Landbou
Boschveld-hoenders loop vry
CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

Nog 'n inskrywing in ons kompetisie vir boerplanne en -patente wat werk. Elke maand word twee wenners aangewys. Hulle wen elk 'n kontantprys van R5 000.

Praat van planne beraam en hierdie boer sing voor in die koor. 'n Wawielstelsel vir vryloophoenders is maar net een van die boereplanne wat deel vorm van die holistiese benadering in sy uitgebreide vee-, hoender-, wild- en graanboerdery.

Hierdie Bosveldboer verleen beslis nuwe betekenis aan die begrip volhoubare landbou, want sowat van boereplanne maak om produksiekoste te verlaag en produktiwiteit te verhoog, terwyl elke faset van die groot boerdery by 'n ander inskakel en dit ondersteun, het 'n mens lanklaas gesien.

Mnr. Mike Bosch van die plaas Mantsole in Radium naby Bela-Bela (Warmbad) boer met 'n inheemse Afrikahoender, die Boschveld, wat hy self geteel het, Beefmaster- en Boranbeeste, wild, Kalahari Red-bokke en Dorperskape.

Sy 50 000 lêhenne is almal in 'n vryloopstelsel en hy lewer groot getalle eiers onder hierdie etiket. Ek het nog skaars my sit in sy ruim plaashuis tussen die doringbome gekry, toe skud hy my wawyd wakker: Hy gaan oor drie jaar 500 000 henne hê. En dit sluit nie eens sy planne vir 'n groot projek in Mosambiek in nie.

Bosch het hierdie hoender uit drie Afrikarasse geteel en dit die Boschveld-hoender genoem, want sy Beefmasterstoetery het dieselfde naam. Bosch het aansoek gedoen om dit as 'n nuwe ras te registreer. Dit sal die eerste sintetiese inheemse hoenderras ('n ras wat uit suiwer rasse saamgestel is) in Suid-Afrika wees.

Die verhaal begin in 1998 toe hy in gesprekke met 'n veewagter oor dipkoste en in daaropvolgende navorsing gehoor het Afrika-hoenderrasse pik bosluise van beeste af.

Hy het honderd kuikens van drie rasse in die hande gekry, naamlik die Venda (goeie eierprodusent), Ovambo (baie gehard) en Matabele (groot hoender). Toe hulle volwasse was, het hy hulle bedags by die veesuipings laat loop waar hulle inderdaad bosluise op die beeste gepik en uiteindelik sy dipkoste gehalveer het.

Die hoenders het met mekaar gekruis. Die uiteinde was dat hy doelgerig begin kruis en uiteindelik sy ideale hoender gehad het: 'n Op en wakker werfhoender, bestand teen siektes, gehard en vrugbaar.

Ander mense wou van die hoenders koop. Bosch het die eerste dagoudkuikens die dag ná sy oudste dogter, Megan, se geboorte verkoop en later ook vier weke en twaalf weke oue hoenders verkwansel. Sowat 800 000 kuikens en hoenders is al deur die plaashek.

Die hoenders was eers in ou varkhokke, maar dit was later te klein. Bosch het toe begin sy huiswerk doen. Die droom van 'n halfmiljoen henne en uitbreidings in Mosambiek het hom laat besef hy moet doelmatig te werk gaan.

Nuwe kuikenhuise het eerste verrys. Daarin is ook 'n groot broeimasjien, want sy klein broeimasjien was te lig in die broek. Die kuikens bly vier weke daar en gaan dan na die uitgroei-eenheid en vandaar tot kort voor hulle begin lê na die lê-eenheid.

Hy het die hokke vir die lêhenne in 'n wawielvorm gebou. Daar is verskillende eenhede. Een eenheid se hoenders meng nooit met die ander nie. Om die verspreiding van siektes te bekamp, het elke eenheid ook sy eie werkers met hul eie kleur oorpakke. Hulle mag nie in die ander eenhede kom nie.

'n Eenheid bestaan uit sewe hokke wat plek vir 20 000 henne elk het. Saam met 'n pakkamer vorm dit die wawiel se speke. Buite-om is 'n hoë veiligheidsheining wat roofdiere uithou.

Elke hok het sy eie vryloopruimte wat 'n drie kwart ha (3 vk.m per hen) beslaan. Die hoenders kan self by klein openinge in die hoenderhok uitgaan om op hul "werf" in die sand te skrop en onder doringbome teen die son te skuil. In die hokke is rakke van ou ysterpale waarop die hoenders slaap. Die eenheid vir sy stoethoenders lyk net so, maar die hoenders het meer vryloopruimte.

Al die geboue is van ou stene uit die varkhokke waarvan hy die hoë mure afgebreek het om beter ventilasie moontlik te maak.

Bosch verkoop nou minder kuikens as voorheen om sy mikpunt van 500 000 henne binne drie jaar te bereik.

Sedert verlede jaar verkoop hy die ook inheemse vryloop-eiers aan uitgesoekte winkels in Gauteng. Hy gaan eersdaags na ander provinsies uitbrei.

Hy kry 65 eiers per 100 henne per dag. Die eiers gaan van die hokke na 'n verpakkingsaanleg waar elke eier 'n stempel in die vorm van 'n doringboom kry en in houers verpak word met Bosch se embleem.

Die eiers se gele het 'n besonder donker geel kleur. Bosch sê dit word normaalweg op 'n skaal van 1 (baie lig) tot 10 (baie donker) gemeet. Algemeen meet eiers 6 tot 7 wees, maar Boschveld-eiers meet sommer buite die maatstaf: 11 tot 15. Geen ekstrak word bygevoeg by die hoenderkos om dit meer oranje-kleurig te kry nie. Bosch s'n is van nature so donker, wat op hoë voedsaamheid en gehalte dui. "Ek dink dit is die enigste vryloop-eiers van 'n inheemse hoenderras in Suid-Afrika en die natuurlikste eiers," sê hy.

Sy geheim is dat hy beginsels van natuurlike en organiese boerdery met die hoenders handhaaf. Hulle kry 'n vryloop-voermengsel en vars lusern elke dag. Daarvoor het Bosch 10 ha lusern onder besproeiing. Die lusern word afgesny en heel aan die hoenders gevoer.

Hy produseer al die mielies vir sy hoenders en plant twee keer per jaar 100 ha wit en geel mielies onder spilpuntbesproeiing. Dis warm genoeg daar om twee oeste te produseer en hy plant ultra-vinnige basters van Pioneer vanaf 1 September. Die gewasse word uit boorgate besproei.

Bosch ruil die wit mielies vir semels wat deel van die hoender- en veerantsoene is. Die geel mielies is vir die hoenders. Hy meng sy groeirantsoene alles self en deur genoeg mielies te verbou, verlaag hy die produksiekoste. Die lêrantsoen word volledig gekoop.

Mielies word vir vier jaar op 'n sirkel geplant en dan volg voersorghum as wisselbougewas. Hierdie weiding is vir die vroulike beeste gedurende die ses weke wat sy seisoen vir kunsmatige inseminasie duur. Hierdie beeste word met elektriese skokdrade beheer om hoëdrukbeweiding teen 150 beeste/ha per dag te doen.

Om produksiekoste verder te verlaag, word alle vervoerwerk vir voer, lekke en eiers met muilwaens op die plaas gedoen.

Die lusernstingels wat die hoenders nie vreet nie, gaan nie verlore nie. Dit word saam met die hoendermis met 'n voerkonsentraat gemeng en vir die beeste, skape en bokke gevoer teen 3 kg per bees in die winter en 1,5 kg in die somer.

Saagsels dien as "beddegoed" vir die hoenders. Dit kom uit sy houtbedryf. Hy saag sekelbos, 'n baie gesogte braaihout, op die plaas en verkoop dit. Die houtmakery bied dus 'n stewige inkomste en lewer 'n gratis inset vir die hoenderboerdery. Eintlik is dit om die plaas te ontbos ter wille van beter weiding, maar die projek dien nou sommer 'n veelvuldige doel.

Die oortollige mis en eierdoppe uit die broeikaste word met boombas uit die houtmakery gemeng en op die besproeiingslande uitgestrooi, die mis as organiese materiaal en eierdoppe vir kalsium en ander minerale. So bou hy sy grond op. "Ek glo daaraan om die grond te voed, nie die plante nie," sê Bosch.

Hy gebruik Kalahari Red-bokke om die gras rondom die hoendereenhede kort te hou. Weens die oorvloed kos in die hoenderhokke is daar rotte en muise wat ook agter gratis kos aan is. As die grond rondom die hokke kaal gevreet is, is hulle huiwerig om daaroor na die hokke toe te hardloop, want uile en ander roofvoëls is altyd op die loer vir 'n smaaklike happie. Hy volg ook 'n chemiese bestrydingsprogram vir knaagdiere.

Bosch is net so 'n planmaker in die ander afdelings van die boerdery. Sy pa, Pieter, het in 1981 van Rhodesië (nou Zimbabwe) na hul huidige plaas getrek. Hy het sy Beefmaster-plan saamgebring en was 'n stigters-lid en later voorsitter van die SA Beefmaster-telersgenootskap. Mike het later ook voorsitter geword. Oom Pieter het intussen afgetree, maar woon nog op die plaas.

Mike, 'n wewenaar met drie kindertjies, Megan en 'n tweeling, Pieter en Margot, het in 1999 proewe met ander beesrasse (Boran, Senepol, Veldmaster en Droughtmaster) begin doen. Die Boran het bo uitgekom en hy boer nou ook met hulle. Die boerdery is op die teel van bulle en teelkoeie gemik en hy bied jaarliks 'n produksieveiling aan.

Die stamme van die sekelbosse wat afgesaag word, word met 'n chemiese middel behandel sodat dit nie weer groei nie. Die drakrag in die kampe wat reeds ontbos is, het verdubbel, sê Bosch, wat 'n groot voorstander van holistiese weidingsbestuur is. In kampe waar die bosse nog nie uitgeroei is nie, het hy 7 ha veld vir een grootvee-eenheid (GVE) nodig, in die ontboste kampe net 4,3 ha/GVE.

Hy doen hoëdrukbeweiding deur groot getalle vee vir kort tydjies te laat wei en vinnig te verskuif, veral as die gras in goeie reëntye vinnig groei. Dit verseker dat die beeste nie die hergroei van die grasse afwei nie, want hulle is al weg uit 'n kamp teen die tyd dat die gras weer begin groei. Die gras kry dus kans om voluit te groei. As die gras te kort afgewei word, benadeel dit hergroei en die wortelstelsel.

Hoëdrukbeweiding laat baie mis en uriene op die grond beland en die hoef-aksie van die groot getalle beeste maak die grond los. So word die grond gevoed.

Die Kalahari Red-bokke help om meer waarde uit sy weiding te put. Hy het ook Dorperskape. Een van sy boereplanne is om twee ou buitebande en visse in elke sementdam by 'n veesuiping te sit. Die bande hou vir een of ander rede die alge in toom en die visse (kurpers en goudvisse) doen die res. Nagblom kom op die plaas voor. Hierdie plante word gemaal en met die veevoer gemeng. Dit hou bosluise en inwendige parasiete in toom. Wetenskaplikes wou met hom hieroor stry, maar Bosch sê sy diere het opsigtelik minder parasiete sedert hy hierdie ou boereraat volg.

Die voëljag wat Bosch drie keer per jaar aanbied, is nog 'n manier om die boerdery-inkomste aan te vul. Hy bied net drie jagte per jaar aan om te voorkom dat die wilde voëls verwilder word. Danksy nougesette aandag aan veiligheid, asook die feit dat daar baie tarentale en fisante is, tel sy jagte onder die beste voëljagte in die land.

Bosch is ook 'n wildboer. Koedoes, rooibokke en vlakvarke kom daar voor. Hy benut die wild om die boerdery-inkomste aan te vul, maar doen dit volhoubaar deur net vyf jagpakkette bestaande uit 'n koedoebul, rooibokram en vlakvark per jaar aan buitelandse jagters te verkoop. Hy laat vang elke vyf jaar die oortollige wild. Nou ja, hoe sê die mense? 'n Boer maak 'n plan. Maar 'n mens kan gerus byvoeg: Mike Bosch maak twee planne . . . of drie . . .

Landbouweekblad, 22 Junie 2007