Landbou
Put só meer uit plaasdam
Deur CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

Plaasdamme is meestal onbenut sover dit visproduksie betref, terwyl dit die potensiaal het om honderde kilogram vis per jaar op te lewer. Dié artikel verskaf wenke aan boere om damme beter te benut, hetsy kommersieel of op klein skaal.

'n Plaasdam hoef nie net gebruik te word om water vir besproeiing en drinkwater vir diere te hou nie. Dit kan ook gebruik word vir betaalde hengel en as bron van voedsel.

Die voorafgaande artikels in hierdie reeks oor visboerdery het op die risiko's gewys en benadruk dat visproduksie nie oral in die land kan slaag nie. Die beperkings is hoofsaaklik ligging en watertemperatuur. Vir volhoubare kommersiële en selfs kleinskaalse produksie moet die visse vinnig groei en daarvoor moet die water konstant warm wees. In koue water vreet die visse minder en in dele met koue winters hou hulle heeltemal op met vreet. Derhalwe groei hulle lang tye nie.

Ondanks die waagstukke is daar tóg iets wat 'n boer kan doen om sy plaasdam beter te benut, al kan dit nie juis 'n visboerdery genoem word nie, sê prof. Ben van der Waal, viskenner van Limpopo, wat met 'n visprojek vir die Namibiese regering in die Caprivi besig is.

Die voorafgaande artikels het reeds die belangrikheid beklemtoon dat 'n boer eers aandag aan vier aspekte moet gee voordat hy met volskaalse intensiewe visboerdery kan begin, naamlik 'n geskikte waterbron, 'n bron van voer vir die visse, 'n stelsel om die watergehalte goed te hou en visafvalstowwe te verwyder, en die doeltreffende bemarking van die visse. Daarby kom natuurlik ook die nodige papierwerk (permitte en so meer) om die water en vissoorte in 'n visboerdery te mag gebruik.

As 'n mens 'n bestaande plaasdam wil gebruik om vis te produseer, is die vereistes nie so streng nie. Tog moet die boer na die volgende aspekte oplet.

Wat die boer eerstens moet vasstel, is of hy genoeg water het. Die dam moet standhoudend wees. As dit geneig is om in die winter of droë tydperke leeg te word, is visproduksie nie moontlik nie. Dan moet hy 'n aangrensende rivier of sterk boorgate hê om die dam vol te hou.

Die water moet van redelik goeie gehalte wees. Vir kurpers, babers en karp kan die watergehalte effens swakker as vir menslike gebruik en selfs 'n bietjie brak wees. Dit sal nie die produksie te veel skaad nie.

Dit is egter belangrik dat die water genoeg suurstof moet bevat, naamlik 50% tot 100% versadig of 4g tot 8g suurstof per liter water.

Die watertemperatuur moet redelik hoog wees vir konstante groei van die visse (25 °C tot 30 °C), maar selfs in die kouer dele van Suider-Afrika waar die temperatuur in die winter skerp daal, kan 'n boer voortgaan met sy planne as hy nie kommersieel met visse wil boer nie en die dam bloot doeltreffend wil benut.

Hoewel hierdie ideale toestande nie oral voorkom nie, is daar tog dele van die land wat aan hierdie vereistes voldoen en wag om ontgin te word, soos langs die Benede-Oranjegebied, Komati- en Olifantsriviere, by Pongola en aan die KwaZulu-Natalse kus. Van der Waal sê visboerdery kan langs die hele lengte van die Benede-Oranje slaag, want daar is baie water en dit is 'n baie warm streek. Die water bevat wel heelwat soute, maar dit is geskik vir kurper, baber en karp. Dit kan druiweboere se boerderyrisiko effens versprei.

Hy sê die ideale plaasdam moet 'n gesonde komponent waterplante hê, anders is die dam "onvrugbaar" vir visboerdery. Die plante verskaf regstreeks voedsel aan die visse, dien as ekstra oppervlak vir voedselorganismes en bied skuilplek aan vissies en voedselorganismes.

'n Mens kry ondergedompelde of bodemwaterplante en dié wat bo die water uitsteek, soos riete en biesies. Dit moet egter nie meer as 'n kwart van die dam se oppervlak beslaan nie, anders benadeel dit visproduksie. Dit is moontlik om riete en biesies te verwyder, maar onderwaterplante wat veral toeneem as 'n dam toeslik en daar gevolglik baie kos (in die vrugbare slik) vir die plante is, haal moeilik uit.

Nadat 'n plaasdam gebou is, gaan dit deur 'n natuurlike proses van opvulling deur modder en organiese materiaal wat van elders inspoel. As daar baie waterplante in die dam is en van hulle vrek, vul dit ook die organiese materiaal aan. Dit kan só erg raak dat die dam later heeltemal toeslik. Met baie visse in die dam, beland daar ook groot hoeveelhede mis op die bodem.

'n Vlak dam (1 m tot 1,5 m diep) is warmer as 'n diep dam. Waterplante groei maklik daarin en daar is baie kos vir die visse, maar dit kan maklik toeslik en moet soms skoongemaak word. 'n Diep dam daarenteen is kouer en het minder waterplante en natuurlike kos vir visse, wat gevolglik stadiger groei.

Die boer kan egter 'n diep dam self vrugbaarder maak vir 'n ekstensiewe visboerdery deur dooie bome tot in die dam te sleep sodat dit kan help om 'n goeie habitat vir die visse te skep. Eilandjies kan ook in die dam gemaak word. Só ontstaan populasies watergoggas wat weer 'n voedselbron vir die visse is. Dit is goedkoper as 'n meer intensiewe stelsel waar die visse voerkorrels of mielies gevoer moet word.

Van der Waal sê afval uit die kombuis en kraal kan ook 'n bron van kos vir die visse wees, pleks van duur viskorrels. Vir optimale benutting moet die voer fyn gemaak word sodat die visse dit met hul bekke kan optel en insluk.

Die visse moet verkieslik langs vlak plekke in die dam gevoer word sodat die boer kan sien of die visse wel die voer vreet.

Hy moet vooraf besluit hoe hy die visse gaan oes en bemark. Hengel teen betaling is 'n opsie, terwyl hy ook visse aan die plaaslike bevolking kan verkoop. Die visse moet dan met 'n kief- of treknet gevang, gesorteer en verwyder word. Die kiefnet se maasgrootte bepaal watter grootte vis gevang kan word. Dus is deeglike beplanning vooraf nodig en die boer moet liefs by kundiges raad oor die uitvang van visse kry.

As die dam met rivierwater aangevul word, bestaan die gevaar dat vreemde vissoorte en siektes die dam binnekom. Dit is hoekom boorgatwater in 'n intensiewe stelsel gebruik word.

Met die keuse van visse vir die plaasdam is dit die beste om te hou by die soorte wat natuurlik daar voorkom. Moenie ander soorte probeer inbring nie, want dit aard dalk nie daar nie of is vyande vir die inheemse soorte, sê hy. Daarby is dit onwettig om vis lewend te vervoer sonder 'n permit van die Departement van Omgewingsake.

Vir visboerdery in 'n plaasdam is ook 'n permit van die Departement van Waterwese en Bosbou nodig, omdat alle water aan die staat behoort. Water waarin vis geproduseer word, kan ook nie sonder meer in 'n rivier gestort word nie. 'n Boer moet daarom seker maak dat hy die nodige permitte kry.

Verder is die gebruik van nette onderhewig aan 'n permit van die Departement van Omgewingsake. Die plaaslike kantoor van hierdie departement moet dus eers geraadpleeg word voordat die boer 'n visbenuttingsprojek in sy plaasdam aanpak.

"Ons hoop die huidige beslommernisse betreffende toestemming sal mettertyd vereenvoudig word. Die Regering is terdeë bewus dat alle hulpbronne, asook die vermoë om vis in intensiewe stelsels en in bestaande damme te produseer, benut moet word," sê Van der Waal.

  • Navrae: Dr. Ben van der Waal; e-pos: zamchobe@iway.na.

    Landbouweekblad, 17 Augustus 2007.