Met turksvye as weiding vir sy beeste het 'n boer van die Karoo ondanks droogtes nie net deur die jaar voer vir sy vee nie - die drakrag van sy veld is ook aansienlik beter as dié van boere wat nie turksvye beskikbaar het nie.
Risiko is een van die primêre aspekte van boerdery en elke boer moet daarmee rekening hou. In sy geval verlaag die turksvye, wat as beesvoer gebruik word, die risiko aansienlik.
Dit gee in der waarheid 'n beduidende mate van bestendigheid aan sy boerdery, sê mnr. Grant Naudé van die plaas Kriegerspoort, Hanover.
Hoewel die beesboerdery aanvanklik begin is as "versekering" vir die hoofvertakking, wolskape, is dit deesdae 'n volwaardige vertakking van die boerdery - iets wat nie moontlik sou gewees het sonder die turksvye nie.
Mnr. Quentin Naudé, Grant se pa, sê die turksvye is 60 jaar gelede deur sy pa, Fanie, op die plaas geplant nadat hy blaaie teen 'n pennie elk van Nieu-Bethesda af aangery het Richmond toe en 'n kwekery begin het. Sedertdien het die nageslag op die plaas meer geplant.
Die plan met die turksvye was dat dit in droogtetyd as skaapvoer benut kon word. Dit is in die 1960's baie suksesvol gedoen, maar ná die instelling van die vee-onttrekingskema was dit nie weer nodig om dit so te gebruik nie. Intussen is bevind dat beeste die turksvye baie kostedoeltreffender benut as die skape omdat daar geen kerfkoste is nie en die beeste dit net so van die plant af kan vreet. Skape se bekke word seer as hulle van die plant af wei.
Die turksvye laat wel die beeste se mae werk, maar dit belemmer nie die groei nie. Hulle word inderdaad vet met die turksvye in die rantsoen.
Die beeste word in kleinerige kampe met turksvye aangehou. Wanneer die turksvye redelik afgevreet is, word die vee na 'n vars kamp geskuif en die beweide kamp word minstens twee jaar met rus gelaat om te herstel. Deesdae is die hersteltydperk meestal byna drie jaar. Dit kom dus neer op 'n stelsel van drukbeweiding met 'n langer onttrekkingstydperk as gewoonlik. Omdat turksvye nie al die nodige voedingstowwe bevat nie, word die tekorte aangevul met 'n proteïenlek waarby 20 % mieliemeel gevoeg is. Die groot koeie vreet 450 gram tot 500 gram hiervan per dag. Teen 'n gemiddelde inname van 475 gram per dag kos die lek R357 per koei per jaar. Vervangingsverse kry die helfte van die koeie se hoeveelheid lek. Die gewone veldweiding tussen die turksvye is 'n bonus en vorm deel van 'n uitstekende kombinasie. Hoewel die beeste ook op die natuurlike veld wei, kry hulle ál die nodige voedingstowwe uit die turksvye en lek.
Grant sê die verspreiding van die risiko van die beesboerdery is onder die voordele van hul stelsel. Voer is altyd beskikbaar, want die plante groei selfs in droogte en verskaf voer. Deur die jare het dit al herhaaldelik sy waarde bewys in tye wanneer veldweiding min was. Dit skep as 't ware 'n plek binne die boerdery waar bykomende beeste aangehou kan word.
Op die deel van die plaas met die turksvye is die drakrag 1 grootvee-eenheid per 7 hektaar en op die natuurlike veld 1 grootvee-eenheid op 18 hektaar. Die gemiddelde is dus 12 grootvee-eenhede per hektaar.
Goeie groei word in hierdie toestande gehandhaaf. Speenkalwers weeg gemiddeld 230 kg. Teen 'n veronderstelde prys van R12 per kg beteken dit R2 760 per speenkalf.
Bulkalwers het op 1 Junie 2006 gemiddeld 236,5 kg geweeg en verse 228,9 kg. Die diere is weer op 21 November geweeg. Die verse, wat presies die bogenoemde rantsoen gekry het, het gemiddeld 318,15 kg geweeg. Dit beteken 'n gemiddelde daaglikse gewigstoename van 512 gram per dag oor 174 dae. Die bulkalwers se gemiddelde gewig was 385,5 kg. Die enigste verskil was dat hul lek 'n 50:50 proteïen en mieliemeelmengsel was waarvan hulle 1,5 kg per dag gekry het. Hulle het gemiddeld 856 gram per dag gegroei.
Beeste drink minder water as hulle turksvye vreet. 'n Proef is gedoen om vas te stel of die vee sonder water sou kon klaarkom. Hulle het ses weke sonder water geloop. Daar was geen merkbare nadelige uitwerking op die beeste nie, hul kondisie het inderwaarheid verbeter. Dit was in die koeler tyd van die jaar, maar Grant glo nie dat hierdie praktyk in warm somertoestande genoeg vog aan die diere sal bied nie.
In die Drakensbergerstoetery het die turksvye 'n spesiale plek. Aanvanklik is Afrikaners, Herefords en Simmentalers gekruis, maar dit het nie beeste met die gewenste temperament gelewer nie. Vroeg in die 1980's is na 'n kommersiële Drakensbergerkudde oorgeslaan.
In 2003 is die kommersiële kudde geïnspekteer en die Nitique-Drakensbergerstoetery is geregistreer. Tot in daardie stadium het die beeste permanent saam met 'n bul geloop. Toe die kudde 'n stoetery word, is 'n bepaalde kalftyd ingebring. Die kalwers word op 1 Junie gespeen om te verhinder dat kalwers van Junie tot Augustus saam met die ma loop, want dit is koue, harde maande wanneer die diere se kondisie maklik verswak.
Koeie word vir 62 dae van 23 Desember tot 28 Februarie gedek en verse van 23 November af - 'n maand langer dus. Die turksvye se invloed op die stoetery kan daarin gesien word dat 2003 se kalwers in die kalftyd gemiddeld 40 kg swaarder was as dié wat ná die kalftyd aangekom het. Hoewel die diere se gewig nie soveel anders was as dié op ander ekstensiewe plase nie, kan meer beeste aangehou word.
Vir die stoetery is die turksvye dus nuttig. Die kalftyd val presies op die regte tyd sodat die turksvye die beste kos produseer in die vorm van vrugte wanneer die koeie dit die meeste nodig het - as die kalwers drie tot vyf maande oud is. Dit help ook om swaarder kalwers te speen.
Quentin sê die turksvye word meestal onderskat. Die plant se droogtebestandheid en doeltreffende watergebruik is al in 1967 beskryf. Dit het veral waarde in die Karoo waar die reënval 1 keer elke 4 tot 6 jaar 80 % van die gemiddelde is, een uit elke 7 tot 10 jaar 70 % van die gemiddelde en een uit elke 12 tot 20 jaar 60 % van die gemiddelde.
Volgroeide turksvyplante van drie jaar en ouer lewer 20 blaaie van 1,36 kg elk per plant per jaar. Altesame 2 918 plante per hektaar sal dus 3 968 kg per jaar lewer - in teorie sowat 70 skape per hektaar per jaar. In hierdie stadium is die grootste probleem met die turksvye dat Cactoblastis-besmetting die plantestand bedreig.
Landbouweekblad, 4 Mei 2007