Op 'n plaas wat al 112 jaar in die familie is, het mnr. Hilton Spangenberg - die vierde geslag op die plaas - in 'n kort tyd aansienlike vordering met teling in sy Dorperstoetery gemaak. Aantekeninge en selektiewe paring vir die gewenste eienskappe het meegebring dat 'n Dorperteler se eie bloedlyn al naam gemaak het in die bedryf. Sedert 2000 het die stoetery soveel verbeter dat hy nou die eerste plek op die nasionale veiling beklee - 'n aanduiding van die gehalte van sy diere.
Mnr. Hilton Spangenberg van die plaas Enkele Duin, Keimoes, het met teling grootgeword. Sy pa, Piet, het sedert 1960 in sy Eie Karakoelstoetery ramme vir sy kommersiële kudde geteel. Toe die Karakoelbedryf in die 1980's tot niet is, het hy na Dorpers oorgeskakel.
Hilton is die vierde geslag op dié plaas. Sy pa se boerdery het twee vertakkings gehad - akkerbou en skape. Sy ma, Freda, het die skaapboerdery bestuur en hy het sy liefde vir die skape ontwikkel terwyl hy saam met haar veld toe gegaan het.
Met dié agtergrond van teling het Hilton in 1990 'n paar ou ooie van mnr. Albé van Niekerk van Kenhardt gekoop. In 1991 is sy stoetery by die Dorper-telersgenootskap geregistreer. Om sy stoetkudde te verbeter, het hy tipe 5-ooie by die Bakgat-stoetery van mnr. Tromp Cilliers van Olifantshoek gekoop. Om sy stoetery aan te help, het sy pa vir hom 'n stoetram by mnr. Tien Jordaan van Eureka, Adelaide, gekoop. In daardie stadium was teling vir Hilton 'n stokperdjie. Hy het hoofsaaklik ramme vir sy pa se kommersiële kudde geteel.
Die stoetery het geleidelik uitgebrei en op aanbeveling van Jordaan het Hilton in 2000 bevrore semen van net die beste beskikbare ramme begin gebruik. Hy gebruik ook sedertdien die hulp van 'n kleinveekonsultant, mnr. Daan Bosman. Mnr. Francois Theron van KLK in Upington hanteer die bemarking van sy diere.
Deur selektiewe paring met saad van ramme van die land se beste telers het Hilton sy eie bloedlyn begin teel. Sy mikpunte was om aangepaste diere met 'n goeie bouvorm en vleiseienskappe te teel. Daarby moet die diere funksioneel en hoogs vrugbaar wees met goeie moedereienskappe en genoeg melk.
Hy hou al die afgelope sewe jaar volledig aantekeninge van elke dier in die kudde.
Die ooie word in drie ewe groot groepe van alle ouderdomme ingedeel vir paring deur die jaar. Dektye is Februarie, Augustus en Desember. Die Februarie-groep het die beste besettingsyfer.
Jong ooie word op nege maande vir die eerste paring natuurlik gepaar om ooie natuurlik te beset om vrugbaarheid vas te stel.
Jong ooie wat die eerste keer oorslaan, kry 'n tweede kans waarna hul uitgeskot word as hulle nie dragtig is nie.
Twaalf dae nadat die laparoskopie gedoen is, word dit opgevolg met ramme by die ooie. Dit gee genoeg tyd om die verskillende ramme se lammers te identifiseer. Die ramme wat hy by sy eie ooie gebruik, verkoop hy jonk sodat hulle nog goed in die stoetbedryf gebruik kan word.
Die gemiddelde besettingsyfer met 'n laparoskopie is 65% tot 75%, hoewel dit al tot 85% was. Voeding en voorbereiding speel 'n belangrike rol vir goeie resultate met laparoskopie. Die ooie kry sowat drie weke voor die laparoskopie prikkelvoeding vir 'n beter kondisie met verhoogde ovulasie vir beter besetting. Prikkelvoeding bestaan uit sjokolademielies en/of 'n energielek na gelang van die veldtoestande.
Die ooie moet gesond, vry van in- en uitwendige parasiete en in 'n groeifase wees. Die diere moet ook so rustig moontlik gehanteer word.
Om sy bestuur te vergemaklik, het Hilton net sowat 120 tot 150 ooie in sy stoetery. Hy ken elke skaap op die plaas. Sy lampersentasie is tussen 125 en 145. Die verlies weens probleemdiere is tussen 1% en 2%.
Lammers word op drie maande gespeen, geweeg en die speengewigte na Dorper21 gestuur vir die bepaal van 'n speenindeks. Die speengewig is gemiddeld 35 kg op drie maande tot vier maande. Die lammers bly ses weke in voerkrale waar hulle kruipvoerkorrels en ad lib lusern teen speenskok ontvang. Lammers met opsigtelike prulfoute word geslag en die res gaan na natuurlike weiding.
Alle uitskotlammers en-ooie word plaaslik geslag. Alle tipe 5-ooilammers met 'n goeie genetiese agtergrond gaan terug in die stoetery.
Ooilammers moet so natuurlik moontlik grootword sodat hul aanpasbaarheid gemeet kan word. Die ooilammers moet egter nie te vet word wanneer hulle teen speenskok gevoer word nie omdat 'n vetlaag om hul reproduksie-organe vorm, wat vrugbaarheid beïnvloed.
Die teelooie moet goeie vroulike eienskappe hê met 'n goeie bouvorm en goeie vleiseienskappe.
Hul haarbedekking moet een derde wol en twee derdes kort, sagte hare wees. Dit verseker goeie vetverspreiding. Ooie word selektief gepaar sodat die haarbedekking so korrek moontlik is. Goeie aantekeninge speel ook hierin 'n rol. Omdat 'n ram se nageslag soos sy ma lyk, is dit belangrik om elke ram se ma te ken.
Ramlammers bly tot op die ouderdom van een jaar op natuurlike weiding met net 'n lek in droë tye. Net ramlammers wat goed op natuurlike weiding presteer, word vir veilings afgerond.
Hilton glo daaraan om ramme te teel wat funksioneel is, goed kan loop en sterk en stewig op die bene is sodat hulle goed kan aanpas by moeilike toestande. Wanneer ramme afgerond word, kry hulle ad lib lusern (sodat die dier se pens gewoond is aan ruvoer en hulle dus makliker op natuurlike weiding aanpas) en kragvoer.
Alle ramme op veilings word vir Brucella ovis en vrugbaarheid getoets. Die plaas het 'n sertifikaat dat dit skoon is van Brucella ovis.
Met voorkomende behandeling verseker Hilton dat sy ooie gesond en sonder bosluise bly en die lammers ook beskerm word. Die ramme word ook voorkomend behandel en die middels word afgewissel om immuniteit te voorkom.
Die noukeurige aantekeninge bring mee dat kopers op aanvraag 'n stamboom of geslagsregister van sowat drie geslagte kan kry.
Alle aantekeninge word op rekenaar gehou en seleksie word daarvolgens gedoen.
Hy gebruik die afgelope paar jaar net sy eie ramme waarvan die ma 'n goeie genetiese agtergrond het. Net ander telers wie se ramme 'n genetiese verband met sy eie het, se diere word gebruik. Een van sy eie ramme, Wakker, het in 2005 sy teling 'n groot hupstoot gegee. Twee van dié ram se seuns het in 2007 die tweede en derde hoogste prys op die nasionale veiling behaal.
Hilton sê dit is vir hom 'n aanduiding van sy ramme se gehalte dat van die toptelers by wie hy aanvanklik teelmateriaal gekry het, nou van sy ramme gebruik. "Ek kom nou nader aan my doelwit: Lynteling met die beste teelmateriaal in die land."
'n Hoogtepunt vir hom is dat hy in 2008 die eerste plek op die nasionale Dorperveiling gaan inneem. Hy is ook deel van die internasionale mark met die uitvoer van embrio's na Australië en Brasilië.
Hilton sê die sukses in die stoetery is te danke aan die ondersteuning van sy vrou, Valda, en die genade van die Here.
Landbouweekblad, 29 Februarie 2008