Kommersiële beesboere kan nou deeglik aantekeninge van hul boerdery hou danksy 'n maklike rekenaarprogram wat spesiaal vir boere deur boere ontwikkel is. Dit is die gevolg van jare lange inligtinginsameling deur 'n oud-sakeman wat heeltyds begin boer het.
Hy het 'n behoefte op die gebied van rekordhouding onder beesboere raakgesien. Dit het hom op die idee gebring van 'n eenvoudige rekenaarprogram waarmee boere hul daaglikse bestuursbesluite kan neem en hul boerdery 'n winsgewende onderneming kan maak.
Mnr. Gerald Gray van Grayshaven, Bloemfontein, sê omdat die markte soveel verander het, het boerderye sake-ondernemings geword. Dit moet bedryf word deur dieselfde hoeveelheid aandag aan produksie, verkope en administrasie te gee.
Nadat hy tien jaar gelede heeltyds begin boer het, wou hy sy boerdery met rekordhouding goed bestuur, maar kon nie hulp in die vorm van eenvoudige beesprogramme kry nie. Al die programme was ingewikkeld en deur geleerde mense geskryf, nie deur die boer op die plaas nie.
As sakeman wou hy met die minimum insette die maksimum wins in sy boerdery maak deur die beste praktiese metodes, maar sonder om 'n ingewikkelde stelsel te gebruik. Aanvanklik het hy sy rekordhouding op 'n eenvoudige manier op die rekenaar gedoen. Dit het hom op die idee gebring om 'n program te skryf om die rekordhouding van beeste met die dag-vir-dag-bestuur van die plaas as grondslag te doen.
Saam met mnr. Johan Pienaar, 'n rekenaarkundige, is 'n stelsel ontwerp wat alle praktiese gebeurtenisse op die plaas omvat, van die bysit van die bulle by die troppe, dragtigheidsondersoeke tot by aspekte rondom die kalfproses en speen.
Ander boere het dadelik in die program belang gestel en aan die ontwikkeling daarvan deelgeneem. Heelwat bydraes is ook van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Veeverbeteringskema, SA Stamboek, die Universiteit van die Vrystaat en private maatskappye in die bedryf ontvang.
Die Cattlebase-program is baie gebruikersvriendelik. Die doelwit was dat die gebruiker binne drie klikke van sy muis sy data kan invoer of 'n antwoord deur middel van 'n navraag kan verkry.
Omdat kommersiële beesboere met verskillende rasse boer, geld die program vir alle beesrasse. Dit is volgens die praktiese werking van 'n tipiese beesboerdery geskryf. Aantekeninge van elke faset van die boerdery is op 'n eenvoudige manier in die datastelsel opgeneem.
Die program se inligting oor dragtige koeie, koeie met kalwers en totale getalle in die troppe vergemaklik die bestuur. Die verslae is saam met verskeie plaaswerkers ontwikkel en is ook vir hulle eenvoudig en verstaanbaar.
Vroulike diere wat nie gekalf het nie, kan met 'n verslag oor die hele kudde of oor 'n enkele trop dadelik geïdentifiseer word. Daar is geen raaiwerk nie, net feite en minder foute.
Kalfseleksie is ook nie meer 'n raaiproses nie. Die boer kry die data om die beste presteerders en die vrugbaarste diere te behou in 'n kalfseleksie-verslag. Dit is vir hom 'n hulpmiddel om te keur, waar hy voorheen bloot op die fisieke seleksie van speenkalwers moes staatmaak.
Omdat die program waarsku wanneer 'n bul by 'n familielid geplaas word, is inteling binne 'n kudde nie meer 'n probleem nie.
Alle inligting oor die verhandeling van diere - verkoopsyfers, aan wie diere verkoop is asook alle data van diere wat gekoop is - is beskikbaar.
'n Foto van elke dier word op 'n eenvoudige manier in die program ingetrek met net die digitale kamera se program. Die groot voordeel van die foto is dat dit saam met die volledige inligting oor die dier per e-pos aan voornemende kopers gestuur kan word. Dieselfde geld in die geval van veediefstal sodat die dier maklik uitgeken kan word en die boer die inligting en foto binne sekondes aan die veediefstaleenheid kan versend.
Standaardvorms, soos kalfaantekeninge, is maklik beskikbaar sonder dat die boer dit in 'n ander rekenaarprogram hoef uit te druk. Van die eienskappe wat dit vir die boer gerieflik maak, is 'n adresboek en dagboek.
Gray sê ál die inligting is oor agt jaar beproef en prakties getoets met die hulp van verskeie boere van oor die hele land. Dit gee aan kommersiële beesboere die geleentheid om te selekteer en die beste groei en vordering te kry.
Deur die verbetering van sy kudde kan 'n kommersiële boer vorder totdat hy uiteindelik die volgende stap na 'n stoetery neem. Dan sal hy die beoogde volgende weergawes van die program kan gebruik. Dié weergawes is die gevorderde weergawe vir kommersiële boere, die stoetmodule, 'n gesondheidsmodule en 'n voerkraalmodule. In elke geval lewer kundiges op die betrokke gebied bydraes.
Die data is op só 'n standaard dat 'n boer met gemak by SA Stamboek kan inskakel as hy na 'n stoetery wil oorslaan. Een van die mense wat 'n groot bydrae tot die ontwikkeling van die program gelewer het, is juis mnr. Charl Hunlun van SA Stamboek.
Mnr. Cobus Grobler van Taurus sê die program sal landwyd 'n verbetering in beeskuddes meebring. Hy meen van die boere wat die program gebruik, sal in die toekoms as stoetboere na vore tree.
Mnr. Peter Milton, 'n bekende in die beesbedryf en een van die bemarkers van die program, sê hy steun enige poging om die land se beeskuddes te verbeter, die opbrengs per kilogram te verhoog en die vleisbedryf nog winsgewender te maak.
Mnr. Siebert Vermeulen van die LNR sê rekenaarprogramme maak dit vir die beesboer makliker om doeltreffende diere te identifiseer. Dit is gepas in 'n tydperk wanneer stoet- én kommersiële telers alle beskikbare inligting oor hul kuddes en individuele diere moet gebruik om uitstaande diere te identifiseer.
Gray sê die program help hom om sy doelwit te bereik. Dit is om die vrugbaarste kudde moontlik te hê wat die swaarste kalwers moontlik produseer en waarvan die gehalte van die diere elke jaar sal verbeter totdat hulle só goed is dat hy na 'n stoetboerdery kan oorskakel.
Die program sal ook die deeltydse boer wat in die stad woon se boerderybestuur kan verbeter aangesien sy arbeidsmag nou deel kan word van sy bestuur. Hulle weet nou waarom hulle sekere take moet verrig en kan die resultaat daarvan duidelik in die kudde sien.
Die opkomende boer sal nou van die begin af aantekeninge oor sy diere kan hou en die regte besluite kan neem om sukses vir sy onderneming te verseker.
Landbouweekblad, 6 April 2007.