoë insetkoste is dit nie altyd vir die boer moontlik om 'n bees byvoeding te gee nie. Hoe swaarder die koei, hoe minder beeste kan per hektaar aangehou word. 'n Koei se basiese onderhoud word deur die raamgrootte bepaal. 'n Mediumgroot dier, soos die Afrikaner en Simmentaler en dus ook die Afrisim, is dus ideaal, want die druk op die veld is nie te groot nie.
Aangepastheid is ook belangrik, want die koei moet die vermoë hê om vir haar en 'n kalf op die veld te sorg en steeds in 'n goeie kondisie te bly om weer maklik dragtig te raak.
Dit is in hierdie opsig wat baie beesboere onder 'n wanindruk oor die Afrikaner verkeer, sê De Jager. Volgens hom sê te veel mense verkeerdelik die Afrikaner is nie vrugbaar nie. Sy eie kudde se tussenkalfperiode (TKP) is minder as 400 dae, en ál hierdie koeie is slegs op natuurlike veld. Hy plant nie graan nie en die beeste het dus nie toegang tot oesreste in die winter nie. Die ma van die bul wat mnr. Jan Hattingh, 'n Simmentalerteler van Delareyville, gebruik om sy Afrisimkudde mee te begin, het 'n TKP van slegs 358 dae ná vier kalwers. Drie van sy ander koeie het 'n TKP van onderskeidelik 347 dae, 351 dae en 360 dae ná vyf kalwers.
Dit is sulke goeie eienskappe wat De Jager na sy Afrisims wil oordra sodat hulle, soos sy Afrikaners, op gemengde harde veld met baie kareebome en klippe kan oorleef en reproduseer - toestande wat nie maklik vir 'n bees en 'n veeboer is nie.
Min moeite, groot sukses
Die Afrisim sal suksesvol en gewild wees omdat telers landwyd 'n behoefte aan 'n moeitevrye "boerbees" het, sê mnr. Charl van Rooyen, veekundige raadgewer van die Afrikanerbeestelersgenootskap.
Volgens Van Rooyen leen die kombinasie van Simmentaler en Afrikaner hom uitstekend hiertoe. Hy grond sy waarneming op sy landwye betrokkenheid by seleksie en teling.
Die beoogde raskombinasie van die Afrisim is 50% Afrikaner en 50 % Simmentaler. In die teling van die nuwe beesras sal daar aanvanklik verskeie raskombinasiemoontlikhede wees. Dit is egter belangrik dat geen diere wat vir die teling van die Afrisim gebruik word enige ander beesras as die Simmentaler en Afrikaner verteenwoordig nie.
Die basisdiere kan tipiese Afrikanerkoeie wees wat met geregistreerde Simmentalerbulle gepaar word, of tipiese Simmentalerkoeie wat met geregistreerde Afrikanerbulle gepaar word. Hierdie nageslag sal as F1-diere aanvaar word.
Hy sê vroulike diere wat tans, ongeag die raskombinasie, as 'n Afrikaner-Simmentalerkruising geïdentifiseer kan word, maar waarvan een of albei ouers nie geïdentifiseer kan word nie, sal ook as F1-diere beskou word.
'Pak bul by die horings'
"Ek gaan hierdie bul by die horings pak," sê mnr. Jan Hattingh, 'n gesoute Simmentalerteler van Delareyville. Hy het ook met die Afrisim begin boer.
Hy teel al 26 jaar lank Simmentalers, is lief vir hierdie ras en hou baie van die mooi, mak beeste wat so maklik hanteer.
Hattingh se ideaal was nog altyd om by 'n kruisras betrokke te raak waarby die Simmentaler 'n sleutelrol speel. Toe die Simbra uit die Simmentaler en Brahman geteel is, het die temperament hom gepla, want ander boere hou nog altyd vol dat die Brahman 'n hardekwas bees is.
Ander boere se Simmentaler-Afrikanerkruisings het hom begin opval. "Mense soek sulke kruisbulle. Die logiese stap was dus om hierdie halfkruise te veredel. Nou is die Afrisim byna daar," vertel hy op sy plaas, waar hy eers met mielies geboer het, maar deesdae min plant en op die meeste van sy lande aangeplante weidings (Smutsvinger en bloubuffelsgras) gevestig het om die natuurlike veld aan te vul.
Die Afrisim se goeie temperament (wat hom maklik hanteerbaar maak) en goeie uiers met baie melk en spene wat nie te groot is nie en goed geplaas is, is die eienskappe wat hom veral beïndruk.
Hierdie teler begin op klein skaal met 'n halfkruis-Afrisimbul van mnr. Nico Venter en verse wat hy gekoop het. Hy gebruik ook 'n Afrikanerbul van mnr. Schalk de Jager, voorsitter van die Afrikaner-beestelersgenootskap. Hattingh gebruik dié bul by sy Simmentalers om Afrisims te teel, terwyl De Jager 'n Simmentalerbul van Hattingh by sy Afrikanerkoeie het.
Hattingh sê die mediumraam van die beeste wat uit hierdie kruisings kom, is 'n groot voordeel weens die beeste se kleiner voedingsbehoeftes. Nog pluspunte is die goeie moedereienskappe, gehardheid en weerstand teen bosluise. Hierdie parasiete veroorsaak groot probleme in die omgewing van Delareyville, met gevolglike uitbrekings van galsiekte. Die halfkruise hoef minder gedip te word en verg in die algemeen minder bestuur.
Afrika se beesboere hou in die algemeen van rooi beeste. Dus is die Afrisim se kleur ook reg.
23 Februarie 2006