Landbou
Groter wins uit voorbereide kalwers
Deur JEAN LE ROUX (jleroux2@landbou.com)

Boere het altyd hul kalwers net ná speentyd na voerkrale weggeneem. Voerkrale het dan aansienlike moeite gehad om die kalwers aan die lewe te hou en vir die voerproses aan te pas. Syfers van tot 60% morbiditeit (kalwers wat siek word) en 7% mortaliteit (vrektes) was nie ongewoon nie.

Sedert speenkalwers duurder geword het, is na verskeiemaniere gekyk omdié situasie te verbeter. Een van die nuwe bestuurspraktyke is die voorbereiding van kalwers op die plaas op die veld voordat hulle na voerkrale gaan.

Dié praktyk laat die kalwers goeie immuniteit opbou teen siektes wat die hoofoorsake van vrektes en onekonomiese groei in die voerkraal is. Die aanvaarde tydsverloop vir 'n dier om optimale immuniteit op te bou nadat inenting plaasgevind het, is 45 dae.

As 'n dier tekorte aan vitamiene of spoorelemente ondervind en dit word aangevul, duur dit ten minste vier weke vir die dier om die aanvullings te verwerk. Baie van die diere het hoë ladings van in- en uitwendige parasiete wat bydra om hul immuunstelsel ondoeltreffend te maak. Tydens speentyd is kalwers onder groot spanning, wat hul reaksie op entstowwe benadeel.

Die voorbereiding van kalwers op die veld gee hulle ook 'n kans om aan te pas vir voerkraalrantsoene. Pas gespeende kalwers se grootpense is nie vir voerkraalrantsoene aangepas nie. As hulle nie genoeg tyd het om aan te pas nie, word hul grootpense se werking sodanig benadeel dat hulle maklik longontsteking en verskeie ander probleme ontwikkel wat hul groei beperk en afronding onekonomies maak.

Vir party van die produkte, soos oorinplantate, wat voerkrale gebruik om optimale resultate te behaal, kos dit 'n week of twee om hul volle potensiaal te bereik. Die vooraf aanpassing by 'n voerrantsoen is dus steeds nie genoeg voorsorg om volle groeipotensiaal te bereik nie. As die kalwers gereeld geweeg en na hul groei gekyk word, is een van die belangrikste faktore wat 'n rol in hul gewigstoename speel, die vulling van die grootpens. Dit maak 'n groot verskil aan die kalf se groei en gewig.

Deur 'n voerkraalkalf vooraf in sy veldvoorbereidingstadium 'n implantaat te gee, pas sy grootpens aan vir die kragvoer wat hy gaan ontvang. As kalwers terselfdertyd leer om dié tipe rantsoen te vreet, word staantyd in die voerkraal aansienlik verkort. 'n Goedkoper voerkraalrantsoen is nodig,wat die vaste koste per kalf afbring en die voerkraal kan dus meer diere jaarliks behartig.

'n Implantaat soos Revalor G (reg.no. G2714 Wet 36/1947), wat 30% laer vlakke van die aktiewe bestanddele bevat as Revalor S (reg.no. G2024Wet 36/1947) wat 'n kalf in die voerkraal kry, gee die diere 'n beter kans om aan te pas. Die hoër vlakke aktiewe bestanddele wat hulle later ontvang, word beter benut. Verskeie proewe toon sulke kalwers presteer beter.

Aangesien die winsgewende groei van kalwers onderworpe is aan goeie gesondheid, veral die longe en spysverteringskanaal, is veldvoorbereiding uiters belangrik by kalwers wat voerkrale toe gaan. Sulke kalwers is vir voerkrale baie meer ekonomies en hulle kan in die toekoms dalk 'n premie vir sulke kalwers betaal.

Landbouweekblad, 25 April 2008