Landbou
Nguni moet veg vir plek
Deur JOHAN NORVAL (jnorval@landbou.com)

Enige stoetbedryf se langtermynsukses berus op 'n stewige kommersiële mark vir stoetbulle, maar ook vir vroulike diere.

Volgens 'n beesproduksiepiramide wat algemeen in die vleisbeesbedryf gebruik word, rus die stoetbedryf se ekonomiese voortbestaan op 'n sterk kommersiëlemark. Die praktiese reël waarna dikwels verwys word, is dat daar ses tot tien kommersiële telers vir elke stoetteler moet wees om vir die stoetteler 'n bestaan te bied.

Die Nguni-stoetbedryf is 'n afwyking in hierdie verband met sowat 20 stoettelers vir elke kommersiële teler. Die Nguni se vroulike diere is oor die jare heen as moederlyn bemark, maar in werklikheid is daar min kommersiële boere wat dieNguni só benut. Die hoofmark vir 'n stoetbedryf is die verkoop van bulle.

Mnr. Deon Richter, voorsitter van die Nguni-beestelersgenootskap van Suid-Afrika, sê die sterk vraag na die Nguni wat die afgelope paar jaar ervaar is, het nie net hoër prysvlakke gebring nie, maar ook 'n sterk groei in stoetbeesgetalle en telers. Die genootskap het tans 'n ledetal van 429 telers.

Baie van die kommersiële Nguni-kuddes wat in die verlede bestaan het, is oor die afgelope twee jaar by die stoetbedryf ingesuig. Dié neiging het daartoe gelei dat die mark vir Nguni-stoetbulle op medium- termyn afgeneem het. Daar hang dus 'n ernstige vraagteken oor die volhoubaarheid van die Nguni-stoetbedryf tot tyd en wyl 'n betekenisvolle kommersiële mark gevestig is.

Richter sê die sterk toename in die getal stoettelers het tot 'n sterk verhoogde vraag na veral vroulike stoetdiere gelei. In verhouding hiermee was die aanbod onvoldoende en dus het pryse sterk begin styg.

Hierdie proses word eerstens aangevuur deur gunstige faktore, soos:

  • Die toenemende besef van die ekonomiese waarde van dieNguni as aangepaste dier in die harde Afrika-omgewing. Navorsing wat toon dat die Nguni goed presteer met doeltre.ende vleisproduksie op natuurlike weiding, het wyer bekend geword.
  • Die Nguni bied 'n goeie alternatief om ariede weiding, soos in die Karoo en Klein- Karoo, te benut.
  • Dié beesras se eienskappe maak die ras besonder geskik vir opkomende boere. Die geld wat deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) hiervoor bewillig is, het die vraag na Nguni's skerp laat toeneem.
  • Met die koms van die nuwe politieke bestel het veral swart mense, maar ook kommersiële boere begin besef dat die Nguni nie 'n minderwaardige bees is, soos koloniale en vorige Suid-Afrikaanse regerings hulle wysgemaak het nie.
  • Die liefde vir die Nguni. Die feit dat geen Nguni dieselfde lyk nie, sy verskillende kleurpatrone, sy Afrika-geskiedenis en kulturele rol en sy temperament lei tot die besonderse liefde van telers vir hul diere.
  • Die geskiktheid van die Nguni vir sekere deelmarkte begin na vore kom. Voorbeelde hiervan is die groeiende mark vir organiese of "grass fed"-vleis, die Nguni se rol in die wildbedryf en die voorkeure van sekere voerkrale. Selfs die Nguni se genetiese weerstand teen bosluise en wurms word 'n belangrike faktor omdat dié plae toenemend weerstand bied teen behandeling.

    Richter sê die raad van die genootskap, saam met klubverteenwoordigers het tydens 'n beraad verlede jaar deeglik aandag aan die marksituasie gegee. "Een van die belangrikste besluite wat ons geneem het, was om nie selfvoldaan oor die huidige positiewe mark te wees nie, en 'n strategie te formuleer om die Nguni as een van die prominentste beesrasse vir vleisproduksie in Suider-Afrika te vestig."

    Die huidige mark word goed ondersteun deur die huidige positiewe dryfvere, maar daar is nogtans kommer oor die markaandeel van die Nguni in die vleisbedryf oor die lang termyn. Kommerwekkend is dat die buitengewoon hoë en soms uitskieterpryse wat onlangs vir Nguni's behaal is, toegeskryf kan word aan faktore wat baie soortgelyk is as wat by die laaste fase van 'n "bulmark" (in die geval van aandele) voorkom. Hierdie fase is gewoonlik net voordat daar 'n insinking plaasvind.

    Verskynsels wat oor die afgelope tyd na vore gekom het en wat kommer baar, is:

  • Onkundige kopers wat swak teeldiere en Nguni-kruisdiere ten duurste by "gerespekteerde telers" koop en hulle vir registrasie aanbied.
  • 'n Begeerte by sommige gevestigde Nguni-stoettelers om tot elke prys geld temaak, selfs deur onetiese sakepraktyke. Uitskot en kruisdiere word byvoorbeeld tans uit die hand verkoop en selfs op klubveilings as goeie teelmateriaal aangebied.
  • Smouse wat op groot skaal diere met vreemde bloed in swart gebiede koop en aan nuwe Nguni-telers aanbied.
  • Gereelde pogings om goedkoop diere van Namibië, soms onwettig, in te voer.
  • Die beeld wat ontstaan het dat die werklike waarde van die Nguni net spruit uit sy fisieke voorkoms. Hiervolgens moet ten opsigte van teling en bemarking gefokus word op 'n klein fyn tipe Nguni of "suiwer Nguni". Hierdie benadering word dikwels gekenmerk deur die oorbeklemtoning van sekere fisieke eienskappe, soos fyn ore en 'n lang stert, sonder inagneming van funksionele doeltreffendheid en produktiewe eienskappe, soos vrugbaarheid, redelike groei en melkeienskappe.

    "Hierdie neiging onder sekere tellers speel in die hande van diegene wat bedreig voel deur die goeie mark vir die Nguni en daarom die Nguni wil probeer afmaak as 'n bees wat slegs vir sy vel geteel word en nie vir vleisproduksie nie," sê Richter.

    'n Verdere kenmerk van hierdie ongesonde neiging is die onrealistiese pryse wat deur enkelinge vir hierdie mooi, fyn diere sonder prestasiesyfers betaal word.

    Bogenoemde verskynsels staan in die ekonomie bekend as 'n "borrel" wat een of ander tyd gaan bars.

    "Selfs die opkoms en ondergaan van sekere beesrasse oor die afgelope 50 jaar in Suid-Afrika behoort vir ons belangrike lesse in te hou. Die projeksie van groei in getalle stoettelers en stoetdiere asook die sterk groei in die getal veilings vanjaar, dui daarop dat vraag en aanbod in die stoetmark in balans begin kom en dat 'n afplatting in pryse te wagte kan wees."

    Richter sê die strategie vir die toekoms moet die klem plaas op die belangrike bydrae wat die Nguni tot winsgewende vleisproduksie in Suider-Afrika kan lewer. "Die mededingende voordeel van die Nguni teenoor ander rasse spruit juis uit sy vermoens omin die harde omgewing van dieAfrika-natuur steeds vrugbaar en produktief te wees ten opsigte van vleisproduksie.

    Beesras doelgerig bevorder
    Om die Nguni se markaandeel in die vleisbedryf betekenisvol te verhoog, gaan die Nguni-beestelersgenootskap sy fokus en toewysing van hulpbronne na die bevordering van markaandeel verskuif. 'n Ontleding van die tradisionele werksaamhede van die genootskap toon 'n oorbeklemtoning van die tegniese en beheerfunksies.

    Dié genootskap se raad gaan seker maak dat:

  • Die korrekte inligting oor die Nguni as beesras aan kopers beskikbaar is.
  • Net die regte diere en teelmateriaal aangebied word.
  • 'n Sterker fokus op die bevordering van die Nguni se rol in die vleismark. Dit vereis dat meer van die genootskap se menslike en finansiële hulpbronne aan hierdie funksie toegewys word.

    Enige moderne bedryf begin sy beplanning met marknavorsing en skoei sy produksiebeleid daarop. Só word 'n produk gelewer wat 'n betekenisvolle markaandeel kan verwerf. Die landbou, met insluiting van die stoetbedryf, begin egter dikwels by die produksiefunksie (tegniese funksie) en haak net daarby vas.

    Wat die genootskap dringend nodig het, is 'n wetenskaplike ontleding van die huidige vleisproduksiebedryf en die Nguni se rol daarin. Gesprekke word tans met vooraanstaande landbou-ekonome by verskeie universiteite gevoer oor hoe om hierdie markontleding en navorsing sistematies aan die gang te kry.

    Die bevordering van die Nguni se rol in verskillende "deelmarkte" verg eerstens wetenskaplike inligting oor die voordele wat Ngunibeeste inhou.

    Ondersteuningsprogramme vir opkomende Nguni-boere en arm landelike gemeenskappe kry ook aandag. Die opkomende Nguni-boer is 'n belangrike rolspeler in die mark, veral vanweë die staatsinstellings se rol in finansiering om Nguni-beeste te koop. Gesprekke word gevoer en voorstelle is gedoen aan veral provinsiale regerings en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie. Die Landbounavorsingsraad en die Registrateur van Diereverbetering is ook betrokke.

    Oor die afgelope jare is 'n groot aantal Nguni' s uit Namibië ingevoer, maar dié land was net 'n klein mark vir Suid-Afrika. Die jongste aanduidings is dat 'n sterk mark vir die Nguni moontlik in Angola gaan ontstaan. Die gevolg hiervan is dat die stroom waarskynlik omgekeer sal word en dat Suid Afrika diere via Namibië na Angola sal uitvoer.

    Die liefde en passie vir die Nguni behoort hand aan hand met net die hoogste vlak van etiese en sakegedrag gepaard te gaan. Die gedragskode vir lede word tans hersien en uitgebrei om aandag te gee aan die sakebeginsels en -praktyk wat van 'n vooraanstaande stoetteler verwag word. 'n Moderne dissiplinêre beleid en prosedures ingevolge toepaslike regsbeginsels sal hierdie gedragskode rugsteun.

    Landbouweekblad, 7 Desember 2007