Landbou

Die eerste Noriker-perde in die land, is hier by hul eienaar, mnr. Piet Botha van Geyerspan, Lichtenburg. Hierdie vosperde met wit maanhare is sowat 'n jaar oud.
Foto: Hennie Basson

Antieke perderas in SA
HENNIE BASSON

Perde van die Noriker-ras wat uit die voor-Romeinse tyd dateer en 'n tradisionele trekperd is, is onlangs vir die eerste keer na Suid-Afrika ingevoer. Mnr. Piet Botha, bekende perdeteler en eienaar van die Geyerspan-Friesperdstoet by Lichtenburg, het twee hingste en vier merries van dié ras in Oostenryk bekom.

Plaaslike perdeliefhebbers kry binnekort die geleentheid om dié uitsonderlike perde van naderby te beskou. Dit is op die jaarlikse Hoefslagfees wat op 10 Mei op Botha se plaas gehou word.

Botha het die Norikers ingevoer om 'n bier- en wynwa tydens feeste te trek. Die wa, die enigste in sy soort in die land, is tans op Geyerspan in aanbou.

Dié perdesoort is reeds in die destydse Tessalonika in oorloë gebruik en deur die Romeine na die destydse staat Noricum (geleë in die huidige Oostenryk) geneem.

Dit is hier dat hierdie sterk, geharde ras sedertdien gedy het vir gebruik in veral die bergagtige gebiede. Die provinsie Salzburg, vanwaar Botha sy perde uit verskillende stoeterye bekom het, word as die bakermat van dié ras beskou.

Ofskoon Botha se nuwe vosperde, almal met wit maanhare, slegs sowat 'n jaar oud is, is hul stewige bouvorm reeds opmerklik. Volgens hom het hulle oor 'n uitsonderlike temperament en word hulle in die buiteland ook as geskikte sportperde vir verskeie dissiplines benut.

Benewens die vertoning van Norikers sal die fees op Geyerspan oudergewoonte ook ander items insluit. Friesperde sal optree, terwyl Hackneys, Saalperde, Arabierperde, miniatuurperde en selfs miniatuurdonkies die toeskouers sal vermaak.

Die verskillende items in die arena begin om 09:00, terwyl die tradisionele perdeveiling om 16:00 volg.

Altesame 60 Friesperde, ongeveer 30 SA Miniatuurperde, 12 Arabierperde en perde van ander rasse word aangebied op dié veiling wat deur Noord-Kaap Lewende Hawe behartig word.

Die dag word verder opgekikker met die vertoning van 'n aantal veerasse en veteraantrekkers, asook optredes deur verskeie sang- en musiekkunstenaars, soos die bekende Zak van Niekerk, Endia en Hekkie de la Guerra.

Hekgeld is R50 per persoon en kinders onder ses jaar is gratis.

Navrae: Botha, sel 082 920 7443, Madelein, sel 072 223 1315 of Hennie, sel 072 273 6042.

Landbouweekblad, 25 April 2008