Veeboere moet betyds voorsorg tref teen parasiete wat nou al hoe meer kan kop uitsteek ná die afgelope paar weke se bogemiddelde reën wat wyd in die somerreëngebied geval het. Die reën het verligting vir die landbou gebring, maar terselfdertyd die ideale omgewing en toestande vir parasiete geskep.
Die nat, vogtige toestande ná die goeie somerreën, tesame met die warm Suid-Afrikaanse son, skep 'n uiters gunstige teelaarde vir 'n ontploffing in die getalle van inwendige en uitwendige parasiete by vee. Parasiete hou van dié toestande.
Bosluise gaan in die meeste gebiede van die land in ongekende hoeveelhede op diere voorkom. Só 'n uitbreking gebeur gewoonlik onder die boer se neus sonder dat hy raaksien. Teen die tyd dat hy op die probleem ag slaan, is dit gewoonlik al taamlik uitgebrei.
Taktiese behandelings is nou nodig. Ná sulke ongewone reën is dit nodig om diere takties te dip en teen bosluise te behandel. Geen dipmiddel kan steeds doeltreffend wees nadat dit soveel gereën het nie.
Daar moet in gedagte gehou word dat daar vir elke volwasse, volgesuigde wyfiebosluis op 'n dier 147 onvolwasse bosluise is wat nie met die blote oog gesien kan word nie. Dit kan lei tot die uitbreking van bosluisoorgedraagde siektes, soos rooiwater, galsiekte en hartwater. So, dit is duidelik dat voorsorg beter is as nasorg.
Inwendige parasiete hou daarvan om in die klam, groen gras uit te broei. Al hoe meer inwendige parasiete gaan in diere voorkom. Weer is dit nodig om 'n taktiese dosering te doen om die verlies aan produksie te voorkom. Diere sonder inwendige parasiete kan weiding optimaal benut.
Die veld gaan nou 'n baie goeie drakrag hê. Diere kan die veld optimaal benut om in 'n goeie kondisie te wees voor en gedurende die winter. Juis daarom moet hulle nou ontwurm word sodat daar nie 'n situasie is waar hulle met inwendige parasiete om kos moet meeding nie.
Inwendige en uitwendige parasiete in die vorm van wurms en bosluise is egter nie die enigste probleem nie. Ook ander parasiete en siektes, soos die virussiekte bloutong by skape, gaan kop uitsteek - veral in dele van die land waar dit die afgelope paar jaar droog was. Bloutong word deur muggies versprei. Waar dit die afgelope paar jaar te droog was vir die muggies het talle boere nagelaat om teen bloutong in te ent. Ná die reën is daar baie water wat ideaal is vir die uitbroei van die muggies. Teen dié siekte moet boere vroegtydig inent, anders kan van die vee vrek.
By beeste kan daar ook 'n groter voorkoms van knopvelsiekte wees. Dit is nog 'n virussiekte wat deur muggies versprei word. Die uitbreking van dié siekte hou ook verband met kuddes wat glad nie of nie vroegtydig ingeënt is nie.
Sekere ander probleme, soos vrotpootjie by skape en beeste, kan nou kop uitsteek op plase waar dit nie gewoonlik voorkom nie of lanklaas voorgekom het. Dit word gewoonlik veroorsaak as diere lank in modderige toestande staan of as die dele tussen die kloutjies beseer word en dan ingang bied aan bakterieë. Vrotpootjie kan 'n kudde letterlik en figuurlik lamlê. Dit kan voorkom word deur diere in droë, hoërliggende kampe aan te hou en, waar moontlik, voetbaddens te gebruik om die modder te verwyder.
Melkboere moet daarop bedag wees dat daar meer gevalle van mastitis as gewoonlik in hul kuddes kan voorkom omdat die diere in nat, modderige kampe lê en in diep modder loop. Die spene en uiers word sodoende deur omgewingsbakterieë binnegedring wat tot die mastitis lei. Droë kampe en goeie melkstalhigiëne kan sulke gevalle tot 'n minimum beperk.
Met die korrekte voorsorgmaatreëls kan sekere toestande en siektes dus in 'n mate beperk word. Dit moet egter vroegtydig gedoen word om te verseker dat dit die verlangde uitwerking het. Dit is byvoorbeeld taamlik nutteloos om tydens 'n bloutonguitbreking diere teen dié siekte te wil inent. Inentings moet op die regte tyd van die jaar gedoen word om uitbrekings te voorkom.
Ou middel steeds bosluise se baas
Bosluise en droogte is seker die twee grootste probleme waarmee veeboere moet worstel. Volgens 'n beraming van Onderstepoort ly boere jaarliks skade van meer as R500 miljoen. Hartwaterverliese alleen beloop meer as R30 miljoen.
Mnr. Hannes Fourie, 'n beesboer van die plaas Canterbury naby Thabazimbi, se beeste is uit die staanspoor geteister deur die bontpootbosluis wat hartwater veroorsaak. Hy het in 1980 sy Gifboom-Bonsmarastoetery begin, maar dit onlangs verkoop en net kommersiële beeste oorgehou.
Die bosluisplaag begin gewoonlik in die lente en bereik 'n hoogtepunt in die somer. Hy het verskeie middels en metodes gebruik, dikwels sonder sukses. Dompeldip en ander spuitapparate het ook met groot moeite gepaardgegaan.
In 1984 het die eerste opgietmiddel op die mark gekom, naamlik Drastic Deadline (reg. nr. G723, Wet 36 van 1947). Sedertdien het Fourie net hierdie middel gebruik, sonder enige tekens van weerstand. Die produk beheer ook rooiluis.
Maar, waarsku hy, die produk moet oordeelkundig gebruik word om die maksimum uitwerking te hê. In die somer behandel hy die beeste al om die ander week as bosluise opgemerk word en in die winter een keer per maand, na gelang van die bosluisgetalle.
Dit verg 'n noukeurige inspeksie-en-bestuursprogram om die beeste gereeld na te gaan om te sien of hulle aangetas word. Bosluise moet ook nie net voor die voet uitgeroei word nie, anders verloor die beeste hul immuniteit. In Februarie en Maart wissel hy soms sy dipprogram af om vlieë te bestry.
Afgesien van beeste, het hy 'n verskeidenheid wild, insluitende rooibokke, koedoes, waterbokke en gemsbokke. "Dit is opvallend dat die wild weinig bosluisbesmettings opdoen wanneer bosluise by die beeste in toom gehou word," sê Fourie.
17 Maart 2006