Landbou
Topbulle nie so duur met teelskema
Chris Jooste

Soveel sukses word behaal met ’n groepteelskema waar bulle geïdentifiseer word wat in veldtoestande produseer en reproduseer, dat dié projek wat met 6 telers en 45 bulle begin het, die afgelope agt jaar tot 20 telers met 232 bulle gegroei het.
Meer as 20 000 teelkoeie is hierby betrokke, wat beteken dat hulle ’n wye keuse van teelmateriaal het. Hulle kan ook meer jong bulle by hul jong koeie plaas en die bulle verwissel vinniger.
Dr. Hannes Dreyer, veekundige konsultant van Vrede, het die Vrede-bulteeltgroep, ’n veldbul-groepteelskema, begin en is steeds daarby betrokke. Hy sê twintig jaar gelede het boere hul eie bulle op die plaas geteel en elke “mooi” speenkalf is as ’n teelbul gehou. Nie een van die diere se prestasie is gemeet nie.
Met die huidige toets word ál die deelnemers se bulle bymekaar gebring en die swakste presteerders word uitgeskakel. Deur bulle met mekaar uit te ruil, word inteling voorkom. Die deelnemers spaar baie omdat die bulle uit die skema goedkoper is omdat die teler sy eie speenkalwers gebruik. Dit kos sowat R1 000 stuk om die bulle te laat toets. Die eienaar kan self besluit of hy sy bulle voor die dekseisoen gaan voer en hoeveel hy gaan voer.
Aanvanklik het drie groepe bestaan waarbinne die eienaars die bulle op rotasie-grondslag aangehou het. In Junie 1998 is die drie groepe gekonsolideer in een groep wat op die plaas Paardenplaat van mnr. Martin Tromp aangehou word.
Die resultate was só bevredigend dat die deelnemers sedertdien jaarliks meer geword het. Aanvanklik was van die deelnemers stoettelers, maar almal is nou kommersiële beesboere. Die bulle is almal ’n funksionele tipe.
Die veldbultoets begin elke jaar op 1 Junie en sluit op 31 Maart die volgende jaar af. Die toets word in ’n somer- en winterstadium verdeel. Op speenouderdom selekteer die teler self sy beste kalwers. Sowat ’n maand later word die finale seleksie gedoen. As die teler dit verkies, doen Dreyer die finale seleksie. Die aantal bulkalwers wat geselekteer word, wissel volgens die teler se behoefte.
Telers van omliggende distrikte, soos Volksrust, Perdekop, Standerton, Robertsdrif, Cornelia, Reitz en Warden, neem ook aan die toets deel. Elke kalf moet met inname die teler se brandmerk hê en kry dan ’n oorplaatjie met ’n nommer. Wanneer ’n dier siek word, word dit só aangeteken.
Kalwers van koeie wat oorgeslaan het, word nie in die toets toegelaat nie. Die beste kalwers is gewoonlik dié wat eerste in die kalfseisoen gebore word. Dit is ook gewoonlik die vrugbaarder koeie wat eers-te kalf.
Voor die toets begin, deurloop die diere ’n aanpassingstydperk van 14 dae. Die bulle word geweeg en volgens gewig in twee of drie groepe verdeel sodat die mededinging onder die diere regverdig kan wees.
Die bulle se inligting word verwerk en hulle kry alle nodige inentings teen siektes, soos sponssiekte, miltsiekte, lamsiekte, pasteurellose, knopvelsiekte en driedae-stywesiekte. Hulle word ook vir inwendige parasiete gedip en gedoseer – ’n praktyk wat in die somer, wanneer parasiete volop is, herhaal word. Die bulle word elke 28 dae geweeg en ’n winter- en somerverslag aan die telers gestuur.
In die winterstadium kry die bulle ’n spesiale, gemengde proteïenlek wat vir die groei van jong bulle op die veld saamgestel is. Die diere wei op die winterveld en ontvang daagliks Eragrostis-hooibale. Hulle kry geen graanprodukte nie.
In die somer, wanneer genoeg gras be-skikbaar is, kry die bulle ’n somerlek wat uit sout, fosfaat en 10 % proteïen bestaan. In die somer is die gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) 1,2 kg. Sommige bulle groei 1,8 kg/dag. Tydens die toets word punte vir kondisie, bespiering en temperament toegeken.
Wanneer die toets afgesluit word, word die testikels gemeet en ál die inligting verwerk. Die finale inligting word uitgedruk in ’n ekonomiese indeks wat ’n samevatting is van al die data. Pelvisgroottes gaan in die toekoms ook gemeet word.
Drie senior beeskeurders keur die bulle wanneer die toets afgesluit word. Keuring is streng en volgens indekssyfers vir die GDT, skrotum, bespiering, kondisie, temperament, Kleiber, veld-voeromsetting, ekonomiese indekse en visuele beoordeling. Die diere word in groepe A, B en C gekeur. Die A-bulle is die toppresteerders volgens indekssy-fers en visuele beoordeling. Die B-bul-le het swakker indekssyfers of vertoon swakker. Dié bulle kan in kuddes gebruik word, maar die aanbeveling is dat net A-bulle gebruik word. Die C-bulle is dié met swak indekssyfers en ’n visuele diskwalifikasie. Alle C-bulle moet geslag word.
Ná die keuring kry die bulle ’n A-, B- of C-brandmerk, volgens sy keuring, op sy linkerblad. Die voordeel is dat al verloor die dier die oorplaatjie, kan ’n bul later deur sy teler uitgeken word. Dit help ook om die bulle ná ’n teelseisoen te monitor.
Wanneer die toets afgesluit word, kom die telers na die plaas waar die toets uitgevoer word. Net A-bulle word dan onder telers geroteer om teelmateriaal uit te ruil. Die telers moet self die bulle vir vrugbaarheid laat toets voordat hulle na die koeikudde gaan. Hierdie bulle word glad nie op kragvoer afgerond nie en die kondisie van die bulle op die veld verbeter elke jaar.
Dit moet beklemtoon word dat hierdie nie kruisrasbulle is nie aangesien die meeste van hierdie telers al 20 jaar of langer met dieselfde tipe beeste boer. Mnr. Johan Koen van die plaas Willowgrove is een van die telers wat al jare lank aan die groepteelskema deelneem. Sedert hy die veldaangepaste bulle van die klub gebruik, het hy nog nie weer ’n duur, vetgevoerde bul gekoop nie. Die skema beteken dat hy meer bulle be-skikbaar het. Die vinnige verwisseling van die bulle maak vir hom ’n baie groot verskil aan sy kudde en sy genetiese vordering is vinniger omdat sy geslagsinterval verlaag.
Hy sê hy kan die vordering in sy kudde sien, wat wys dat hy op die regte pad is. Die dragtigheid van sy koeikudde was die afgelope 10 jaar gemiddeld 90 % en hoër. Hy skryf dit daaraan toe dat hy genoeg topbulle beskikbaar het.
In die jongste seisoen het hy ’n dragtigheidsyfer van 100 % in sy verskudde van 88 diere. Hy het 11 bulletjies van 18 maande oud gebruik en hulle afgewissel deur eers 6 bulletjies 10 dae lank by die verse te laat en toe weer 5 bulletjies vir nóg 10 dae.
Hy kan die kudde se vordering ook daarin sien dat die kudde ’n gemiddelde speengewig van 240 kg het. Die speengewig het die afgelope aantal jare aansienlik verhoog, wat vir hom ’n aanduiding van die diere se aanpasbaarheid is. Hy sê die grootste voordeel is dat hy nie duur bulle hoef te koop om dié resultate te behaal nie.
Net soos ál die deelnemers aan die skema is hy baie tevrede met die resultate wat hy in sy kudde behaal met die veldaangepaste bulle waarmee hy jaarliks duisende rande spaar. Pleks van elke jaar ’n aantal bulle met gekoopte bulle te vervang, koop hy nou net elke vyf jaar ’n topbul waarvoor hy duurder kan betaal omdat hy baie gespaar het. Die grootste probleem is om topbulle te kry wat op dieselfde wyse en vir dieselfde eienskappe getoets is. Die enigste plek waar sulke bulle te koop is, is by die veldbulklubs.