Die onlangse sluiting van die enigste abattoir in die land waar rooivleis nog per openbare veiling verhandel is, moet nie voor die deur van die kleiner, plattelandse slagplase gelê word nie. Laasgenoemde is steeds belangrik om bekostigbare vleis te verseker, meen 'n Karooboer wat self só 'n slagplaas bedryf.
Plaasslagterye is hier om te bly. Dit moet nie afgeskiet word asof dit onekonomies en ondoeltreffend is en 'n ooraanbod van slagkapasiteit skep nie. Dit maak net die speelveld gelyker. Dít was die siening van mnr. Hantie Marx (49) van die plaas Dowefontein, Aberdeen, toe Landbouweekblad hom in 2004 besoek het nadat hy in die spervuur was omdat hy 'n "onwettige" plaasslagtery bedryf het.
Nou, vier jaar later, lewer hy steeds van sy plaas af vleis aan tevrede klante van Aberdeen tot Port Elizabeth, terwyl die moderne slagplaas van Oostelike Provinsie Lewende Hawe Afslaers (EPLA) in die Baai sy deure in Januarie gesluit het.
Is dit wat hy met 'n gelyke speelveld bedoel het? "Nee," skerm Marx, "dit is regtig jammer dat EPLA nie meer sake gaan doen nie. Hy was 'n groot rolspeler in die mark.
Gegewe die goeie aanbod wat hy vir die geboue en grond gekry het en die versterking van die rand, wat vleisuitvoer minder mededingend gemaak het,was dit seker logies om nie langer in 'n bedryf te bly wat baie mededingend is en met klein winsmarges tevrede moet wees nie.
"Indien daar egter aangevoer word dat die sluiting te wyte is aan die feit dat EPLA hoër higiënestandaarde moes handhaaf as wat die geval by ander slaghuise is, moet mense maar net gaan kyk hoe vleis in Brasilië verhandel word. Op die markpleine word onverkoelde vleis van dag tot dag verhandel. Miskien is dit bloot 'n geval van dubbele standaarde wat toegepas word, aangesien Suid-Afrika jaarliks groot hoeveelhede rooivleis uit hierdie einste land invoer."
As 'n klein voorsiener aan die mark kan hy ten volle in die behoeftes van sy klante voorsien. Van die mense wat by hom vleis koop, soek dikwels 'n baie vet lam.
Ander verkies baie maer vleis. Die prys waarteen hy dit verkoop, is egter dieselfde. Hy verloor dus nie geld soos boere wat aan slagplase lewer waar daar op grond van die vetgradering teen hulle gediskrimineer word nie.
Marx lewer weekliks sowat 40 skape en een bees se vleis aan sy klante. Die heersende markprys word as maatstaf gebruik om sy eie pryse vas te stel. Waar moontlik probeer hy omsy verkoopprys te egaliseer. Indien die prys wat die boer ontvang, dus skerp sou styg, gee hy dit nie dadelik aan verbruikers deur nie. Die teenoorgestelde geld ook. Sy klante verstaan dit.
Hy kla egter dat die skerp styging in brandstofpryse sedert hy met die slagtery begin het, 'n aspek is wat hom tot kommer stem.
'n Uitgesproke teenstander van die statutêre heffing wat drie jaar gelede ingestel is, het hy intussen daarmee vrede gemaak. "Die huidige heffing is werklik min. Die feit bly staan egter dat dit tot 5% van die verkoopprys van die karkas verhoog kan word.
"My betoog destyds was dat ons nie nodig het om rooivleis in Suid-Afrika te adverteer nie. Ek het sedertdien nog nêrens enige advertensie gesien waar die gesondheidswaarde van plaaslike lamsvleis geadverteer word nie. Ook die feit dat die meeste skaapvleis nié in voerkrale geproduseer word nie, bied 'n gulde geleentheid om dit as plaasvleis te bemark. Die reklame vir rooivleis behoort ook op fynproewers en gesondheidsbewustes gemik te wees."
Marx meen die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het nie die nodige mannekrag en infrastruktuur om 'n noemenswaardige verskil aan vleisboere se inkomste te maak nie. Gegewe die organisasie se beperkte begroting vaar hy in die omstandighede nie te sleg nie en is die weeklikse vleispryse wat per SMS aan lede gestuur word tog waardevol.
Hoewel daar ná die sluiting van die EPLA-abattoir nie meer 'n openbare veilingstelsel is wat as 'n prysbarometer kan dien nie, verseker die tegnologie, soos selfone en die rekenaar, dat enige boer wat die moeite wil doen, gou kan vasstel wat die heersende markpryse is, sê hy.
Gevra of die voerkrale nie die prys van speenkalwers manipuleer nie, is Marx huiwerig om 'n mening te waag. Hy stuur die gesprek in 'n ander rigting. "Ten spyte van die mededingendheid in die mark gaan dit baie goed met die vleishandel in Suid-Afrika - of dit nou 'n bosslagter is of iemand wat 'n koedoe op sy plaas skiet en wors en biltong maak. Ten spyte van die feit dat die kleinhandelprys van lamsvleis kort voor Kersfees die hoogte ingeskiet het, is daar steeds verbruikers wat dit koop.
"Teen R33 per kg wat die boer vir lamsvleis ontvang, het ons geen rede om te kla nie. Hier in Aberdeen boer ons nog almal met skape en het diefstal en probleemdiere nog niemand laat ophou boer nie. Ons moet egter verwag dat namate die hoë rentekoers die verbruiker knou, rooivleispryse binnekortmet 'n rand of wat kan afplat."
Volgens hom is een van die voordele van die slagtery op sy plaas dat dit werk skep. Die vroue wat die afval krap, verdien R12 per kop. Maar, sê hy, daar moet onthou word dat daar 'n groot deel van die bevolking is wat glad nie rooivleis kan bekostig nie. Hul soutigheid is miskien net 'n paar hoenderpote.
Marx sê die feit dat dit in die algemeen goed gaan met boere, word weerspieël deur die afname in die opkoms by die boerevereniging se vergaderings. "Meer as 80 boere het in 1992 hier op Aberdeen die vergadering bygewoon. Deesdae kom daar kwalik 25 boere byeen. Agri Oos-Kaap sukkel om boere betrokke te kry."
Hy sê die Karoo is deesdae gesog en grondpryse het die hoogte ingeskiet. In sy distrik wissel die prys van R1 500 tot R1 800 per hektaar. "Ek is nie neerslagtig oor die toekoms van die kommersiële landbou in Suid-Afrika nie. Die verskil tussen ons en Zimbabwe is dat ons hier 'n Karoo het."
Daar is kwalik sprake van grondeise in dié deel van die land. Dit kwel Marx ook nie dat mnr. Jacob Zuma dalk eendag die president van die land kan word nie. "Ek is van Afrika en 'n Afrikaan en wil nêrens elders in die wêreld wees nie."
Boer kan sy inkomste verhoog
Mnr. Hantie Marx van die plaas Dowefontein,
Aberdeen, sê 'n boer wat
bereid is om die nodige opofferings te
maak, kan sy plaasinkomste verhoog
deur sy eie vee te slag en te verkoop.
Hy bedryf al ses jaar lank 'n slagplaas
op sy plaas.
Omdat die vyfde kwart (die vel en afval) so belangrik in die winsmarge van 'n slagtery is, waarsku hy dat diegene wat 'n slagplaas oorweeg, seker moet maak dat hulle 'n afset vir die neweprodukte het. Dit geld veral vir die afval. Dit is hoogs bederfbaar, maar verbruikers verkies om dit vars eerder as bevrore te koop.
Hy beklemtoon dat die infrastruktuur, soos die gebou (wat aan die nodige standaarde moet voldoen), die koelkamers en die vrieskaste, 'n vleissaag en 'n koeltrok waarin die vleis vervoer moet word, duur is.
'n Ander aspek om in gedagte te hou voordat 'n slaghuis opgerig word, is deurlopende toegang tot afgeronde vee. Hoewel hy sy lamtyd aangepas het, moet hy nogtans per geleentheid vee inkoop. Hy slag nie meer sy eie beeste nie, maar koop die snitte by 'n groothandelaar wat dit op Aberdeen aflewer. Marx verwerk dit dan volgens sy klant se behoefte.
Hy meen sy sukses is te danke aan tevrede klante wat in hul skik is met die gehalte van die vleis, die netjiese verpakking en dat dit sonder bykomende koste by hulle afgelewer word.
Sy prys is ook baie mededingend, aangesien dit van die heersende markpryse afgelei word. Om nie weekliks met klein hoeveelhede vleis na die stad te ry nie, het hy 'n agent aangestel, wat dit op aanvraag aan sy klante verskaf.
Hy beklemtoon dat die geriewe op 'n plaas aan presies dieselfde standaard as stedelike slaghuise moet voldoen. "In die stad is daar egter voete - ek moet 'n klantebasis opbou. In gewone slaghuise word die vleis per snit verkoop. Daarop kan 'n groter wins gemaak word as wanneer jy dit in groot maat verkoop.
"As supermarkte van vleis tot drank en hardeware kan verkoop, waarom kan boere in die vrye mark nie ook regstreeks met die publiek sake doen nie?"
Landbouweekblad, 15 Februarie 2008