Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) steun alle maatreëls wat daarop gemik is om boere teen onopgeleide mense te beskerm wat nie diere behoort te diagnoseer nie, sê mnr. Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV.
De Beer het gereageer op die voorgestelde wysigings wat die SA Veterinêre Raad (SAVR) aan sy regulasies wil aanbring. Die wysigings wil keer dat iemand wat nié as veearts geregistreer is, 'n mediese toestel mag gebruik vir die diagnose van siektes, dragtigheid en fisiologiese of patologiese diagnoses by diere nie.
Hy sê 'n beskrywingspunt is onlangs op 'n vergadering van die NWKV in Mpumalanga aanvaar waarin kommer oor die wysigings uitgespreek is. Nogtans het die maatreëls waarskynlik eerder betrekking op mediese toestelle wat die diere penetreer. "Daar moet 'n onderskeid getref word tussen sonar-toestelle wat rektaal gebruik word en dié wat uitwendig gebruik word om dragtigheid te diagnoseer."
Hoewel die voorgestelde wysiging daarop gemik is om boere teen mense te beskerm wat nie die nodige opleiding het nie, hoop hy nie dat dit só toegepas sal word dat dit die veebedryf sal benadeel nie.
Die makelaarsonderneming CMW het sonartoerusting wat hy uitverhuur. Hy wou nie in die stadium kommentaar lewer oor die voorgestelde wysigings nie. Dr. Theuns Laas, 'n boer en veekundige van Volksrust in Mpumalanga, het vroeër aan Landbouweekblad gesê dat baie mense wat tans die diens lewer, maar nie by die SAVR geregistreer is nie, van 'n inkomste ontneem sal word.
Me. Hanri Kruger, registrateur van die SAVR het bevestig dat die voorgestelde wysiging daarop gemik is om enige onduidelikheid wat in die verlede bestaan het uit die weg te ruim. "Die gebruik van 'n mediese instrument vir die maak die diagnose, behandeling, voorkoming of monitering van 'n siektetoestand, asook die diagnose van of voorkoming van dragtigheid, 'n fisiologiese of patologiese toestand van 'n dier, is nou deel van die voorgestelde definisie."
Kruger sê dat waar daar 'n tekort aan opgeleide veeartse is om die werk te doen, die wet voorsiening maak dat die SAVR individue kan bemagtig om veterinêre of paraveterinêre dienste te lewer.
"Die SAVR meen egter dat dit reeds ingevolge die bestaande wetgewing onwettig is vir diegene wat nie by die Raad geregistreer is nie om dragtigheidsondersoeke te doen. Waar klagtes in die verband ontvang word, sal dit na die SAPD vir ondersoek verwys sal word," het sy gesê.
Landbouweekblad, 28 Maart 2008