Landbou
Top-melkboer maak wenplanne
Deur ANDRIES GOUWS

Namibië se Melkboer van die Jaar meen hy het die titel verower omdat hy goeie melk teen 'n konstante tempo deur die jaar produseer. Om verder waarde toe te voeg, word die beesmis saam met oesreste gebruik om net sulke goeie kompos te maak.

Op die plaas Kachas, wat die dorp Mariental en die Hardap-besproeiingskema as bure het, speel melk al jare lank 'n belangrike rol om die kontant te laat vloei. In die moeilike jare het dit die pot aan die kook gehou.

Vandag is die melkery die hoofvertakking van mnr. Kokkie Adriaanse se boerdery. Puik melk word reg deur die jaar geproduseer. Die boerdery is intensief en die koeie loop glad nie op weiding nie.

Hoewel daar besproeiingsgrond met beskikbare water is, is die sowat 35 hektaar lusern nie genoeg om in die behoefte van die 200 melkkoeie te voorsien nie en moet voer deur die jaar by die boere van Hardap gekoop word.

Dit is een van die geheime om die produksie deur die jaar konstant te hou. Die ander is 'n verkoelingstelsel vir die koeie. Dit word in werking gestel sodra die temperatuur bo 30 grade Celsius styg.

Hierdie stelsel bestaan uit 'n sproeistelsel onder 'n afdak net voor die melkstal en twee groot waaiers. Dit help om te verseker dat die produksie in die somermaande, wanneer die temperatuur gereeld bokant 40 grade Celsius draai, nie uitermate daal nie.

Dat die stelsel werk, is duidelik wanneer die koeie op sulke warm dae behoorlik drafstap om onder die verkoeling te kom sodra die hek vir hulle oopgemaak word.

Die plaas van bykans 10 000 hektaar is in 1942 deur mnr. Floris van der Merwe, oupa van Adriaanse se vrou, Elzeth, gekoop. In 1967 het Van der Merwe se seun Danie (mev. Adriaanse se pa) die boerdery oorgeneem. Vandag boer hy nog sy aan sy met sy skoonseun en dogter.

Danie vertel aanvanklik is met Karakoele, Boerbokke en vleisbeeste geboer, maar met die groot droogte wat van 1980 tot 2000 in die gebied geheers het, veediefstal wat kleinveeboerdery begin knel en die pelspryse wat getuimel het, het hy sy melkkudde begin uitbrei.

Dié vertakking was minder kwesbaar in die droogtetyd. Aanvanklik het hulle die melk op die plaas verpak en op Mariental en die omliggende dorpe gelewer. Hy het toe sowat 50 koeie gemelk. Dit het die kontant in daardie moeilike jare laat aanhou vloei.

In 1990 het Adriaanse en sy vrou hulle by die boerdery aangesluit. Hulle het die melkkudde met uitstekende Holstein-diere uitgebrei wat hulle hoofsaaklik in die Wes-Kaap, veral by mnr. Nickie Pienaar, gekoop het.

In 2006 het die boerdery letterlik deur diep water gegaan toe die hele plaas feitlik twee meter diep oorstroom is met die vloed wat die gebied in Februarie getref het.

Koeie wat op mis- en komposhope vasgekeer was, is met 'n boot die water ingejaag sodat hulle na veiligheid kon swem. Nie een dier het in die slag gebly nie. En verlede jaar is dié kudde bekroon, danksy volgehoue goeie bestuur. Die Melkboer van die Jaar-kompetisie vir lede van die Namibiese Suiwelprodusentevereniging loop van begin Junie tot einde Mei die volgende jaar. 'n Lae bakterietelling (40%), kwotahandhawing (35%), melkaantekening (10%) asook bottervet- en proteïeninhoud en hoeveelheid (elk 5%) is die kriteria waarmee punte verdien word.

Adriaanse sê hul kudde se bakterietelling is nou gemiddeld 2 500 dele per miljoen dele oor 'n maand. Die bottervetinhoud is 3,7% en die proteïeninhoud 3,4%. Hulle het die afgelope jaar nooit meer as 10% onder hul kwota van 143 000 liter melk per maand geproduseer nie.

Hulle bereik hierdie prestasie deurdat daar uiters higiënies met die melk gewerk word - van die was van die uiers en spene tot die instandhouding van die melk- en opbergstelsel.

Hul stalbestuurder, mnr. Robert Mwelako, werk sedert 1989 in die melkery en is nougeset en skerpsinnig. As die geringste barsie aan speenhulse, rubberringe en hegstukke opgemerk word, word dit dadelik vervang. Die hele melkstelsel word ná elke melksessie gespoel, gewas, weer gespoel en dan met 'n antibakteriese middel behandel. Die melkkwota word elke vier maande hersien, met die behoefte van Namibia Dairies se verwerkingsaanleg en die boer se lewering oor die vorige vier maande as maatstaf.

Waar 'n lewering bo die kwota betreklik onlangs nog swaar gepenaliseer is, is daar deesdae 'n melkskaarste en kry boere 'n premie van 20 sent per liter. Dit, saam met 'n beter melkprys van R3,08 per liter, maak melkboerdery die afgelope tyd meer lonend. Die swak prys die laaste paar jaar saam met hoë voer- en vervoerkoste het egter die melkboere van sowat 30 'n jaar gelede tot net 17 vandag laat afneem.

Adriaanse insemineer die beste helfte van die koeie (volgens produksie en liniêre eienskappe) kunsmatig met semen van voorste Kanadese bulle om nageslag te teel waarmee hy diere kan vervang en die kudde verder kan uitbou.

Al die verse wat só in die kudde opgeneem word en teoreties beter as hul moeder behoort te wees, word ook kunsmatig geïnsemineer. Ná hul eerste laktasie keur Adriaanse hulle en skakel hy hulle volgens produksie by die verskillende troppe in.

Die ander helfte van die koeie word deur Bonsmara-bulle gedek omdat hul kalwers nie gebruik word om die kudde te verbeter nie en dié kruising baie gewild onder speenkalfprodusente is.

Adriaanse verkoop die Holstein-bulkalwers binne die eerste sewe dae aan kalfgrootmakers. Die Holstein-verskalwers sowel as die kruiskalwers (wat as speenkalwers verkoop word) word op die plaas grootgemaak.

Dié kalwers bly drie tot vier dae lank by hul moeders om genoeg bies in te kry. Dan word hulle deur pleegmoeders grootgemaak. Die eerste sowat twee maande lank kry die kalwers baie melk en het hulle vrye toegang tot kalfgroeikorrels. Vir die volgende twee maande gaan hulle na 'n ander kraal waar hulle minder melk (korter suiptye) kry. Dan word hulle gespeen en net met voer verder grootgemaak.

Adriaanse weeg die verse gereeld. Die oogmerk is dat hulle op die ouderdom van 15 maande 350 kg tot 370 kg moet weeg sodat hulle kunsmatig geïnsemineer kan word en dan kan kalf as hulle twee jaar oud is.

Hy laat die koeie twee keer per dag melk. Hulle kry ook twee keer per dag voer volgens hul produksie. Dit wissel van 28 kg per dag vir dié met 'n hoë produksie tot 18 kg vir die groep wat die minste produseer. Koeie wat meer as 40 liter melk per dag produseer, kry in die melkstal ekstra voer om dié produksie in stand te hou.

Adriaanse gebruik 'n volvoer wat op die plaas gemeng word. Dit bestaan uit kragvoer, lusern, brouersgraan en die oesreste van mielies en koring.

Die gemiddelde produksie van die kudde wissel deur die jaar van 28,5 liter tot 32 liter melk per dag. Om verder waarde tot die onderneming toe te voeg, word kompos uit oesreste en beesmis op 'n baan gemaak. Daarop kan 2 000 m³ kompos elke agt weke geproduseer word.

Die boerdery gebruik sowat 40% van die kompos self vir die lusernlande en die tafeldruifaanplanting. Adriaanse produseer uitvoerdruiwe vir bemarking in Brittanje en Europa.

Die res van die kompos word aan groenteboere van Stampriet en druiweboere van Ausenkehr en Hardap verkoop.

Landbouweekblad, 4 Januarie 2008