Landbou
Volstruisbedryf maak nek styf
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Sowat 4 000 ton volstruisvleis is die afgelope jaar (sedert Oktober verlede jaar) na die Europese Unie (EU) uitgevoer. Dit is net 'n aks minder as in die 12 maande wat die eerste uitvoerverbod in 2004 voorafgegaan het.

Die bedryf het aansienlike verliese gely toe die Europeërs weens 'n vrees vir voëlgriep volstruisvleis in 2004 en 2005 en weer vyf maande lank rondom verlede jaar se winter van hul winkelrakke verjaag het.

Ongeveer 90% van Suid-Afrika se jaarlikse volstruisvleisproduksie is vir die EU bestem. Die plaaslike mark is nie groot genoeg om ál die produksie te absorbeer nie. Gevolglik staan die bedryf op wankelende bene as vleis nie uitgevoer kan word nie. Heelwat produsente het weens die uitvoerverbod die bedryf vaarwel toegeroep.

Vandag lyk dinge vir die bedryf gelukkig gunstiger, sê dr. Francois de Wet, besturende direkteur van die Mosstrich-groep op Mosselbaai.

"Die hoofrede waarom die bedryf beter lyk, is omdat ons weer vleis kan uitvoer. Die wisselkoers is ook betreklik gunstig. Die meeste vleis word in euro-waarde uitgevoer, en die rand is taamlik swak teenoor dié geldeenheid."

'n Ander hupstoot is die goeie balans tussen die vraag en aanbod van die hoofprodukte wat volstruise voorsien, naamlik leer, vleis en vere.

"Die vraag na vere is goed en die produsente behaal taamlik hoë pryse daarvoor. Daarom doen hulle moeite om die volstruise teen veerluise te behandel en neem hulle die nodige stappe om vere van goeie gehalte te lewer," sê De Wet.

'n Boer realiseer gemiddeld R130 per volstruis uit die vere. Hierdie prys kan dramaties wissel. Boere wat die korrekte programme volg en goeie teelmateriaal het, se spogvere kan meer as R200 per volstruis behaal. Die gemiddelde prys is tans hoër as wat dit die afgelope vier jaar was.

De Wet sê 'n volstruisboer realiseer tans R1 800 tot R2 200 per slagvolstruis. Ongeveer 7% van die boer se inkomste kom uit die vere, terwyl die res in gelyke dele uit die leer en vleis kom.

Suid-Afrikaanse volstruisvleis trek tans voordeel uit die lae aanbod van Nieu-Seelandse wildsvleis in Europa. Volgens De Wet word wildsvleis veral van Oktober tot Januarie in groot hoeveelhede in Europa verbruik. Volstruisvleis, hoewel in heelwat kleiner volumes, is ook besonder in aanvraag in dié maande. Dit word reeds hoog aangeslaan as 'n alternatiewe rooivleis.

Nieu-Seeland het vanjaar min wildsvleis om aan te bied en die pryse van die produkte is hoog. De Wet voorsien dus 'n sterk vraag na volstruisvleis vir die res van die jaar.

Die uitvoerverbod het wel die volstruisvleismark in Europa geknou, meen De Wet. Sommige supermarkte in Duitsland en Frankryk het nou nog nie weer besluit om volstruisvleis op hul rakke aan te hou nie.

"Die Suid-Afrikaanse volstruisproduksievolumes is laer as wat dit die afgelope drie jaar was. Dit dra gedeeltelik by tot die redelike balans tussen vraag en aanbod."

Filet en steak is die gewildste snitte en volstruisvleis word grotendeels in dié vorm uitgevoer. Vars en bevrore kleinhandelpakkies word weekliks uitgevlieg of per seevraghouers verskeep.

Wat die plaaslike verbruik betref, was daar ook besonder sterk groei die afgelope tyd. "Volstruisvleis is taamlik algemeen in supermarkte beskikbaar. Die bedryf sou in die toekoms graag dieselfde groei in die verbruik wou sien as wat die afgelope drie jaar die geval was."

De Wet beklemtoon dat volstruisvleis nie net 'n gesonde alternatiewe rooivleis is nie, maar dat dit ook besonder lekker is indien dit reg voorberei word. "Die vleis is op sy lekkerste as dit nie oorgaar is nie en nog lekker sappig in die binnekant is."

Hy reken die uitdaging vir die toekoms van die bedryf is om deurlopend te voldoen aan die EU se "strengerwordende vereistes, veral wat residu-monitering betref."

Die plaas-na-vurk-beginsel en voedselnaspeurbaarheid is nie net in die EU voorvereistes nie, maar speel ook plaaslik 'n al hoe belangriker rol. Daar word al hoe groter druk op die produsent geplaas om daaraan te voldoen.

'n Belangrike uitdaging vir die Departement van Landbou is om sy veterinêre kapasiteit uit te brei om aan die strenger EU-vereistes te voldoen.

"Ons moet verseker dat die bedryf se ondersteuning aan en samewerking met die departement van só 'n aard is dat die EU nie twyfel oor Suid-Afrika se vermoë om die unie se voorskrifte na te kom nie."

'n Derde uitdaging is om die vraag na volstruisvleis in Europa verder te stimuleer om markte wat verloor is, terug te wen. "En natuurlik ook om nuwe hoëwaarde-markte te identifiseer," meen De Wet.

"Daar is 'n taamlik sterk vraag na volstruisleer in Noord-Amerika. Dit word hoofsaaklik vir cowboy-stewels en gordels gebruik." Die Europese en Oosterse markte bly egter ook baie belangrik vir volstruisleerartikels.

Suid-Afrika voer jaarliks sowat 250 000 velle uit. Die land word steeds beskou as die land wat volstruisvelle die beste kan looi en afwerk. "Ons wil graag die wêreldleiers op hierdie terrein bly," aldus De Wet.

"Volstruisvleis word beïnvloed deur die prys van ander rooivleis, maar leer ding met 'n kleiner seksie van die wêreld se leermark mee."

Volstruisleer moet sy man kan staan teen eksotiese leersoorte, soos krokodil en slang, om die aandag van modehuise te behou. In Europa en die Verre-Ooste word volstruisleer vir mode-artikels, soos handsakke en kleinleerartikels, gebruik, terwyl 'n klein hoeveelheid vir klerasie gebruik word.

Die hoeveelheid wat hulle gebruik, is min, maar die modehuise speel 'n noodsaaklike rol in die bewusmaking van volstruisleer.

De Wet sê dit is 'n uitdaging om die gebruik van volstruisleer asook die waardering vir en algemene beeld van dié "knoppies-leer" soveel moontlik uit te brei. Dié bewusmaking moet veral geskied in wêrelddele waar volstruisleer nog nie 'n gesogte tipe leer is nie.

Landbouweekblad, 19 Oktober 2007