Beskuit is nie net 'n lekkerny vir mense nie. Diere is glo net so lief daarvoor. 'n Oos-Kaapse boer het 'n sakegeleentheid raakgesien en gebruik beskuit nou in veevoer en selfs in hondepille.
Min mense sal beskuit met veevoer en hondepille vereenselwig. Tog het 'n boer van Molteno, mnr. Meyburgh Erasmus van die plaas Liebe, suksesvol daarin geslaag om 'n veevoerfabriek, met beskuit en aalwyn in die mengsels, op die been te bring.
Erasmus se fabriek, Stormberg Voere, vervaardig skaapkorrels, lekblokke vir skape, beeste en wild, blokke wat verhoed dat diere in lusernlande opblaas, varkkos, meel vir melkbeeste, hoenderkos en hondekos. Sy beskuit- en aalwynbyvoegings het aan hom unieke nismarkte besorg, met 'n stewige invloed op sy bankbalans.
Om beskuitkrummels vir vee te voer, is nie oorspronklik sy idee nie, vertel hy.
"Boere in die omgewing koop al jare lank afvalbeskuitkrummels by die Ouma-beskuitfabriek buite die dorp en voer dit vir hul vee. Veral melkkoeie en skape floreer daarop. Dit is algemeen bekend in die omgewing dat beskuit melkproduksie opstoot en vee vet maak. Dit is 'n gaar produk wat regstreeks opneembare energie verskaf en baie vet en suiker bevat."
Die waarde van aalwyn in dierevoer word onderskat, meen Erasmus.
"Aalwyn bestry bosluise en vlooie op honde. Dit is veral nuttig vir boere met honde wat gedurig aan bosluise en vlooie blootgestel is, soos skaaphonde, jaghonde en Anatoliese herdershonde."
Die idee van 'n veevoerfabriek op sy plaas het ontstaan nadat Erasmus in finansiële moeilikheid beland het.
"Ek het in 1988, toe die wolprys nog hoog was, 1 400 hektaar grond bygekoop (hy het in daardie stadium reeds 1 400 hektaar gehad). Ek het nooit kon raai dat die wolprys in só 'n mate sou daal dat ek nie meer my plaas se paaiemente sou kon bekostig nie en dat my plaaswerkers die gevaar sou loop om hul werk te verloor."
Hy het nie vir een van hierdie twee opsies kans gesien nie.
"Ek moes iets doen wat my in staat sou stel om my plaas se paaiemente te bekostig en om terselfdertyd my vyf werkers te behou.
"Ek het een aand moedeloos in my bed gelê en die Here vir 'n uitweg uit my finansiële moeras gevra. Dit het skielik by my opgekom om 'n veevoerfabriek op die plaas te begin."
Hy het die fabriek in 1990 begin en gou sukses behaal. Hy kon nie net sy plaas se paaiemente bekostig nie, maar nog 3 500 hektaar grond bykoop. Die onderneming is in 'n franchise omgeskep en hy kon sy arbeidsmag uitbrei.
"Ek moet in alle eerlikheid my sukses aan die genade van die Here toeskryf.
"Ek het die behoefte aan omgewingsaangepaste veevoer besef. Boere van die omgewing het dadelik nadergestaan met versoeke vir voer volgens elkeen se individuele voorkeure.
"Hulle wou hê ek moes die produkte wat op hul plase beskikbaar is volgens hul spesifieke behoeftes tot volledige, gebalanseerde voere verwerk. Dit spaar hulle geld en verbeter hul produksie."
Die omgewing se boere - hy inkluis - was in daardie stadium afhanklik van voer wat in KwaZulu-Natal en Gauteng vervaardig is en nie noodwendig by die behoeftes in die omgewing aangepas was nie.
Nadat hy by werktuigvervaardigers kers opgesteek het, het hy die nodige toerusting aangeskaf. Daarna is 'n voedingkundige se hulp ingeroep om spesiale veevoermengsels saam te stel wat die tekort aan minerale en vitamiene in die omgewing uit die weg kon ruim.
Beskuitkrummels vorm die basis van hierdie mengsels.
Aalwyn is aanvanklik net by wildsblokke en hondepille gevoeg, maar die afgelope drie jaar is dit ook deel van alle skaap- en beeslekke. Hy het eers heelwat proefnemings met sy eie vee gedoen voordat hy besluit het om aalwyn ook by sy skaap- en beeslekke te sit.
"Ek sal nooit die dag vergeet toe een van my werkers kom vertel het dat die beeste vir die eerste keer bosluisvry was nie."
Die idee van hondepille het eers ná die veevoer ontstaan. Boere vir wie hy veevoer gemaak het, het hom gevra of hy nie ook hondepille kan maak en dit terselfdertyd aflewer nie.
Dieselfde voedingkundige wat met die veevoermengsels gehelp het, is ingespan om 'n hondekos met beskuitkrummels as basis te formuleer. Aalwyn is later bygevoeg weens die baie probleme met bosluiskoors by sy plaashonde. Die aalwynbyvoeging het dadelik die probleem opgelos. Die hondekos word, soos die veevoere, deesdae landwyd bemark.
Die vraag na sy veevoere en hondepille het só vinnig gegroei dat hy kort voor lank die fabriek moes uitbrei. Hy moes sy bestuurs- en bemarkingstrategieë dienooreenkomstig aanpas.
"Ek is in die eerste plek 'n boer en dan eers 'n veevoervervaardiger en franchisehouer. Ek moes bestuurshulp inkry."
Waar hy aanvanklik vyf mense in diens gehad het, het hy nou 24 in diens. Elkeen speel 'n kernrol in die sukses van sy boerdery, meen Erasmus. Afgesien van sy 20 plaaswerkers, help sy melkboer-buurman, mnr. Henk de Wet, hom met die bestuur van die Dohne-stoetery en die kommersiële boerdery.
Erasmus se vrou, Correen, doen sy boeke en is ook die sekretaresse. Sy swaer, mnr. Hannes Schoeman, behartig die aflewerings.
Iemand wat 'n reuse-aandeel in algehele bestuursukses van sy boerdery het, is mnr. Okkie Olivier, 'n bestuurskonsultant van Bloemfontein. Hy bestuur ook Erasmus se franchise.
Die franchise help Erasmus om gebiede te bedien wat ver van hom af is.
"Ek hoef nie self 'n reuse-infrastruktuur te bedryf nie. Die franchises (daar is tans twee - een in Bloemfontein en een in Aliwal-Noord) word deur boere besit en bied dus aan medeboere die geleentheid om hul inkomste in moeilike tye te stabiliseer. Die franchise beteken ook dat hulle nie self die duur veevoerregistrasiegelde hoef te betaal nie."
Hy kry sy beskuitkrummels by die nabygeleë beskuitfabriek. Hy bespaar dus heelwat op vervoerkoste. Hy verbou self 200 hektaar lusern. Sy ander bestanddele koop hy in die Kaap wanneer hy in die winterreëngebiede aflewerings doen.
Veevoer en hondepille word by individuele boere afgelewer, maar word ook deur groot ondernemings versprei.
Hy bemark sy produkte hoofsaaklik aan boere in die Karoo, die Oos-Kaap, die Vrystaat en diegene in die winterreëngebiede. Omdat lekke seisoensgebonde is, is sy verkope in die somerreëngebiede hoog in die wintermaande en laer in die somer. Daarom bemark hy in die somer aan boere in die winterreënstreke.
Goeie dienslewering dra verder by tot die sukses van die onderneming. "Foute word nie geduld nie. Bestellings moet betyds uitgaan. Werkersbonusse volgens produksie het 'n merkwaardige gunstige invloed op produktiwiteit en gehalte."
Die veevoerfabriek vul sy boerdery goed aan, sê Erasmus. Hy hoef nie oortollige werkers af te dank wanneer die vraag afneem nie. Hy kan hulle elders op die plaas gebruik. In die winter help plaaswerkers weer in die fabriek.
Die veevoerfabriek is ook vir sy eie vee voordelig. Erasmus se Dohne-Merino's en Bonsmaras kry optimum byvoeding.
"Hoewel die koste aanvanklik hoog lyk, het my Dohnes verlede jaar top netto winste gelewer gemeet aan dié van ander boere wat by 'n boerderykonsultasiegroep betrokke is. Die geheim lê in die regte lek op die regte tyd vir die regte dier.
"Jy kan maar sê my vee is in die dierehemel," skerts hy.
Landbouweekblad, 12 Januarie 2007