Landbou

Mnr. Tuffy Reyneke (voor) wys hoe lyk sy wildheining wat die probleemdiere uithou. Agter staan mnr. Willem Kleyn, sy raadgewer oor parasietbestryding.
Soortgelyk
Oud-stut het bulplan met wildteling
Deur CHARL VAN ROOYEN

'n Voormalige provinsiale rugbyspeler boer met sy wild soos hy eens met sy Brahmane geboer het. Hy pas onder meer parasiet- en siektebestryding, seleksie en teling toe om die beste uit sy boerdery met skaars wild te haal.

Waar eens spog-Brahmane gewei het, is daar op hierdie Bosveldplaas nou net duur soorte wild, soos buffels en swartwitpense, want daarmee maak dié boer meer geld. In die proses het hy ook heelwat risiko's uit die boerdery gehaal, sê mnr. Tuffy Reyneke van die plaas Matlabas in die distrik Thabazimbi, Limpopo.

Reyneke het in 1979 saam met sy pa,Willem, begin boer. In daardie dae het hy nog stut vir die Noord-Transvaalse rugbyspan (vandag die Blou Bulle) gespeel, saam met legendes, soos Thys Lourens, Naas Botha, Burger Geldenhuys, Willie Kahts en Louis Moolman. Gedurende die rugbyseisoen was hy nie baie op die plaas nie,maar in die af tye het hy sy volle gewig by die boerdery gaan ingooi.

In 1983 het hy halt geroep met die rugby en heeltyds gaan boer. Sy pa is agt jaar gelede oorlede en sedertdien boer hy alleen saam met sy vrou, Christine, en hul dogters.

Reyneke het aanvanklik hoofsaaklik met Brahmanbeeste geboer. Daar was altyd wild op die plaas. Hy was veral op skoue 'n bekende gesig en het menige kampioen opgelewer. Die Brahmanraad het hom verlede jaar met 'n spesiale toekenning vir sy jare lange diens aan dié beesras vereer, al het hy drie jaar gelede besluit om die beesboerdery te staak en net met wild te boer.

Die kommersiële beeste is eerste verkoop.

Hierdie geld is gebruik om buffels wat vry van tuberkulose, korridorsiekte, besmetlike misgeboorte en bek-en-klouseer is, te koop. Daarna het die stoetery gevolg.

Dié geld het Reyneke vir die aanskaf van onder meer swartwitpense, nog siektevrye buffels, kameelperde, basterhartbeeste (tsessebes) en swart rooibokke gebruik.

Hoekom nie meer Brahmane nie, siende dat hy so goed met hierdie beesras gevaar het?, wou Landbouweekblad weet. Reyneke verduidelik: "Ek het in 'n stadium baie kommersiële koeie gehad en moes grond byhuur. Die boerdery het toe wyd gestrek. Ek moes daagliks groot afstande aflê - oor distrikte heen - om gereeld by ál die vee uit te kom.

"Daarby verg dit baie tyd om kalwers groot te maak. Eers sorg die boer vir die koei en dan vir die kalf, wat hy moet grootmaak en afrond voordat hy 'n inkomste uit die kalf kan kry. "

Reyneke het die kalwers in sy voerkraal afgerond en dan geslag. Die vleis is in die slaghuis op die plaas verkoop sodat hy die middelmanne kon uitskakel en self meer sente uit die verbruikersrand kon kry.

Alles gaan ook met baie risiko's gepaard, want afgesien van die normale boerderyrisiko's het droogtes gereeld toegeslaan.

Weens die periodieke droë tye het hy die veld nooit swaarder as een grootvee-eenheid per 10 hektaar belaai nie.

Met 'n kalfpersentasie van 80 en 'n vrektesyfer van 5% het hy met 400 koeie sowat 300 kalwers per jaar grootgemaak. As hy hierdie kalwers teen R4 per kg (lewende gewig) sou verkoop, sou hy vir 'n kalf van 250 kg dus R1 000 kry. Dit beteken 'n inkomste van ongeveer R300 000 per jaar. Daarvoor het Reyneke 6 500 hektaar grond gehad.

Vergelyk dit nou met boerdery met skaars en duur wild. As hy net tien buffelkoeie het en hy kry agt kalwers per jaar (sê vier bulletjies en vier versies), kan hy die bulle (wanneer hulle groot is) vir R60 000 tot R70 000 elk laat jag, wat reeds byna die inkomste uit vierhonderd Brahmankoeie ewenaar. Boonop het hy baie minder grond vir 'n buffelboerdery nodig. "Sowat 1 000 hektaar is genoeg vir my, " sê Reyneke. Dit is dus geen wonder Reyneke het ál sy beeste van die hand gesit en met skaars en duur wild, hoofsaaklik buffels en swartwitpense, begin boer nie. Hy het ook ander wild.

Hy het die algemene boerderybeginsels van sy beesboerdery van meet af aan by die wild toegepas. Hy gee byvoorbeeld vir die swart rooibokke, swartwitpense, basterhartbeeste, kameelperde, koedoes en elande ekstra voer. Dit help dat hulle altyd in 'n goeie kondisie is en 'n maand vroeër as normaalweg kalf of lam en elke jaar 'n kalf of lam grootmaak. In droë tye verskaf hy ook lekke vir noodsaaklik aanvullings om hulle gesond en sterk te hou.

Een van die ander belangrike beginsels is om die waterkrippe en voerbakke skoon te hou sodat die wild net skoon water kry.

Dit help baie met siektebestryding.

Reyneke het outomatiese diptoestelle by die waterkrippe aangebring. Dit smeer 'n bosluismiddel aan die diere se nekke wanneer hulle water suip. As hy dit nie doen nie, kan die bosluise veral in nat tye só toeneem dat hulle die wild se ore en spene beskadig.

Mnr.Willem Kleyn, nasionale verkoopsbestuurder van die dieregesondheidsmaatskappy Intervet, sê die doeltreffende bestryding van parasiete (inwendig sowel as uitwendig) is een van die grootste uitdagings by intensiewe wildboerdery. Sy maatskappy het 'n toestel ontwerp om boere daarmee te help. Dit is gemaak van 'n hoësterkte poreuse pyp wat op die beginsel van kapillêre krag werk (die aktiewe bestanddeel word by die toestel ingespuit en dan beweeg dit van 'n hoë na 'n lae konsentrasie).

Die toestel word horisontaal op 'n gelyk oppervlak, soos 'n krip of 'n voerbak, aangebring en gevul met 'n opgietdipmiddel, wat vir wild geregistreer is. Sodra die dier water suip of aan die lek vreet, skuur hy teen die toestel. Só versprei die middel oor sy lyf. Die voordeel van die toestel is dat die middel afvryf op alle diere wat gaan water suip - nie net wild nie, maar ook byvoorbeeld jakkalse.

Danksy die toestel se kostedoeltreffendheid kan die boer dit op meer as een krip aanbring. Sodoende sal nie-dominante diere ook toegang tot die dip kry.

Vir die bestryding van inwendige parasiete meng hy 'n veeartsenymiddel saam met die voer of vang hy die buffels in die boma,waar hy hulle met 'n paalspuit in die drukgang of met pyle met 'n wurmmiddel kan behandel.

Reyneke sê hy pas teelbeginsels by sy bu.els toe. Hy het 'n groot bul met reusehorings van Uganda ingevoer om bulle met groot horings en 'n groot horingbasis te teel. Hy doen seleksie vir 'n groot horingbasis, -lengte en -wydte. By die swartwitpense selekteer hy vir horinglengte.

Die buffelteeltroppe is in kampe naby die plaasopstal. Reyneke maak hulle gewoond aan die wildboma, wat langs sy huis is, deurdat hulle in 'n klein kampie langsaan moet gaan water suip. Hulle kry daar ook ekstra voer en 'n lek.

Die buffels is dus gewoond aan die boma. Dit vergemaklik take soos behandeling vir beserings of siektes, die speen van kalwers en die vang van diere wat verskuif of verkoop moet word. Twee keer per jaar moet hulle teen inwendige parasiete behandel word.

Wanneer die tyd ryp is vir 'n behandeling, beman Reyneke en sy werkers die boma ongesiens sodat hy die kampie waar die diere water suip, op die regte tyd kan toemaak wanneer hulle binne is. Hulle word dan by die boma ingejaag. Hierdie werkswyse verminder spanning by die diere.

Die parasietmiddel of medisyne word dan met 'n pylgeweer aan die buffels in die boma toegedien.

Die boma se mure is van dik staal om enige soort wild te kan vaskeer. Dit is egter met ou rubbervervoerbande bedek sodat die wild nie seerkry nie. Daar is kraaltjies in die boma sodat diere maklik met 'n hekstelsel van mekaar geskei kan word. Die laaigeriewe is ook daar.

Reyneke kan verder dragtigheidsondersoeke op buffels in die drukgang doen en met die basterhartbeeste, swartwitpense en swart rooibokke werk.

'n Veearts help soms. Hy word ook gebruik wanneer diere in die veld behandel moet word, soos in goeie reëntye wanneer die wild nie elke dag by die boma gaan water suip nie, maar sommer uit poele in die veld. Dan moet hy siek of beseerde wild met 'n pylgeweer verdoof en behandel.

Reyneke volg, soos in 'n beesboerdery, 'n speenstelsel met die buffels. Die buffelkoeie kalf hoofsaaklik van Januarie tot Februarie of van Julie tot Augustus nadat hulle 11 maande dragtig was. Die kalwers bly sewe maande tot agt maande lank by die koeie. Hulle word dan in die boma van die koeie geskei.

Die kalwers wat in die winter gespeen word, bly in die boma totdat die veld in die lente weer groen word. Die versies gaan dan terug na die koeitrop en die bulletjies na 'n ander kampmet net bulle. Die bultrop is ver genoeg van die teeltroppe dat hulle daardie buffels nie kan ruik of hoor en probeer omdeur 'n heining te breek nie.

Kalwers wat in die somer gespeen word, bly net 'n maand in die boma. Die versies gaan dan terug teeltrop toe, want die ma's het dan nie meer melk nie. Die bulletjies gaan regstreeks bultrop toe.

Reyneke bestuur die buffelbulle soos in 'n beesbultrop, want die bulle bly daar totdat die bestes vir teling of jag geselekteer word.

Die oorkoepelende doelwit met hierdie bestuursbeginsels is om wild met 'n besonderse horinglengte te teel, want sulke diere behaal uiteraard hoër pryse. Vroulike buffels is meer werd as bulle as dit by lewende verkope kom. Verse (18 maande oud) en koeie behaal sowat R150 000 tot R175 000 elk en dragtige diere R200 000 tot R230 000. Jong bulle verkoop vir ongeveer R50 000. Daarteenoor betaal trofeejagters R60 000 tot R100 000 vir 'n groot bul van ses jaar of sewe jaar oud. Teeltroppe is nóg meer werd. Dan haal die bulle sowat R150 000.

Nou is dit nóg duideliker hoekom Reyneke sy beesboerdery vir wild verruil het.

  • Navrae: Mnr. Tuffy Reyneke, Tel. 014 779 0711

    Sementstrook hou probleemdiere uit
    Hier is sommer 'n blink plan om probleemdiere uit die wildkampe te hou sodat hulle nie siek diere, kalwers en lammers vang nie.(Sien die foto regs bo.)

    Mnr. Tuffy Reyneke se wildplaas in die distrik Thabazimbi is heeltemal met 'n wildheining omhein. Dus kan die wild nie uit nie. Hy moes egter 'n plan beraam om te voorkom dat diere wat groot verliese veroorsaak, soos jagluiperds, jakkalse, wildehonde en rooikatte, kan inkom.

    Vlakvarke en ystervarke is die eintlike varke in die verhaal, want hulle grawe gate onderdeur die heinings. Dan kan die roofdiere ook deurkruip.

    Reyneke het 'n sementstrook om ál die teelkampe gemaak en is besig om die buiteheinings ook te beveilig. Die strook is 500 mm breed en 75 mm dik. Sowat 300 mm van die strook is aan die buitekant en 200 mm aan die binnekant van 'n wildkamp. Omdat die deel aan die buitekant effens breër is, is dit vir die diere nóg moeiliker om deur te kruip.

    Hy sê daar is meer roofdiere buite sy plaas wat probeer om na die wild te gaan as wat daar op die plaas is. Dit is die rede hoekom die sementstrook aan die buitekant breër is. Die strook kan aan die binnekant selfs smaller wees, byvoorbeeld 100 mm, veral as die plaas eers heeltemal vry van roofdiere is, want dan is daar niks wat wil uitgrawe nie.

    Die heel onderste draad is 'n staaldraad met breekkrag van 1 ton. Reyneke span hierdie draad baie styf sodat dit nie opgelig kan word nie. Op plekke waar die grond ongelyk is, het hy met die maak van die sementblad ogies van bloudraad vasgesement. Die onderste staaldraad is dan daaraan vasgemaak om dit af te trek.

    Die Y-pale (dik ysterpale) en sparre ("droppers") is ook vasgesement - die Y-pale 10 m uit mekaar en die hangpale 1 m uit mekaar.

    Die heining bestaan uit staaldrade wat horisontaal 150 mm uit mekaar gespan is, met ogiesdraad met openinge van 90 mm (varkdraad) van 1,2 meter hoog onderaan vasgemaak. Die varkdraad is duurder as diamantdraad, maar is sterker en "torring" nie later uitmekaar nie, volgens Reyneke.

    Die gevolg is dat vlakvarke en ystervarke nie onderdeur die heining kan tonnel nie en g'n probleemdier meer by die wild kan uitkom nie.

    Landbouweekblad, 8 Febraurie 2008