Landbou

Dokter Naudé Rossouw in die veevoerfabriek.
Soortgelyk
Dok nou voorste boer
Deur CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

In die begin kon dr. Naudé Rossouw dit nog regkry om sy suksesvolle mediese praktyk in Pretoria met sy deeltydse beroep as hoenderboer in die Delmas-distrik te kombineer. Sonder sy vrou, Claudette, se hulp sou dit egter nie altyd moont-lik gewees het nie.

Ná vier jaar op twee stoele het Rossouw besluit om hom eerder heeltyds op die boerdery toe te spits en is hy weg plaas toe.

Rossouw is as wenner in Mpumalanga nou 'n finalis in Toyota se Jongboer van die Jaar-wedstryd. Die wenner word op 21 November aangewys.

Hy het eers afsonderlik van die groter Rossouw-groep geboer, maar intussen by hierdie groot familieboerdery ingeskakel. Die boerdery het plase by Delmas en Groblersdal en bestaan uit pa Chris (B.Sc. en B.Sc.Hons.), wat al veertig jaar lank boer, ma Naubie (B.A. Hed.), Adriaan, soos Naudé 'n dokter (M.B.Ch.B.), Naudé (M.B.Ch.B.), Charles (B.Sc. in Boubestuur) en Chris (B.Com.Hons.). Laasgenoemde was lid van die Springbok-rugbyspan wat die Wêreldbeker in 1995 gewen het. Chris was die haker in die eindstryd teen die All Blacks.

Die boerderygroep bestaan uit Rossouw Farming (mielies, droëbone en Beefmasterbeeste), Roslé Farming (tafeldruiwe en sitrus), Rossouw Poultry (braaikuikens, lêhenne en die grootmaak van kuikens), Rossgro Abattoir (die slag van braaikuikens) en Africa Lawns (kitsgras).

Hulle plant 2 000 hektaar mielies en 750 hektaar droëbone. Die beeskudde bestaan uit 250 Beefmasters. Die produksie van tafeldruiwe (vir uitvoer) vind plaas op 112 hektaar onder haelnette. Hulle het 280 hektaar sitrus, hoofsaaklik vir die uitvoermark. Kikoejoegras word op 500 hektaar gekweek.

Die groep se pluimvee-afdeling bestaan uit die volle ketting van teelouers (bevrugte eiers), die grootlmaak van lêhenne, braaikuikens en eiers vir die verbruikersmark. Laasgenoemde sluit die eiers van vrylopende henne in. Die abattoir kan 'n miljoen braaikuikens per week slag, hoewel dit nog net 90 000 hoenders per week slag.

Naudé is ná matriek na die Universiteit van Pretoria, waar hy sy studie as mediese dokter in 1996 voltooi het. Hy is daarna vir 'n jaar Engeland toe en was sedert 1998 'n algemene praktisyn in Pretoria.

Sy loopbaan as deeltydse boer het in 2000 begin (dieselfde jaar wat hy en Claudette getroud is) toe hy sy eerste kontrak met die pluimveemaatskappy Hy-Line beding het om lêhenne te vermeerder. Hy het sy lêhen-ouerteelplaas met vier hoenderhuise begin. Daarna het hy dit "met vroeg opstaan, planne maak, vroulief se hulp en harde werk"teen 2002 tot ses hokke uitgebrei. Hy en Adriaan het ook saam 'n plaas gekoop.

'n Jaar later is die hoenderboerdery by die Rossouw-groep gevoeg en het Naudé, soos sy pa en broer Adriaan, 'n direkteur van die groter maatskappy geword. Naudé behartig nou die eierafdeling (die produksie van bevrugte eiers vir Hy-Line, eiers vir kommersiële gebruik en die grootmaak van henne vir eie gebruik), 'n voerfabriek en die bemarking van die kommersiële eiers. Daar is sowat 200 mense onder sy toesig.

Dit het só voor die wind gegaan dat Naudé in 2004 heeltyds plaas toe is om die eierafdeling te bestuur. Toe was daar, afgesien van die ouerteelafdeling, ook 60 000 kommersiële henne. Dit het intussen tot 400 000 henne gegroei danksy die koop van nóg 'n eierplaas en die bou van nog hokke. Die ouerteelafdeling het nou reeds agt hokke met 56 000 henne.

'n Vryloop-afdeling het intussen bygekom. Daar het die henne die voorgeskrewe loopspasie en word eiers vir dié segment van die verbruikersmark produseer.

Naudé is steeds nie tevrede nie en beoog om die kommersiële afdeling oor die volgende twee jaar tot 520 000 henne uit te brei. Die eierafdeling is in baie moderne huise waar die temperatuur outomaties beheer word. Water en voer word ook met 'n outomatiese stelsel aan die henne verskaf. Die eiers en mis word ook só verwyder. Die mis gaan na die kitsgrasplaas.

Hy verkoop reeds 30 000 dosyn eiers per dag en versprei dit met die maatskappy se vloot van nege vragmotors in Gauteng en Mpumalanga. Die eiers word in 'n verpakkingsaanleg deur 'n masjien volgens gewig gesorteer en verpak.

"Feitlik net die inenting word met die hand gedoen. Verder is alles geoutomatiseer,"sê hy.

Die inentings om die hoenders teen siektes te beskerm, word deur konsultante behartig.

Hulle het hul eie grootmaakplaas waar hulle 330 000 lêhenne per jaar grootmaak om hul ouer henne te vervang. Die mikpunt is om uiteindelik 60 % van die vervangingshenne self te voorsien. Daarvoor is vier huise gebou waarin die ventilasie en temperatuur outomaties beheer word. Dit kan 34 000 kuikens huisves. Dit integreer die familiebesigheid verder en verseker die beskikbaarheid en gehalte van lêhenne, terwyl die voerfabriek ook beter benut word.

Benewens die eierafdeling het Rossouw twee jaar gelede nóg 'n "kuiken"onder sy vlerk geneem toe hy 'n voerfabriek met 'n mengvermoë van 35 ton voer per uur gebou het. Daar vervaardig hy bykans 2 000 ton lêmeel per maand vir die familieboerdery se henne. Dit stel hom in staat om voer van 'n hoë gehalte te vervaardig, wat die gehalte van veral die eiers verbeter het. Hulle beoog om oor twee jaar 3 500 ton voer per dag te vervaardig.

Die mielies vir die voer kom alles van die familie se mielieboerdery en 'n paar bure af, terwyl die ander grondstowwe, soos oliekoek, gekoop en ingevoer word.

Naudé meen dit is belangrik om deel van die georganiseerde landbou te wees. Daarom is hy deur Agri Mpumalanga 'n lid van Agri SA. Hy is ook 'n uitvoerende bestuurslid van die SA Pluimveevereniging se eierorganisasie.

Hy sê dit is baie moeilik om in Suid-Afrika te boer. 'n Mens het baie genade van Bo nodig. Die Regering maak dit met drakoniese wetgewing (onder oor meer arbeid en grondhervorming) baie moeilik vir die boer. Hy was onlangs in Amerika, waar dit danksy regeringshulp baie lekker lyk om te boer.

Nogtans gee die Regering darem genoeg vryheid aan die boere om te oorleef. Meer regeringsbystand kan dit egter vir boere moontlik maak om later selfs met die opvoeding van die jeug op die platteland te help deur die bou van skole.

"Die georganiseerde landbou het 'n belangrike taak om dit vir boere moontlik te maak om geleenthede te benut. Die landbou het 'n rooskleurige toekoms, veral in die komende dekade. Ons boere moet net saamstaan en 'n verskil maak.

"Suid-Afrikaanse boere is baie sterk en tel onder die bestes ter wêreld,"sê hy. "Dink net wat ons kan vermag as ons meer steun van staatskant af kry."

  • Navrae: Dr. Naudé Rossouw, Posbus 2410, Delmas 2210. Tel. 013 665 1999, e-pos: naude@rossgro.co.za.

    Landbouweekblad, 19 Oktober 2007