Duur grond en die afhanklikheid van duur stikstofkunsmis vir die weidingstelsel, plaas 'n groot demper op melk- produksie aan die kus.
Die prys van kunsmis het sedert verlede jaar dermate gestyg dat dit in die kusgebiede na verhouding aansienlik duurder geword het om melk op aangeplante weidings te produseer as wat die geval in die binneland is waar boere met volvoerrantsoene melk produseer. Dit is die siening van mnr. Daan Landman (50), van Bergsig in die Tsitsikamma, wat reeds 25 jaar lank 'n melkery bedryf.
Landman melk nagenoeg 1 500 koeie. Hy hou vier koeie per hektaar aan op die weidings wat onder besproeiing is en produseer sowat 24 000 liter melk per hektaar per jaar.
Hoewel hy toegee dat die koste van kunsmis net so duur vir boere in die binneland is, meen hy die opbrengs per hektaar wanneer mielies geplant word, is aansienlik beter is as wat met weidings verkry word. Ook waar lusern vir koeie geplant word, is boere nie met die koste van stikstofkunsmis opgeskeep nie. Die nuwe lusernkultivars wat uit Amerika ingevoer word, kan koue goed weerstaan, wat meebring dat dit in die loop van die jaar langer tye benut kan word.
Waar die weerstand teen koue van die lusernkultivar SA Standaard op 'n tienpuntskaal hoogstens 2 is, is dit by van die nuwe kultivars so hoog as 9. Dit beteken as daar nie swaar ryp is nie, kan die lusern feitlik die hele jaar benut word. Om kop bo water te hou, het boere in die kusgebiede geen ander keuse as om vertikaal uit te brei nie. Die meeste pas 'n geenbewerkingstelsel toe en benut die weidings optimaal. Die voer wat nie gevreet word nie, word gesny vir kuilvoer.
Hy meen meer aandag kan nog aan die teelmateriaal van melkkuddes in die kusgebiede gegee word. "Hier word nog te veel bulle op die veld gesien. Die antwoord lê eerder by die invoer van die semen van goeie bulle." Nog iets wat in die afgelope dekade verander het, is die wegbeweeg van chemiese na organiese bemesting. Hoendermis speel 'n al hoe groter rol in bemesting.
Met die groot debat rondom aardverwarming, sê Landman, steek maatskappye, soos Cleaner Climate, voelers na melkboere uit om bioaanlegte op plase op te rig. "Eerder as om die mis na damme te pomp waar dit droog word, kan dit in 'n biogasaanleg opgeberg word. Met die metaangas wat vrykom, kan 'n mens krag opwek."
In Duitsland word dit reeds redelik algemeen gedoen. Krag wat só opgewek word, word verkoop. "Met 'n onlangse besoek het 'n boer vir my gesê dit is vir hom lonender om kuilvoer deur die metaangas-aanleg te stuur as om dit vir sy koeie te voer en melk te produseer."
Volgens Landman sal melkboere in die Tsitsikamma in die toekoms waarskynlik 'n meer holistiese benadering moet volg en hul inkomste uit ander bronne aanvul.
"Hier is reeds boere wat klein saagmeulens opgerig het en palette vervaardig. 'n Mens kan ook houtsaagsels en beesmis in kompos verwerk. Met die groot aantal damme op elke plaas is visboerdery ook 'n opsie."
Hy meen melkproduksie in die Tsitsikamma kan met nog sowat 30 % uitbrei. Daar is melkerye wat nog nie teen hul volle potensiaal produseer nie. Ongelukkig is die ander beperking dat daar selde ekonomiese eenhede in die mark kom. Dit sal nie ekonomies sin maak om net 100 ha tot 150 ha aan te skaf nie.
Landman wat sy melk aan Lance-wood in George lewer, sê hy is bekommerd dat die boere en verbruikers die gelag gaan betaal as die melkverspreiders wat van samespanning beskuldig word, groot boetes opgelê gaan word. "Hoewel die verskaffers van produksiemiddele en supermarkte die afgelope jaar rekordwinste gemaak het, is dit vanweë die magsposisie wat hulle beklee maklik om kostestygings na die primêre produsent of die verbruiker af te wentel."
Kusgebied of binneland?
Wat is die beste adres vir 'n melkboerdery in die toekoms? Mnr. Gerdie Landman van die Mooimelk Koeihotel by Kookhuis het vier jaar gelede met sy melkery stroomop geskuif. Hy sê daar is verskillende stelsels waarvolgens melkerye (boerderye of besighede) suksesvol in die wêreld bedryf kan word.
Dit is nie noodwendig die adres, ras of die grootte van die kudde wat tel nie, maar hoe die man en die vrou of, nóg beter, die familie dit bestuur. As hulle as 'n span die onderneming bedryf, verseker dit in die meeste gevalle die sukses van die onderneming, sê Landman.
Gevra of dit, soos sy broer Daan meen, deesdae betreklik goedkoper word om melk in die binneland te produseer, sê Gerdie die keuse van 'n boerdery-adres hang daarvan af of die plaas geërf is. As 'n plaas lank gelede gekoop is, help inflasie om die ou skuld met nuwe produkpryse af te betaal. Hy stem egter saam dat dit deesdae waarskynlik duurder gaan wees om in die Tsitsikamma met 'n melkery te begin as in die binneland.
Teen heersende markpryse skat hy dat dit sowat R75 miljoen (grond, melkportaal, koeie, toerusting vir grondbewerking en trekkers) sal kos om 'n melkery vir 1 000 koeie in die Tsitsikamma op die been te bring. In die Visrivier-vallei kan die koste beduidend minder wees.
"Die vereistes om suksesvol met melk in die kusgebied te boer, sal egter nie wesentlik van melkproduksie in die binneland verskil nie. Goeie ruvoer bly die geheim van ekonomiese melkproduksie. Wat die beskikbaarheid en produksie van eie kragvoer betref, is dit 'n ope vraag teen watter peil dit toegedien moet word. In die Wes-Kaap melk boere suksesvol met dubbel die kragvoerpeile as wat die geval in die Oos-Kaap is."
Oor die kuddegrootte sê hy dat 'n boer wat 250 koeie melk en bereid is om as 't ware 24 uur aan diens te wees, op weidings en in voerkrale genoeg wins kan maak. Sou die boer egter meer vryheid verkies en 'n bestuurspan in diens neem, sal hy minstens 500 koeie moet melk. As hy eers hiermee sukses behaal, is dit maklik om die kudde tot 1 000 koeie uit te brei. Die wenslikste grootte in oorsese modelle is sowat 2 000 koeie. "Hierdie groei is egter moeiliker op die weidingsplase weens die lang afstande tussen die lande en melkstal. In die binneland kan melkerye redelik maklik groei omdat die voer na die koeie aangery word.
"Ongeag die ras waarmee geboer word, sal dit altyd loon om koeie met 'n goeie melkpotensiaal te voer. Die koste om verse en kalwers groot te maak, is egter bepalend. In die kusgebiede raak dit duur as die grond naby die melkstal met nie-produserende verse en droë koeie benut moet word. In voerkraalstelsels is dit egter net so duur om nie-produserende diere in die krip te voer."
Gerdie sê met kunsmispryse wat die hoogte ingeskiet het, en die einde is nog nie in sig nie, is die aanwending van beesmis wel 'n opsie op die lande. "Organiese bemesting is gewens waar dit moontlik is. Op die weidings gebeur dit spontaan. Soos die diere wei, versprei hulle die mis oor die hele plaas teen die laagste koste. Ongelukkig is grond in die Tsitsikamma met 'n pH van 4,5 tot 4,8 nie geskik vir die verbouing van lusern nie. Dit hou die gevaar van opblaas in en sal ook deur die diere vertrap word. Gewasse soos kikoejoe en raaigras het weer groter stikstofbehoeftes. Wanneer vier koeie per hektaar gedra wil word, sal die kunsmis uit die sak moet kom.
"In die voerkraalstelsels van die binneland moet die kraalmis meganies op die lande gestrooi word. Dit kos geld. Aangesien gewasse soos lusern geen stikstofaanvulling nodig het nie, kan binnelandse melkboere vergelykbare ruvoer goedkoper produseer omdat die grond se pH van 7,0 ideaal is vir die produksie van lusern - mits dit gesny en gebaal word."
Of daar, soos in Duitsland, aan biogasaanlegte gedink kan word, sê hy dat in gedagte gehou moet word dat net 'n klein persentasie van die mis op weidingstelsels versamel word. In die voerkraalstelsels kan dit waarskynlik makliker wees om die mis te versamel en in 'n betonmisdam op te gaar vir die produksie van biogas. Die metaangas kan as brandstof gebruik word om 'n enjin aan te dryf wat die kragopwekker draai. "Dit is egter 'n nuwe bedryfstak wat weer sy eie stel bestuur gaan verg. Ek is onlangs R2 miljoen gekwoteer om 'n bioaanleg vir 1 000 melkkoeie op te rig."
Oor die moontlikheid van diversifikasie by binnelandse melkerye, sê hy dat die afronding van bulkawers in die voerkraal in die binneland 'n moontlikheid is. "Die vraag is of dit in dié geval nie beter sal wees om nog verse te koop om die melkery uit te brei nie, want as hy bulkalwers afrond, sal die boer se fokus nie net meer op sy melkery toegespits wees nie. Onthou, slegs die heel beste bestuurders kan meer as drie dinge gelyktydig goed doen - daarna val die pap iewers op die grond."
Samevattend meen Gerdie dit maak nie regtig saak of iemand op weidings of op volvoerrantsoene koeie melk nie, want die groot geheim is die mense wat daarby betrokke is. "Kyk maar na die werklike suksesverhale in die landbou - Chris en Naubie Rossouw en hul span seuns van Mpumalanga, Louis en Cora de Kock van Wildeklawer (Kimberley), die Van Greunen-broers naby George, Daan en Elna Landman in die Tsitsikamma - dan besef jy dit het meer met die mense te make het as met die 'dinge' waarmee hulle besig is," sê hy.
Landbouweekblad, 18 April 2008