Landbou
Stroomop melkskuif loon
Deur THEUNS BOTHA

Baie is al geskryf oor die verskuiwing van melkproduksie van die binneland na die kusgebiede in Suid-Afrika. 'n Bekende boer het egter die teenoorgestelde gedoen. Hy vertel hoekom.

Dit is 'n miernes van bedrywigheid soos een na die ander bestuurs-konsultant, voedingkundige of vee-arts op die plaas Wynandskraal in die Kookhuis-omgewing toesak en 'n rukkie later weer vertrek.

Genestel in 'n kom waar die Visrivier met 'n wye perdeskoendraai die groen landerye onder spilpuntbesproeiing omhels, staan 'n indrukwekkende staal- en baksteenstruktuur - die Mooimelk-koeihotel.

Sowat 1 500 Holsteinkoeie word van vyfuur smôrens tot elfuur saans gemelk op die Australiese Rockwood-betondraaitafel met 50 punte, wat elke sewe minute 'n omwenteling voltooi. Altesame 4 600 koeie word gedurende die 16 uur wat die proses duur, met die Waikato-melkmasjien van Nieu-Seeland gemelk.

Mnr. Gerdie Landman, hoof van die familietrust (sy vrou, Lorenda, en seun, Chris, is die mede-trustees), sê die besluit om hul melkbedrywighede van die kus na die Visriviervallei uit te brei, is nie ligtelik geneem nie. "Om die waarheid te sê, was ek ná 20 jaar darem bra moeg om met maer koeie sonder genoeg besproeiingswater op die grasweidings aan die kus te boer.

"In die Tsitsikamma is dit nie net die grensdraad om jou plaas wat jou verhinder om horisontaal uit te brei nie. Daar is 'n plafon wat produksie per koei weens die lang stapafstande aan bande lê.

"Dit was ondenkbaar om op die huurgrond duur voergeriewe te bou. Boonop moes die ruvoer 300 km ver uit die Visriviervallei aangery word."

Dit was egter nie net die vooruitsig van vetter diere nie, maar ook die betreklik laer grondpryse (sowat R25 000/ha vergeleke met die R40 000/ha in die Tsitsikamma) wat die gesin laat besluit het om die sprong te waag. Die geluksgodin was ook aan hul kant. Een van die kroonplase in die vallei, wat deur buitelanders besit en as volstruisplaas bedryf is, is gelikwideer. Ná lang onderhandelinge het die gesin die plaas gekoop.

"In die Visriviervallei is die twee belangrikste hulpbronne in melkboerdery, naamlik water en voer, volop. Die koste van die 12 500 m3 water per hektaar uit die Gariepdam vir besproeiing is R450/ha per jaar. Wynandskraal het egter 'n turbinestelsel wat ons in staat stel om 250 ha lande oorhoofs te besproei sonder enige pompkoste. Dié besparing beloop nagenoeg R75 000 per maand.

"Genoeg mielie- en hawerkuilvoer word in die vallei met sy vrugbare alluviale grond met 'n pH van 7 geproduseer. Lusern gedy in dié streek se klimaat, wat beteken dat geen stikstof, soos aan die kus, gekoop hoef te word om die aangeplante weidings deurlopend te bemes nie."

In teenstelling met die hoofsaaklik weidingstelsels in die Tsitsikamma, waar melkproduksie hoofsaaklik deur reënval en die gehalte van die weiding bepaal word, kan dieselfde diere se produksie in die Visriviervallei in 'n volvoerstelsel aansienlik opgestoot word. Die koeie hoef ook nie lang afstande te loop om kos te kry nie. Die voer word na hulle aangery.

"Waar dit in die Tsitsikamma moeilik is om meer as 1 000 koeie per melkstal te hanteer, kan tot 2 500 koeie met gemak per dag in melkrantsoenvoerstelsels in die vallei in een moderne stal gemelk word."

Ofskoon die koste om 'n liter melk te produseer in albei streke nagenoeg dieselfde is, word groot besparings vanweë skaalvoordele met 'n groter deurset in die melkstal behaal (berig op bl. 16). Aan die kus het hulle tussen 8 000 en 12 000 liter melk per dag geproduseer. By die koeihotel word daar nou tot drie keer meer melk per dag gelewer, met minder wisseling in produksie deur die jaar.

Wynandskraal, wat 310 ha groot is, stel die Landmans in staat om genoeg kos vir 1 200 melkkoeie te produseer. Vir die ander koeie, waarvan 300 droë beeste is, word voer by die bure gekoop. Bloot die feit dat dit nie oor 'n lang afstand gekarwei hoef te word nie, gee aan die Landmans 'n voordeel van sowat 20 % op ruvoerkoste.

Gerdie meen een van die grootste foute in die landbou is dat boere té onafhanklik wil wees. "Ek was ook een van die mense wat altyd gepraat het van my koeie, my plaas, my werktuie waarvan ék die baas is. Vandag besef ons watter voordele daarin is om kontrakteurs te gebruik. In plaas daarvan om duur werktuie en trekkers aan te skaf, kan ons nou eerder die kapitaal aanwend om meer koeie te koop."

Oor die rede waarom hy talle versoeke van Landbouweekblad om vroeër oor die onderneming te skryf van die hand gewys het, antwoord hy dat hy eers seker wou maak dat dit behoorlik op dreef is. "Ná 18 maande wat ons hier melk, is ek nou oortuig die stelsel werk en dat die basiese voetwerk reg gedoen is. Die feit dat die vermoë van die stal en melktenks vinnig benut was, het tot groter produktiwiteit gelei. Drie maande nadat ons oorgeskuif het, was die eerste melktenk van 31 000 liter daagliks vol. Ons doelwit bly om so gou moontlik 2 500 koeie te melk." Die melk word daagliks oor 1 000 km met 'n tenkwa met 'n inhoudsvermoë van 31 000 liter na Parmalat se verwerkingsaanleg in Kyalami vervoer, waar dit hoofsaaklik tot jogurt verwerk word.

In 1993 het die Landmans die eerste keer een miljoen liter melk vir die jaar gelewer. Nou, 12 jaar later, produseer hulle reeds 1 miljoen liter per maand. Die produksie sal verdubbel wanneer hulle teen hul volle vermoë melk.

Meer as net 'n koeihotel
Om die infrastruktuur op die plaas Wynandskraal ten beste te benut, het mnr. Gerdie Landman, sy vrou, Lorenda, en seun, Chris, 'n vernuftige plan bedink. Hulle het besluit om 'n "hotel" vir koeie op te rig waar nie net hul eie melkbeeste nie, maar ook dié van hul bure teen 'n tarief versorg en gemelk kan word. Beleggers kry ook die geleentheid om kapitaal teen 'n vaste opbrengs in die melkbeeste te belê.

Om die bure se koeie te melk, hou voordele vir albei partye in, sê die Landmans. Hoewel hulle R6/koei per dag vra om die koeie te melk en te voer (die bure verskaf hul eie voer), geniet die bure die voordeel van 'n hoër melkprys omdat die Mooimelk-koeihotel as 'n eenstop-oplaaipunt beskou word. Die bure het ook nie nodig om geld in 'n melkstal te belê en na hul koeie se welsyn om te sien nie. Dit is die koeihotel se verantwoordelikheid.

Die bure behou 'n groot mate van onafhanklikheid. Hulle kan kies hoe die rantsoene saamgestel en watter teelmateriaal in hul kudde gebruik moet word.

Die Landmans het ook 'n skema vir boere wat byvoorbeeld wil aftree of enige ander persoon wat 'n belegging in die landbou wil maak. Eerder as om inkomstebelasting op die vee, wat by staking van die boerdery verkoop word, aan die Ontvanger te betaal, kan koeie aangeskaf word wat by die koeihotel aangehou word. 'n Gewaarborgde maandelikse inkomste (sowat 15 % opbrengs op die aanvangskapitaal per jaar) word maandeliks aan beleggers uitbetaal.

Hulle verkies om namens die beleggers koeie te koop wat aan sekere gesondheid- en gehaltestandaarde voldoen. Die belegger ontvang 'n sertifikaat wat die waarde van die diere aandui asook 'n waarborg dat hulle aan die einde van die kontraktermyn weer minstens dieselfde prys vir hul diere sal ontvang. Enige koei wat vrek of uitgeskot word, is vir die rekening van die koeihotel.

Die groot voordeel van eienaarskap van melkbeeste is die kapitaal wat oor jare met inflasie tred hou, sê die Landmans.

Produksie só verhoog
Om 'n koei tot vier keer per dag te melk, hou bewese fisiologiese voordele vir die koei in, sê mnr. Gerdie Landman van die Mooimelk-koeihotel. Om dié praktyk gedurende die eerste 60 dae van 'n koei se laktasie te volg, verlig voortdurend die druk op die uier wat op sy beurt uierweefsel-ontwikkeling stimuleer en help om die somatiese seltelling te verlaag.

Die melkproduksie van daardie koeie kon danksy dié metode met 14 % tot 18 % verhoog word. Hoë produseerders kan vir ses maande lank vier keer per dag gemelk word. Wanneer die koeie in die later deel van hul laktasie is, word hulle twee keer per dag gemelk.

Die stelsel is net prakties moontlik as die totale melktyd meer as 6 uur op 'n slag is. Die koeie wat dus vier keer per dag gemelk word, word eerste en weer laaste in dieselfde melkskof deur dieselfde personeel gemelk.

"Die voerstrategie is om meer ruvoer en minder kragvoer in die rantsoene in te sluit. Voeding in 'n verhouding van 40 % kragvoer en 60 % ruvoer (mieliekuilvoer en groen gekapte lusern in die somer en lusernhooi en hawergroenvoer in die winter) word gebruik. Die stalgemiddelde vir die koeihotel wissel deur die jaar van 22 liter per koei tot 27 liter per koei, met 'n bottervetinhoud van 3,8 % en 'n proteïeninhoud van 3,4 %.

Die Landmans gebruik hoofsaaklik kunsmatige inseminasie, maar gebruik ook top-Holsteinbulle by koeie wat herhaaldelik geïnsemineer is. Hoewel hulle semen van bulle van verskillende lande gebruik, bly hulle lojaal teenoor die plaaslike bedryf en koop hoofsaaklik Taurus se semen. Dit sluit toetssemen van Holland in.

31 Maart 2006