Arm Afrikalande meen die ontwikkelde lande boelie hul uit die vleisrevolusie wat nou plaasvind met die onredelike toepassing van standaarde wat Afrika se boere die geleentheid ontneem om voordeel uit die bloeitydperk te trek.
Europese woordvoerders sê hul wetenskaplikes raai hulle aan om die risiko's van die verspreiding van ernstige aansteeklike veesiektes soos bek-en-klouseer en malbeessiekte te voorkom deur die uitwissing van die siektes by die oorsprong.
Die SA vleisbedryf waarsku ook dat daar ernstig gewaak moet word dat beheermaatreës nie so verwater word dat siektes wat nou betreklik goed tot bepaalde gebiede beperk word, weer vryelik die loop kan neem om die kommesiële vleisbedryf te benadeel nie.
Verskeie internasionale kenners het verlede week beraadslaag om 'n oplossing vir dié probleem te soek en 'n produkgegronde handel en groter samewerking binne en tussen Afrikalande word gesien as 'n uitweg.
Tydens 'n inligtingsessie waarheen die media uitgenooi is tydens 'n werkswinkel oor ernstige oorgrenssiektes en die belemmerende uitwerking daarvan op markte was dit duidelik dat hoewel derdewêreldse lande Afrika se nood besef, hulle hul eie basse (en skynbaar markte) doelgerig beskerm.
In 'n video wat vertoon is speel 'n gewillige opkomende boer van Botswana, waar dorre toestand voorskryf dat meer as 90% van die landbou veeteelt is en 86% van die veeboerdery in kommunale hande is, die hoofrol.
Omdat vleis nie uit Botswana na die winsgewende markte in Europa en elders uitgevoer kan word nie omdat bek-en-klouseer in dié land voorkom, is sy vorderingsmoontlikhede beperk en hy eintlik tot voortslepende armoede gedoem.
Hierop het internasionale regeringsverteenwoordigers gesê hulle kyk na alternatiewe sonder om die risiko's buite rekening te laat. Daar is lig voor in die tonnel oor hoe bestaande kwessies aangespreek moet word en watter weg ingeslaan moet word.
Die Afrikasprekers sê hulle het begrip dat daar vrese vir die verspreiding van die siektes bestaan, maar wat hulle dronk slaan is dat vleis wat in gebied wat 40 jaar en langer skoon van die siektes is, marktoegang geweier word bloot omdat die siektes elders in die land voorkom.
Hulle verstaan ook nie hoekom hanteringsmetodes wat wetenskaplik bewys het dat vleis veilig is as dit ontbeen en kouebehandeling gekry het, nie vir die Europese lande aanvaarbaar is nie. Wat Afrikalande eerder wil sien is dat die produk aan veiligheids- en gesondheidsvereistes moet voldoen eerder as om gebiede of lande vry van die siektes te probeer maak.
Om oplossings hiervoor te vind en Afrika te laat deel in die vleisrevolusie van groter vraag en beter pryse, is die kern van die projek wat deur die Instituut van Ontwikkelingstudies in Brittanje aangepak is en waarvan die werkswinkel deel uitmaak, sê prof. Ian Scoones van dié Instituut.
10 April 2008