Landbou
Puik kalwers besweer stigma
Deur ANDRIES GOUWS

Met speenkalwers wat uitmuntend in voerkrale groei, besweer dié studiegroep die indruk dat Drakensbergers en Drakensberger-kruisings nie goed in voerkrale aanpas nie. Die werklikheid is dat hulle verskeie ander rasse se kalwers in proewe ver uitgestof het.

Die Hoëveld-Drakensberger-studiegroep, met 130 lede wat saam met sowat 70 000 rasegte Drakensberger-koeie boer, se stig-ting is te wyte aan die ongeregverdigde stigma dat rasegte en kruisbeeste uit dié ras nie goed in voerkrale presteer nie.

"Vir my lyk dit eerder of ons mededingers ons uit die mark wou wens," sê mnr. Piet de Villiers, die sekretaris van die studiegroep. Hy bedryf 'n Drakensberger-stoetery op die plaas Rietfontein, naby Vrede.

Wat hom aan die dink gesit het, was toe hy gesien het hoe goed boere in veral Standerton en omliggende gebiede met rasegte Drakensbergers (nie geregistreer nie) vaar en dat hulle almal net met lof oor die voor-treflikhede van dié diere praat.

Toe het hy die gevoel van die boere begin toets. Dit het gelei tot die stigting van die studiegroep in 2005. Die lede boer in Standerton en elf omliggende distrikte.

Die vernaamste oogmerke met die studiegroep was om die ras met sy unieke eienskappe en voordele te bevorder en om 'n oop kommunikasielyn tussen die kommersiële en stoettelers te bewerkstellig ten einde te verseker dat die regte aangepaste diere beskikbaar is en gebruik word.

Mnr. Piet Snyman, voorsitter van die studiegroep, boer saam met sy skoonseun, Zirk Wolmarans, op Boterfontein, Perdekop. Hy sê die indruk dat Drakensbergers en Drakensberger-kruisings swak vaar in voerkrale is waarskynlik aangeblaas deur die feit dat enige swart bees wat in 'n voerkraal beland, as 'n Drakensberger geïdentifiseer word.

Dié indruk het daartoe gelei dat kommersiële Drakensbergerboere deur sommige voerkrale uitgebuit is om goedkoop speenkalwers in die hande te kry. Hulle het dan dié beeste se unieke eienskappe tot hul eie voordeel gebruik.

Uit gesprekke met voerkraaleienaars en -bestuurders het dit duidelik geword dat Drakensbergers en Drakensberger-kruisings, net soos ander beeste, aanvanklik morbied raak in voerkrale, maar dat daar aansienlik minder vrektes onder hulle voorkom as onder ander rasse.

En dat dié beeste besonder goed vaar in die voerkrale, word bewys deur toetse by voerkrale. By die Kanhym-landgoed is 1 015 Drakensberger-kalwers getoets. Hulle het 'n gemiddelde voeromsettingsverhouding (VOV) van 4,7 kg en 'n gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) van 1,94 kg gehad.

By Beefcor is kalwers van 18 rasse getoets. Die Drakensbergers se VOV was 5,2 kg en hul GDT 1,9 kg. En in die Hurland-voerkraal groei die Drakensberger-kalwers teen 1,98 kg per dag teenoor die ander rasegte rasse se gemiddelde 1,68 kg per dag.

Hieruit is dit duidelik dat die Drakensberger 'n baie goeie VOV het, 'n syfer wat vier keer belangriker as GDT is. Dit weerspieël in die lae uitsette vir die voer van dié kalwers.

Snyman sê verder op 'n vergadering van die Suidelike Hoëveld-Drakensbergerklub het dr. Hantie Lombard van Karan Beef se voerkrale gesê dat hy geen beswaar het om Drakensberger-kalwers vir dié onderneming se voerkrale te koop nie. Daarna het hy aan nog vyf voerkrale dieselfde boodskap gegee.

Twee kommersiële boere van die studiegroep, mnre. Johan Botha en Johan Geyser, sê omdat dié beeste in die streek ontwikkel het en só ten volle aangepas is, is dit vir hulle die ideale ras om saam met hul saaiboerderye en ander belange te gebruik.

Dié diere het 'n uitsonderlike vermoë om blitsig te herstel ná die winter of 'n droogte of nadat hulle gekalf het en in kondisie te kom sodat hulle weer bul vat. Dit, saam met hul vrugbaarheid, puik karkas- en moedereienskappe, klein kalwers en kalfgemak, verseker dat die beesboerdery met betreklik min aandag en werkers geslaag saam met die saaiboerdery kan aangaan.

Toe daar ses jaar gelede 'n ongewone koue gekom het wat honderde beeste van ander rasse laat vrek het, het die Drakensbergers aangehou kalf. Die kalwers wat in die sneeu aangekom het, het ook oorleef. Dit wys hoe gehard en aangepas die diere is.

Daarby het Vrede se Veldbulklub 'n bosluistelling gedoen by die verskillende rasse wat daar deelgeneem het. Die Drakensbergers het 19 % minder bosluise as die naasbeste ras gedra.

Snyman sê hy en sy skoonseun het 'n proef gedoen en hul Drakensbergers tien jaar lank nooit gedip nie. In dié tyd het hulle nie een dier aan rooiwater, galsiekte of enige ander bosluisgedraagde siekte verloor nie. Botha en Geyser erken dat die stigma van swak prestasie in die voerkraal hulle gedwing het om van hul verse met Brangus-bulle te kruis, maar dit het vir hulle net 'n eenmalige voordeel ingehou. Uiteindelik het hulle besef die rasegte Drakensbergers vaar op die lang duur beter as die kruisings.

Wat Botha se oortuiging gestaaf het, was toe 'n groep van sy rasegte Drakensberger-kalwers by 'n voerkraal die beste gegroei het van die 29 ander rasse en kruisings wat daar was.

Wat waarskynlik tot die kommersiële beesboere van die studiegroep se welslae bydra, is die feit dat hulle oor 'n klomp jare heen van die beste stoetbulle gebruik en stelselmatig hul rasegte koeie verbeter het tot puik diere wat nie ver hoef terug te staan vir die koeie van stoetboere nie.

Botha boer tussen Standerton en Vrede op die plaas Span de Kroon met sowat 1 300 rasegte en 200 geregistreerde stoetkoeie. Sy oupa, mnr. Piet Rautenbach, en pa, Izak, het onderskeidelik met die sogenaamde Uys-beeste (swart beeste waarmee die Uys-Voortrekkers Natal toe getrek het) en Drakensbergers geboer.

Geyser boer net buite Standerton met sowat 1 500 rasegte Drakensberger-koeie en -verse op die plaas Jonkerspruit. Hy word deur mnr. Basson Viljoen bygestaan.

Daar is nog sewe ander boere wat met meer as 1 000 koeie boer.

Die lede van die studiegroep sê die meeste boere gebruik twee dektye, veral as hulle baie graan plant. Die hoofdektyd is Oktober tot Desember. Die kalwers kom aan wanneer die koeie op oesreste loop. Teen die tyd dat die kalwers swaar begin soog, is die koeie op goeie, nuwe somerveld.

Die kalwers word op die ouderdom van sewe of agt maande op die veld gespeen. Die meeste word regstreeks van die ma af bemark.

Botha het sy eie voerkraal. Na gelang van die speenkalf- en mielieprys besluit hy of hy ál die kalwers van die ma af gaan bemark. Anders hou hy die ligste kalwers vir sy eie voerkraal omdat hy met hulle die meeste waarde kan toevoeg. Die swaarder kalwer word met speentyd bemark.

Die voorste kommersiële boere van die studiegroep se kuddes het 'n gemiddelde kalfpersentasie van 80. In die stoeterye in die omgewing is dit tot 95.

Hulle sê die Drakensberger lewer vleis wat sag, smaaklik en goed gemarmer is. Die beeste is bekend daarvoor dat hulle die mameringsgeen dra.

Die lede van die studiegroep meen hul welslae kan toegeskryf word aan die feit dat stoettelers oor 'n tydperk van drie tot vier dekades daarin geslaag het om die ras van trek- en melkdiere te verander in 'n dier wat in alle opsigte aan die vereistes vir 'n vleisbees voldoen.

De Villiers sê die studiegroep werk deurdat daar groter skakeling tussen die stoet- en kommersiële boere is en omdat daar duisende puik diere geïdentifiseer is wat geneties só goed is dat die ras nooit met teling in 'n doodloopstraat sal beland nie.

Die volgende stap is om meer boeredae aan te bied, kuddekompetisies aan die gang te kry en alles moontlik te doen om die ras en die winsmaakgeleenthede vir sy boere te bevorder.

Die boere sê in die kort tyd wat die studiegroep bestaan, ondervind hulle 'n groter vraag na verse en teelkoeie omdat die boodskap uitgaan dat die Drakensberger in enige boerderystelsel die beste kan vaar.

Landbouweekblad, 4 Januarie 2008