Daar is soveel voerprogramme as wat daar skoubeeste is. Skoudiervoerders moet een ontwikkel wat hulle die beste pas deur by gesonde basiese beginsels te begin en dit verder uit te bou.
Die regte rantsoen speel 'n belangrike rol in die voorbereiding van skoudiere en die uiteindelike sukses in die skouring. In hierdie artikel in Landbouweekblad se kort reeks van drie artikels waarin gelet word op die fyner punte vir die afronding van beeste vir die skouring, gee 'n kenner raad oor voerprogramme vir skoudiere. In die volgende uitgawe word praktiese riglyne vir skoudiervoeding gegee.
Daar is verskillende maniere om skoudiere te voer. Baie voerders gebruik 'n kommersiële skouvoer wat by 'n voermaatskappy gekoop word. Daar is baie soorte beskikbaar. Dit is gewoonlik 'n goeie produk wat met verloop van tyd ontwikkel is, en op gesonde voedingsbeginsels, navorsing en ondervinding gegrond is.
Ander voerders verkies om hul eie skouvoer te meng. Dit gee hulle groter buigsaamheid en veelsydigheid, maar verg goeie hantering van die onderskeie bestanddele. Spesiale sorg is nodig om die mengsel konstant te hou. Variasie wat deur die mengproses veroorsaak word, kan daartoe lei dat die beeste ophou vreet.
Dit is weliswaar goedkoper om self voer te meng, maar enigiemand wat met die voer van skoubeeste begin, moet liefs 'n kommersiële voer gebruik totdat hulle aan die voerproses gewoond geraak het en die grondbeginsels van beesvoeding goed begryp.
Dit maak nie saak of die skouman 'n kommersiële skouproduk gebruik of sy eie meng nie; hy moet verstaan wat die funksie is van die basiese bestanddele wat in skouvoere gebruik word. Voere wissel na gelang van die verskillende landstreke, maar daar is basiese voedingstowwe wat in die meeste skourantsoene voorkom. Van die algemeenste hiervan is: Proteïen. Soja-, katoen- en sonneblomoliekoek is die algemeenste natuurlike proteïenbronne. Ander proteïen-oliekoekbronne sluit in kanola-oliekoek, veral in die Wes-Kaap. Lusernmeel, waar dit beskikbaar is, kan ook as bron proteïen en vesel in voere gebruik word. Voerneweprodukte, soos koringsemels, mieliegluten 20 en brouersgraan, kan op die regte vlakke ook doeltreffend in skourantsoene benut word.
Die probleem met al hierdie natuurlike proteïenbronne is egter hul tempo en graad van rumenafbreekbaarheid. Dit beperk hul bydrae tot die totale verbyvloeiproteïenpoel (en derhalwe metaboliseerbare proteïenpoel) wat nodig is om die hoë produksievlakke te handhaaf wat by skoubeeste vereis word.
Gelukkig kan die hoë tempo van afbreekbaarheid van plantaardige proteïenbronne (oliekoek) met die regte verwerkingstegnieke te bowe gekom word. Hierdie tegnieke verlaag die tempo van rumenafbreekbaarheid kunsmatig, terwyl dit goeie biobeskikbaarheid vir opname in die dunderm behou. Dit word veral toegepas op die oliekoekbronne wat 'n goeie aminosuurbalans besit (hoër lisien- en metionieninhoud, byvoorbeeld soja- en kanola-oliekoek).
Die produkte wat volgens hierdie tegniek vervaardig is, maak die vervanging moontlik van histories bygevoegde hoë-verbyvloeiproteïen-produkte, soos mieliegluten 60 en vleis-, gehidroliseerde vere-, vis- en bloedmeel, waar faktore soos koste, kommersiële beskikbaarheid, eenvormigheid, aminosuurbalans, verteerbaarheid, biobeskikbaarheid en smaaklikheid hul gebruik beperk het.
Proteïenaanvullings word algemeen in kommersiële voere gebruik en bevat gewoonlik kostedoeltreffende verbyvloeiproteïenbronne, minerale, vitamiene en moontlik ook medisyne en/of ander byvoegings. In die meeste gevalle sal skoumengsels wat 'n hoër persentasie van natuurlike proteïenbronne bevat (veral 'n goeie balans van rumenafbreekbare en rumenverbyvloeibronne) veel beter presteer as dié waarvan die proteïeninhoud slegs van nie-proteïenstikstof, soos ureum, kom. Die gebruik van ureum is egter in orde mits dit teen lae vlakke (minder as 1 % van die rantsoen) gebruik word om veral mikrobiese proteïenproduksie te bevorder.
Energie. 'n Dier wat 'n matige tempo van gewigstoename toon (0,9 kg tot 1,4 kg per dag) het ongeveer 1,5 % van sy gewig in grane en konsentrate nodig om die vereiste energie te verskaf om daardie gewigstoename te handhaaf. Vinnig groeiende beeste (1,5 kg en meer per dag), soos ossies en bulle, kan met veiligheid 2,0 % tot 2,25 % van hul gewig in graan- en konsentraatmengsels gevoer word. Rantsoene met 'n baie hoë graaninhoud (meer as 2,75 % van die liggaamsgewig) kan nadelig vir haargroei wees en verteringsteurnisse veroorsaak as dit nie versigtig gemonitor word nie.
Mielies het 'n hoë energie-inhoud en sal vinnige gewigstoename bewerkstellig en kondisie bevorder. Dit kan in een van verskeie vorms by die rantsoen gevoeg word, wat insluit gemaal, gebreek, gerol of gevlok. Hawer word algemeen as 'n belangrike skouvoerbestanddeel gebruik en is ook redelik ryk aan proteïen en vesel, wat dit ideaal maak om goeie groei aan te help sonder om oormatige kondisie (vet) te bewerkstellig.
Die verhouding van vesel tot stysel in hawer help ook om te voorkom dat beeste verteringsteurnisse, soos suurpens en opblaas, ontwikkel. Dit kan heel of gerol gevoer word. Gars en koring het baie van die eienskappe van hawer, maar het 'n hoër energie-inhoud en sal makliker vetaanpakking by beeste meebring. Gars en koring is albei goeie skouvoerbestanddele en word gewoonlik gerol of gemaal.
Verwerking bevorder gewoonlik die verteerbaarheid en opneembaarheid van alle graansoorte. 'n Belangrike Suid-Afrikaanse energieneweproduk, soos mieliekopmeel, kan bogenoemde energiegrondstowwe gedeeltelik of heeltemal in skourantsoene vervang. Die gehalte van hierdie produk is egter nie konstant nie en dit kan lei tot wisselende prestasieresultate.
Droë kommersiële vette en plantolies is ook gekonsentreerde energiebronne en kan gewigstoename en afronding stimuleer by beeste wat daardie "iets ekstra" nodig het. Terselfdertyd help dit om die haarkleed 'n goeie glans te gee. Minerale. Die mineraalkomponent van die rantsoen moet behoorlik gebalanseer word. Die beste is om die spoorelemente binne 'n klaar geformuleerde en gemengde pak van 'n betroubare voormengselmaatskappy te koop of as deel van 'n kommersiële aanvulling of konsentraat te verkry. Die minimum verhouding van kalsium tot fosfor is 1,2:1 en die maksimum is 3:1, maar die ideaal is 2:1. Die hoër verhoudings kan nodig wees wanneer vetbronne, soos plantolie, gevoer word (vet kan kalsiumopname belemmer). Spoorelemente moet bygevoeg word om dié deel van die rantsoen ook te balanseer. Organiese spoorelemente, soos sink, koper, mangaan of seleen, kan prestasie en reproduksie bevorder en gesondheid verbeter. Organiese sink is besonder doeltreffend vir die genesing of voorkoming van laminitis.
Laastens behoort sout verskaf te word om te voorsien in die behoefte aan natrium en chloor, twee noodsaaklike minerale in die rantsoen. Dit kan ook help om inname en aptyt te stimuleer by insluitingsvlakke van 0,3 % tot 0,6 % van die rantsoen.
Vitamiene. Soos minerale word klein hoeveelhede vitamiene ook gevoer, want dit is noodsaaklik vir behoorlike groei en ontwikkeling. Die belangrikste hiervan is vitamiene A en E. Dit is die beste om vitamiene in 'n klaar geformuleerde pak van 'n betroubare voermengselmaatskappy of as deel van 'n kommersiële aanvulling of konsentraat te koop.
Die belangrikste vitamienvereiste in die voer is vitamien A. Vitamienaanvullings word dikwels as 'n vitamien A-D-E-kompleks verskaf. Die gebruik van voere van goeie gehalte kan 'n mate van kommer oor die ander vitamiene uitskakel. Maak seker dat elke bees daagliks 20 000 tot 30 000 internasionale eenhede (IE) vitamien A inneem. Vitamien D-aanvulling is nie noodsaaklik nie, aangesien beeste wat aan sonlig blootgestel is, die meeste van die benodigde vitamien D in die vel produseer. Vitamien E-aanvulling word gewilder, aangesien daar aanduidings is dat dit beduidende voordele vir haargehalte en algehele dieregesondheid inhou.
Laastens is dit dikwels voordelig om die B-vitamiene by skoubeeste se voere te voeg, veral as graanbronne 'n groot deel van die voer uitmaak en die inname van ruvesel beperk word om vinnige gewigstoename te bevorder.
Melasse en ander byvoegings. Talle rantsoene sluit melasse in. Melasse of 'n melassemengsel teen 5 % tot 12 % van die voer kan bygevoeg word om die smaaklikheid van 'n rantsoen te bevorder en stofprobleme te beperk, maar dit dra ook aansienlik tot die energie- of suikerinhoud van die rantsoen by. Die vervanging van tot 12 % van duurder energiebronne deur melasse in die totale rantsoen behoort geen noemenswaardige verskil in prestasie tot gevolg te hê nie.
Water kan by die melasse gevoeg word om die mengvermoë te verbeter. Vloeibare produkte, as die voerder dit self byvoeg, behoort net voor voertyd bygemeng te word; so nie moet net genoeg vir die spesifieke dag bygemeng word. Die doel is om die voer vars te hou, veral in warm weerstoestande, sodat dit nie muf nie.
Voerbyvoegings. Daar is talle produkte vir verskeie doeleindes beskikbaar, insluitend die bevordering van groei, die verbetering van voerdoeltreffendheid, die teenwerking van verteringsongemak of stres en die verbetering van haarkleed. Nuttige bymiddels sluit in gis (om inname te stimuleer en verteringsprobleme te beperk), ionofore (om prestasie te verhoog, voerdoeltreffendheid te verbeter en verteringsteurnisse te beperk) en antibiotika (om gesondheidsprobleme in beeste met veral hoë stresvlakke te bekamp).
26 Junie 2007