'n Wins van 42 % op vleiskapitaal is dié beesboer se belangrikste rede waarom hy met Afrikanerbeeste in die Kalahari boer. Sy goeie resultate is die gevolg van sy bestuurstyl asook dié beesras se unieke eienskappe.
Die Afrikanerbees se plek in die Suid-Afrikaanse boerdery-opset is as 'n ekstensiewe bees en dít is die rigting waarop hy moet hou én voortbou.
Van infusie wil die bekende beesboer mnr. Jan van Zyl niks weet nie, want hy meen dit benadeel net die ras en bring groot verdeeldheid onder telers. "Gelukkig is dit net 'n handjievol telers wat hul heil al twaalf jaar lank daarin soek en steeds net bly soek," sê hy. Hy het self in 'n rasegte Afrikanerkudde gevind waarna hy soek; daarom konsentreer hy op dié beesras se sterk punte en maak geld daaruit.
Van Zyl, 'n beesboer van Vryburg en Olifantshoek wie se Kroon Vee-handelsmerk wyd bekend is, raak opgewonde wanneer hy hieroor gesels.
Hy boer met Afrikanerbeeste op die familieplaas 40 km noordwes van Olifantshoek, waar sy pa, Gideon, bykans 50 jaar gelede met Afrikaners begin boer het. Jan het die tradisie in 2000 voortgesit. Hy boer in tipiese Kalahari-toestande: Sandgrond waarop die soet veldgrasse geil groei, met kameeldoringbome oral.
Dis nie om dowe neute nie dat hulle verlede jaar drie toekennings vir onder-skeidelik die Afrikaner-stoetteler, -teelbul en -koeigroep van die Jaar ontvang het in die kompetisie wat jaarliks deur Landbouweekblad, Breedplan, en Pick 'n Pay aangebied word. "Dié eer is danksy die regte beesras, tipe bees en bestuurstelsel asook die fondamente wat deur my pa gelê is met sy denkrigting dat die beste kommersiële bul ook die regte bul vir sy stoetery is," sê Jan. Hierdie praktyk is deurgaans toegepas met die doel om vleis ekonomies te produseer.
Die Afrikaner is 'n ekstensiewe bees vir ekstensiewe toestande, verduidelik hy, en dit is waar sy toekoms lê, naamlik om natuurlike beesvleis teen 'n lae koste en onderhoud regstreeks van die veld af te produseer. "Die verbruiker verkies mos deesdae natuurlike vleis sonder groeihormone en stimulante."
Hy het die kudde by sy pa oorgeneem toe dié afgetree het. Hy beskryf homself in daardie jare as ongemotiveerd teenoor die Afrikaner. "Ek was 'n gevestigde Brahmanboer by Vryburg,." Van Zyl was egter vasbeslote om suksesvol met Afrikaners te boer. Hy het mnr. Jannie van der Merwe, wat op 'n buurplaas in Olifantshoek grootgeword het, oorreed om sy Afrikanerboerdery te bestuur en die resultaat is ongelooflik. Tabel 1 toon die kudde se rasteelwaardes.
Soos Van Zyl met sy Brahmankudde maak, het hulle van die begin af die Afrikanerboerdery se produksie gemeet.
Dr. André Mentz, 'n bekende beeskenner wat onlangs 'n boek oor beesboerdery in Suid-Afrika gepubliseer het (Perspektiewe oor beesboerdery in Suid-Afrika; R130; Dr. A.H. Mentz, Posbus 9711, Newcastle, 2956) en jare lank 'n voorligter en veekundige navorser in dié gebied, het hom gehelp om norme en 'n bestuurstelsel te formuleer waarbinne hy produksie oor rasse en omgewing heen kan evalueer.
Mentz is 'n sterk voorstander dat nie aan die Afrikanerbees verander moet word nie en dat dié ras as 'n bulras bevorder moet word vir aanwending by kruisgeteelde koeie in kruisteeltstelsels. Sulke nageslag is ideaal vir die speenkalfmark, vervangingsverse en stoorosse om op veld af te rond.
Van Zyl het gevolglik wegbeweeg van die Departement van Landbou se drakragnorme van grootvee-eenhede per hektaar vir distrikte. Hy volg eerder 'n norm van rendement op vleiskapitaal: Hoeveel kilogram vleis hy produseer vir elke 100 kg lewende bees op die veld. Dit geld vir al sy beesrasse. Hy boer met Afrikaners, Brahmane, Simbras en Afrisims.
Die norm by Olifantshoek is 42 kg tot 48 kg Afrikanerbees per hektaar. In Mei (ná die reëntyd) word veldopnames gedoen en bepaal hoeveel kilogram veld beskikbaar is. 'n Bees vreet 3?% van sy liggaamsgewig per dag; daarom kan hy 'n som maak oor die voervloeiprogram, want hy weet hoeveel kilogram lewende bees hy op elke plaaseenheid het en dan word beladings daarvolgens aangepas en verskuif. Tabel 2 toon hoe die rendement sedert 2000 toegeneem het.
"Die hoë rendement, tesame met die ras se gehardheid, aanpasbaarheid, die koeie se goeie tussenkalfperiode en min siektes en vrektes in my kudde, is die redes hoekom ek hier met Afrikaners boer." Voeg daarby die lae onderhoudskoste en langlewendheid, "dan maak ek geld uit Afrikaners."
Hy streef daarna om hierdie rendement verder te verhoog deur vrugbaarheid of kalfpersentasie, speenpersentasie, groei, melkproduksie, aanpasbaarheid, veldbestuur en veldvooruitgang te verbeter en veeverliese en vrektes te verminder.
Die ander gunstige aspekte wat hy noem, is te danke aan die bestuurstelsel wat daarop gemik is om verliese te beperk en prestasie te optimaliseer. Hy verduidelik hoe dié stelsel werk.
Alle beeste word vier keer per jaar geweeg, naamlik 15 Februarie, 15 Mei, 15 Augustus en 15 November. Dan sien hy ook om na kuddegesondheid, inentings, dragtigheidstoetse, seleksie van diere en die bepaling van bulle se rangorde ten opsigte van hul nageslaggroepe, wat volgens vaars oor die skaal gesorteer en dan teen mekaar opgeweeg word.
Kalwers ouer as nege maande word uit die troppe gehaal. Die meeste is dan reeds 'natuurlik" deur hul ma's gespeen; gevolglik is daar geen sprake van naspeenskok nie. Alle bulkalwers wat gespeen word, gaan in 'n spesifieke jaartalgroep na 'n plaas waar hulle met 'n soutfosfaatlek grootgemaak word en waar die natuur sy eie seleksie te doen. Die kalwers bepaal hul toekoms self en daar is net een van drie uitweë: Slagplaas, verkoop en kuddevaars.
Jong bulle word op grond van hul genetiese potensiaal, eie produksie en verwante beeste se produksie uit die top-produserende koeie in die boerdery gekies en dan by Van Zyl se rasegte kommersiële kuddes getoets sodat hul nageslag geëvalueer kan word. Dit geld ook vir bulle wat hy elders koop. "'n Goeie bul kos nie geld nie; hy maak geld vir jou."
As 'n bul homself bewys het, word hy as kuddevaar in 'n agtkampstelsel na die stoetery oorgeplaas. Hy bly in dié stelsel totdat hy die plaas eendag verlaat. Die koeie word na hom toe oorgeplaas nadat hul teelwaardes, bouvormeienskappe en vorige paringsresultate vergelyk is. Alle koeie se kalwers word ná geboorte geëvalueer om te bepaal of die regte bul by 'n spesifieke koei gebruik is, en of sy nie eerder 'n ander bul nodig het om haar sterk of swak punte aan te vul nie.
Sy nageslag word vier keer per jaar saamgegroepeer en dan word die groepe teen mekaar opgeweeg om te sien of die bul nog sy plek in die kudde verdien. Sy nageslag se produksie en reproduksie word ook met sy medevaars s'n vergelyk om sy rangorde in die kudde te bepaal. Die beste bulle kry die meeste koeie en dié wat nie die paal haal nie, word geslag.
Alle verse wat gespeen word, gaan na die jongversgroep. Met elke weegsessie word die verse swaarder as 330 kg in vier groepe verdeel op grond van voorkoms en teelwaardes, naamlik vir slag, kommersiële gebruik, veilings of vervanging in die stoetery. Die vervangingsverse gaan 42 dae lank na die KI-stelsel (twee siklusse) en daarna na die bulle.
Vroulike diere wat met 'n weegsessie nie dragtig is nie en koeie wat 'n kalf verloor het, word geslag. Kalwers wat swak groei omdat die ma nie genoeg melk het nie, word met ma en al uitgeskot. "Hulle pas nie in by die kudde nie," sê Van Zyl.
Al die grootuierkoeie word na die opstal gebring om te kalf. Sodra 'n koei uit die veld weggeneem word, trek Van der Merwe haar naam dood in sy veldboek waarin hy die Afrikanerboerdery monitor. Alle inligting van die beeste op die plaas word daarin aangeteken. Sy veldboek het ook aantekeninge van vorige paringsbesluite en resultate, want alle kalwers word met geboorte en speentyd geëvalueer. Dit lê die grondslag vir korrekte paringsbesluite, want elke koei word op grond daarvan, asook haar en die bul se teelwaardes, by die teelbul geplaas wat haar die beste sal aanvul.
Al die inligting in Van der Merwe se veldboek word deur Van Zyl se vrou, Irma, gekopieer vir haar rekord- en boekhoustelsel op die rekenaar.
Die koeie wat gekalf het, bly twee weke lank in 'n kamp by die huis en word dan weer veld toe gejaag nadat die kalwers getatoeëer en die bulkalwers onthoring is.
Kroon Vee volg nie 'n kalftyd nie. Twee dekades gelede het hy 'n kontrak met OK Voedsel beding (wat hy vandag nog het) om reg deur die jaar weekliks vleis te lewer. Hulle moes dus sorg dat hul deurlopend slagbeeste het en het van 'n kalftyd afgesien. Toe die dektyd gestaak is, is 8 % meer kalwers gebore.
Van Zyl volg hierdie stelsel met al sy kuddes stoet én kommersieel. Dit het hom in staat gestel om sy Brahmanstoetery uit te bou tot die grootste in die land. Hy het ook op twee na die grootste Afrikanerstoetery, 'n kommersiële kudde, osboerdery en Simbrastoetery. Hy het ook begin om Afrisims te teel.
Hy sluit af: Die Afrikanerbees is 'n ekstensiewe bees wat uitstekend by sulke harde toestande aangepas is en puik presteer...mits die boer se bestuurstelsel reg is, hy vir homself duidelike, haalbare doelwitte gestel het, die roete na sy doelwitte uitgestippel het, konstruktief na dié doelwitte toe werk en sy vordering bly monitor.
Landbouweekblad 20 Oktober 2006