
Vyfduisend jaar gelede is die Alabai gebruik om die nomadiese veeboere en hul eiendom teen vyande en roofdiere te beskerm namate hulle ál verder van hul nedersettings weiding moes gaan soek het in die Sentraal-Asiatiese streek waar Turkmenistan vandag geleë is.
Dr. Johan Klopper van Pretoria het van dié merkwaardige honderas gehoor en deur die internet telers in die Oekraïne opgespoor. Sy belangstelling was só geprikkel deur wat hy van dié honde gelees en gehoor het, dat hy besluit het om van hulle in te voer.
Hy het sowat drie jaar gelede ook Russiese terriërs ingevoer en hy is só in sy skik met hierdie honde se besonderse eienskappe dat dit as verdere aansporing gedien het om ook van die Alabai's te bekom.
Hy en 'n vriend, mnr. Ettiene Kruger van Vereeniging, het twee tewe en 'n reun ingevoer. Toe die honde hier aankom, was hulle hoogs in hul skik met die groot en sterk diere.
Hulle beoog om die reun met die twee tewe (nie een van die drie is aan mekaar verwant nie) te laat paar en dan nog 'n reun in te voer om verder te teel.
Klopper sê die volwasse tewe weeg 70 kg tot 80 kg en die reuns kan tot 100 kg weeg. Tog kan hierdie honde hard werk en met verbasend min kos oor die weg kom, het hy uit sy navorsing wys geword.
Hoewel die ras al vyf eeue lank erken word, het die telers skynbaar nooit waarde daaraan geheg om 'n spesifieke kleur vas te teel nie. Die honde kan wit, swart, bruin of 'n kombinasie van dié kleure wees en selfs bruin gestreep wees. Hul bouvorm, geaardheid en temperament is egter vasgeteel, want die drie ingevoerde honde lyk, afgesien van die kleur, die een soos die ander en net soos die foto's van honde wat in die begin van die vorige eeu afgeneem is. Volgens Klopper se inligting is die honde uitstekende waghonde wat 'n natuurlike aanleg het om vee op te pas. In geskrifte word beweer dat hulle veral vee wat afdwaal, oppas. Daar is 'n verhaal oor een van die honde wat by die afgedwaalde vee wag gehou het totdat hy van honger gevrek het.
Klopper sê hy het nie vee op sy kleinhoewe nie en het nie ondervinding daarvan nie, maar in wat hy gelees het, is die honde op plekke selfs gebruik om hoenders wat vry loop, op te pas.
Volgens een artikel is dit nie nodig om hulle op te lei nie. Hulle "drink die kennis saam met moedersmelk in" en waar die kleintjies lank genoeg by die teef bly, leer sy hulle die fynere kunsies outomaties aan.
Dat hulle uitstekende wag- en gesinshonde is, weet hy uit ondervinding. Die honde laat net die werker wat hulle van die begin af gehanteer het op die werf toe. As daar ander werkers nodig is, moet Klopper die honde in hokke toemaak. Hulle is baie lief vir kinders. As vriende kom kuier, is hulle om die kinders en probeer altyd tussen jou en die kind inbeweeg, sê Klopper. Hulle sal dan ook altyd voor die deur lê en keer dat die klein kinders alleen uitgaan. Hulle pas selfs van die ander honde op die werf se kleintjies net so getrou op.
Volgens die rasstandaarde is die Asiatiese herdershond sterk en atleties gebou. Die reuns staan gewoonlik 720 mm tot 770 mm hoog en die tewe 680 mm tot 700 mm. Hulle het 'n lang, sterk skelet met digte bespiering. Die vel is dik en elasties en beskerm die hond uitstekend.
Die honde het baie selfvertroue en is onafhanklik en vreesloos, met 'n goeie uithouvermoë en 'n sterk ruggraat. Hulle kan pyn baie goed verduur. Die honde het 'n groot en lang kop, met sterk kake en skerp tande. Die ore is klein, driehoekig en laag geplaas. Die ingevoerde honde se ore is gesny om nóg korter te wees sodat roofdiere hulle nie daaraan kan beetkry nie.
Een van die interessante kenmerke van die honde is dat hulle in uiterste klimaatstoestande kan oorleef, van 45 grade Celsius in die skaduwee tot in ysige toestande van -30 grade Celsius.
'n Ander besonderse kenmerk van die honde is dat hulle hul eienaars en dié se vee teen slange beskerm. 'n Hond gryp die slang agter die kop en ruk sy ruggraat met een skud af. Hy los dit dadelik om te verhoed dat die reptiel sy lyf om die hond kan kronkel en hom dooddruk.
Daar is talle legendes om die honde geweef. Daar word beweer dat die streek waarvandaan die honde kom in die sesde eeu voor Christus deur Ahemenidiese konings uit Rusland ingeneem is en dat koning Kir I, wat as die grootste van dié konings bekend was, met hondemelk grootgemaak is. Dit dui daarop dat honde in daardie tyd as heilig geag is. Daarna het Alexander die Grote die gebied verower.
Teen die helfte van die sesde eeu het die Turke dit ingeneem en hul eie staat daar gevestig. Beesboerdery was toe goed aan die gang en die Alabai is toe algemeen deur die herders van daardie tyd gebruik.
In die sewende eeu is die land deur die Arabiere ingeneem. Vir hulle was honde vuil en onrein diere en aggressiewe honde is voor die voet doodgemaak. Net die honde wat die getrouste aan die mense en lieftallig teenoor kinders was, het oorleef.
Daar is ook verhale van mense wat dié honde met tiere probeer kruis het, maar dit het nie gewerk nie. Selfs kruisings met wolwe was nie geslaag nie. Trouens, deur die jare het suiwer teling altyd die beste diere gelewer, wat die ras deur die eeue laat oorleef het.
Tot vandag sê hul eienaars die Alabai bewe voor geen vyand nie. Een van dié Sentraal-Asiatiese herdershonde, Ekemen, is glo deur entoesiastiese telers na 'n dieretuin gebring waar 'n leeu in 'n oop kamp aangehou is. Die leeu het gebrul, Ekemen het gegrom en dit het meer as een man gevat om die hond vas te hou. Uiteindelik het die leeu weggedraai en op sy rug met sy pote in die lug gaan lê.
Dié storie word vertel deur mnr. Dawlet Koerrikof, die voorsitter van die Turkmeense klub van hondekenners in Ashgabat, Turkmenistan se hoofstad.
Klopper sê 'n mens weet nou nie of dit 'n grootpoot-Kalahari-leeu met ruie maanhare was nie, maar dit laat hom nogal dink aan twee boksers wat mekaar voor 'n geveg staan en aangluur om te kyk wie gee in en kyk eerste weg. In dié geval was dit die leeu wat die aftog geblaas het.
Landbouweekblad, 11 April 2008