Dit is belangrik dat veral kommersiële vleisbeesboere kennis neem van die feit dat markvoordele op 'n meer volhoubare grondslag stadig maar seker die skaal ten gunste van die kommersiële boer laat swaai. Dit is hý wat vorentoe meer voorskriftelik die bordjies vir die stoetbedryf gaan verhang.
Byvoorbeeld, 'n speenkalfboer op die Hoëveld sê dit is al standaardgebruik by hom dat kopers hulle laat lei deur die prestasiedata in die veilingskatalogus van die bulle wat hy in sy teelprogram gebruik. Data ten opsigte van die bulle se gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT), voeromsettingsverhouding (VOV) en voerkraalwins bepaal klokslag die premieprys vir sy speenkalwers. Dit sê duidelik die tyd is verby dat 'n boerdery reg loop solank die windpomp en die bul werk. Vleisbeesboerdery het 'n presisieboerdery geword.
Mnr. Hennie Snyman van Paradigm Landboukundige Adviseurs op Parys sê doelwitte is die hartklop van enige besigheid, veral in gevalle waar hoë produksiekoste met gepaardgaande hoë risiko's ter sprake is. Maar mense vergeet dat presies dieselfde beginsel in 'n moderne vleisbeesboerdery geld. Trouens, breë doelwitte, maar veral teeldoelwitte, is die belangrikste instrument wat van vleisbeesboerdery 'n suksesvolle presisieboerdery kan maak.
Volgens hom kan lae risiko, lae produksiekoste, lae winsgewendheid, ekstensiewe praktyke, stadige vordering en 'n langtermyn- onderneming van die aspekte wees wat vleisbeesboere van teeldoelwitte weerhou. Die belangrikste rede is waarskynlik die lang tydsduur tussen besluitneming en resultate. Maar laasgenoemde is juis die rede waarom doelwitstelling in dié bedryf van deurslaggewende belang is.
Die teenoorgestelde is ook waar, naamlik dat foute wat met teling gemaak word, net so lank en selfs langer duur om weer reg te stel. Doelwitte is dus 'n goeie manier om die risiko van foute so laag moontlik te hou. Ander belangrike voordele van doelwitte, volgens Snyman, is dat dit 'n bloudruk vir die optimale benutting van hulpbronne verskaf, terwyl dit ook optimale produksie en volhoubaarheid verseker.
Hy verduidelik dit verder deur kortliks na die volgende te verwys:
In 'n boerdery is die belangrikste eienskap waaraan doelwitte moet voldoen, dat dit jou in staat moet stel om in harmonie met die natuur en jou spesifieke omgewing te boer. Dit beteken dat drome en ideale oor maksimum produksie plek moet maak vir haalbare doelstellings ten opsigte van optimale en dus volhoubare produksie.
Boere weet ook niks in hul bedryf kan met die druk van 'n knoppie verander word nie. Daarom vereis doelwitte realistiese tydskedules, want ten opsigte van die normale "boerdery-horlosie" kan betekenisvolle resultate eintlik vanaf die vyfde jaar effektief geëvalueer word. Trouens, enige doelwit kan net vordering in die handwork as dit op evalueerbare resultate gegrond is. "Die geheim is dus om met die vasstelling van doelwitte 'n holistiese benadering te volg en spesifieke gebiede te identifiseer waarop gefokus moet word. In die geval van 'n vleisbeesboerdery is twee sulke fokuspunte bestuursdoelwitte en teeldoelwitte," sê Snyman.
Volgens hom behoort die identifisering en korrekte gebruik van hulpbronne die vertrekpunt ten opsigte van bestuursdoelwitte te wees. 'n Deel daarvan is om die boerdery se bestaande infrastruktuur te evalueer en, waar nodig, aan te pas. Byvoorbeeld, ander soort suipplekke is nodig as die boer van skaap- na beesboerdery oorskakel.
'n Mens kom kwalik deesdae op 'n plaas waar die natuurlike weiding nog opgepas en volgens die aard daarvan bestuur word. Die boer kan opsies (en die haalbaarheid daarvan) oorweeg om sulke weidings te verbeter, want dit is die plaas se weiding wat bepaal watter boerderystelsel die beste daarby aangepas is.
Die rol van aangeplante weiding ten opsigte van benutting, voervloei en optimal produksie kan ondersoek word, solank die boer in ag neem dat dit maklik baie duur kos kan wees. 'n Mens kyk maklik die feit mis dat swak grond swak voer produseer, met swak diereproduksie as die gevolg.
Hierdie bestuursdoelwittre is gewoonlik deurslaggewend by die keuse van 'n spesifieke produksiestelsel. Die moontlikhede van diversifikasie en/of toegevoegde waarde binne 'n gekose stelsel moet ook deeglik in ag geneem word. Uiteindelik is die polsslag van bestuursdoelwitte akkurate rekordhouding, die ontleding en verwerking van sulke rekords en die sinvolle gebruik daarvan.
Oor teeldoelwitte stel Snyman die boer se persoonlike voorkeure ten opsigte van die keuse van 'n beesras voorop. Dit help nie jy identifiseer 'n ras wat die kruin van die golf ry wat gewildheid en goeie pryse betref, terwyl jy geen voorliefde vir dié ras het nie.
Die gonswoord in die bedryf en die belangrikste eienskap waarvoor die boer behoort te selekteer, is voortplanting. Snyman sê dit is 'n fout. Aanpasbaarheid is die belangrikste eienskap. 'n Dier wat nie in die betrokke omgewing aangepas is nie, sal in elk geval nie waffers voortplant nie.
Terselfdertyd geld aanpasbaarheid ook ten opsigte van produksiestelsels en infrastruktuur. Dit is alles dinge wat mekaar moet aanvul in die proses om teeldoelwitte doeltreffend te verwesenlik, hetsy as stoetteler, kommersiële vleisbeesboer, speenkalfprodusent of in 'n osboerdery.
Watter stelsel jy ook al volg, dit is noodsaaklik dat jy jou klant of mark se behoeftes ken, soos die Hoëveldse speenkalfboer na wie vroeër verwys is. Dit kan onder meer bepaal hoe jy die beskikbare teelmateriaal so doeltreffend moontlik gebruik, hetsy by wyse van kunsmatige inseminasie, natuurlike dekking of selfs embrio-oorplasing, sê Snyman.
Hulpmiddels omteeldoelwitte te bereik, dek eintlik die breë spectrum van gesonde boerderybeginsels, naamlik 'n volhoubare weidingstelsel, byvoeding in die vorm van lekke volgens veral produksieklas en seisoenale behoeftes en 'n behoorlike program vir dieregesondheid. Laasgenoemde kan net wees om diere gesond te hou of kan ook naspeurbaarheid insluit ter wille van finansiële voordele.
Nog 'n belangrike hulpmiddel is 'n algemene,weldeurdagte en opsigtelike bestuursprogram volgens dieselfde beginsel as die bekende "koeihorlosie" wat melkboere gebruik. Dit is die begin van vroegtydige optrede pleks van krisisbestuur.
'n Deel daarvan is byvoorbeeld bepaalde dektye wat daarop gemik is omdie fisiologiese siklus van die beesmet dié van die natuur te sinchroniseer, byvoorbeeld optimale melkproduksie wanneer 'n speenkalf dit die nodigste het. Dit is terloops ook die beste tyd omdie kalf se ma weer te laat dek.
Verder is seleksiemetodes en -gebruike, rekordhouding, die gereelde ontleding van inligting en resultate en die gebruik van professionele adviesdienste (wanneer nodig) dikwels die sement wat die stene van enige doelwitbepaling stewig hou.
Die stel van doelwitte is deurslaggewend ten opsigte van volhoubaarheid (ook in die lig vanwat aardverwarming vir die tekoms mag inhou), terwyl die omgewing en teelmateriaal die belangrikste faktore is wat teeldoelwitte beïnvloed. Omgewingsinvloede is vinnig,maar nie permanent nie. Daarteenoor strek genetiese invloede oor die medium- tot langtermyn en is dit permanent, aldus Snyman.
Landbouweekblad, 18 Januarie 2008