
Afrika se beesrasse het die afgelope dekade ál gewilder geraak. 'n Goue geleentheid is egter verpas deur die voortydige ontwikkeling van die moderne Afrikanerbees. 'n Bekende teler meen daar moes eerder op die gebaande weë gebly gewees het.
In die sitkamer van die historiese Rynheath-herehuis wat uit 1830 dateer en met 'n onbeperkte uitsig oor Spandaukop buite Graaff-Reinet, haal mnr. Johannes van Rensburg (50), die jongste Afrikanerbees-joernaal te voorskyn.
"Kom, laat ek jou wys hoe die pad byster geraak is. Kyk na dié bul. Dit is 'n massiewe dier met regop hakskene wat nóóit hier in die Karoo sal aard nie. Lyk hierdie koeie dalk vir jou na Afrikaners?" toets hy my en tik met sy wysvinger op die foto's van die verskillende telers se beeste.
Is dit nie net omdat die beeste onthoring is nie? "Nee, dit is nie al nie. Met ál die infusie wat deesdae so mode geword het, is dit 'n onreg om só 'n mengelmoes van beeste in die joernaal te adverteer. Sal 'n Merinoteler daaraan dink om Dorpers in die Merino-joernaal te adverteer? As jy skoon water by modderwater voeg, sit jy steeds met vuilwater. Geen wonder die Afrikanerbees-telersgenootskap se ledetal het die afgelope paar jaar so getuimel nie," sê hy onthuts. Ek luister aandagtig. Vroeër die dag toe op Rynheath foto's geneem is van die Afrikanerbeeste met hul weglêhorings, het dit my nostalgies na 'n geraamde afdruk in my ouma se eetkamer teruggevoer. Daardie bekende toneel waar die Voortrekkers met hul ossewaens en Afrikanerosse die Drakensberge oor is.
En die onthoringde beeste in sy kudde op Rynheath?
Van Rensburg stik byna in sy tee. "Nee, jong, die genootskap het in 1999 op 'n boeredag op Hoopstad gesê dit is nou 'n vereistes dat alle geregistreerde Afrikanerbeeste voortaan onthoring moet word omdat die moderne vleisbedryf dit kwansuis soek. Soos 'n blerrie 'fool' het ek dit vyf jaar lank slaafs nagevolg. Dit is totale onsin dat die diere mekaar met die horings seermaak.
"Oukei, jy sukkel 'n bietjie in 'n drukgang, maar hier is 'n voerkraal wat gereeld my beeste koop. Hoekom? Omdat die vleis van die Afrikaner, Jersey en Angus die fynste draad en sagste van almal is.
"Daar is 'n wonderlike toekoms vir die Afrikanerbees met sy horings en al. Mense het opnuut bewus geraak van die waarde van inheemse beesrasse. Buitendien is daar hoeveel ander beesrasse in die land, soos die Bonsmara, wat regstreeks hul oorsprong uit die Afrikanerbees het."
As dit so 'n voortreflike ras is soos wat hy voorgee, waarom word dit, behalwe op die R10-banknoot, deesdae selde gesien? "Dit was die koms van die Brahman in die 1960's na die land. Hulle het uitstekend met die Afrikaners in die Bosveld gekruis. Dit het die mark vir Afrikanerbulle laat kwyn. Uiteindelik het die koeikuddes afgeneem.
"Terselfdertyd het persoonlikhede in die bedryf hulle laat geld en met groot fanfare 'n ander teelrigting begin inslaan. Kommersiële boere het hul vingers verbrand met die vaars wat gekoop is en ál meer hul rug op die ras begin draai."
Hy vertel dat sy pa, Dicky (83), al in 1945 sy Afrikanerstoetery begin het met diere wat hoofsaaklik uit die Geldenhuys-bloedlyne gekom het. Die Geldenhuyskudde was glo baie eenvormig en die koeie het baie melk en 'n uitmuntende loopvermoë gehad. Sy pa het, soos die gebruik destyds was, sy jaarlikse vakansie geneem om met sy diere te gaan skou. "Ek was maar vyf jaar oud, toe ek saam met 'n werker die eerste bulkalf op die Bloemfonteinse skou in die ring gelei het," onthou hy trots.
Teen die 1970's was daar meer as 1 200 Afrikanerkoeie en 20 000 ooie op hul plase by Graaff-Reinet, die Addo-bosveld en Bathurst. Met die demokratisering van Suid-Afrika teen die 1990's in sig, droogte en rentekoerse wat die hoogte ingeskiet het, is die Van Rensburgs, soos talle ander gesiene Karooboere, deur hul bank gedruk om uitstaande lenings op kort kennisgewing terug te betaal. Ondanks dié terugslag het hulle 200 van die beste Afrikanerkoeie gehou.
Hoewel hy 'n opbetaalde lid van die Afrikaner-beestelersgenootskap gebly het, is sy diere vandag nie meer geregistreer nie. "Die Afrikanerbees is my passie én ek maak geld met hulle. Toegegee, hulle kalf miskien 'n jaar later as ander beesrasse op droë veld en gee net elke 13 maande 'n kalf, maar hul langlewendheid en lae onderhoudskoste vergoed daarvoor. Hier is 'n paar koeie wat op 20 jaar weer dragtig is."
Hy verduidelik dat Afrikanerbeeste se langlewendheid daaraan te danke is dat Seboerasse se tande op 'n hoek afslyt. Op Rynheath word die koeie van November tot einde Januarie gepaar. Ingeval daar koeie is wat nie beset geraak het nie, word die bulle weer in Maart vir 28 dae by die koeie gesit. Die kalwers word op die ouderdom van ses maande gespeen. Die koeie kry geen byvoeding nie. Net 'n fosfaatlek gedurende die winter.
Van Rensburg gebruik 'n Nieu-Seelandse konsultant, mnr. Ian Walsh, wat met behulp van sonartegnologie die wydte en diepte van die oogspiere, vetbedekking op die ribbes en kruisskyf meet. Dit staan as die Falkirk-indeks bekend. As die leier van 'n wegbreekgroep van 28 boere, wat hulself die Kaapse Afrikanerbeestelersgroep noem en saam sowat 2 600 teelkoeie het, kla hy dat dit prestasietoetsing en BLUP is wat in die telers se keel afgedruk is, wat hulle tot dié stap gedwing het.
"Van 1991 af het die mense 'prestasietoetsmal' geword. As dit só 'n goeie ding vir die ras was, waarom het die ledetal van die genootskap van 125 tot 61 lede gedaal? Hoekom is daar dan nie méér bulle bemark nie? Laat ek jou sê, dit is nié die boere wat met ander rasse boer wat ons vyand is nie. Dit is die onderlinge getwis tussen lede wat die grootste onreg aan die ras doen.
"Familievetes wat uit die Boere-oorlog dateer, is nog aan die orde van die dag. Dit is infusies wat dinge omgekrap het. 'n Mens wonder watter druk daar van die Instituut vir Diereverbetering op Irene is om dié koers in te slaan. In 1990 was Sanganers die geur van die maand, nou is dit weer Afsims. Is die infusies nie bloot daarop gemik om die Afrikaner tot niet te maak nie? Hoekom verkoop daardie telers nie hul Afrikaners en skaf vir hulle die ander rasse aan nie?" wonder 'n omgekrapte Van Rensburg.
Vir hom is die ideale Afrikanerbees 'n klein- tot mediumraamdier wat op die veld gedy, vrugbaar is en 'n bulkalf van 200 kg en 'n verskalf van 175 kg teen die ouderdom van ses maande op die veld speen. Dié bees moet ook 'n karkas hê wat die regte bespiering op die regte plekke het - daar waar die duur snitte is.
Of die Kaapse groep dit sal oorweeg om weer lede van die genootskap te word, sê hy dat dit 'n vae moontlikheid is mits die voorsitter van die genootskap nie self 'n stoetteler is nie en die verteenwoordigers in die raad oor die land versprei is. "Ons groep besit uitstekende diere wat enige dag net so goed soos die geregistreerde diere is. Daar word volledig boekgehou van die koeie en kalwers se stambome. Al wat ons nié het nie, is die papiere. Hoekom R35 per bees vir registrasiegeld betaal en dan word daar teen jou gediskrimineer die dag as jy beeste op 'n veiling wil verkoop? "Laat ek jou vertel," lig hy my vertroulik in, "hier kom al hoe meer van die geregistreerde telers uit die Vrystaat en die Noorde wat stil-stil by ons beeste kom koop."
Die lang wyser van die horlosie stap aan na twaalfuur. Ons staan op en gaan loop 'n draai. Die sterre skyn helder in die soel maanlose Karoonag. "Ek verstaan nie ander beesrasse nie. Daar is nie 'n trotser dier op aarde as die koedoe en Afrikanerbees nie. Waarom dit staan en verander? My droom is dat almal die bees vooropstel en dat bulle op veilings volgens die Falkirk-stelsel getoets word. Dán kan die kopers besluit watter prys hulle wil betaal en kan ons weer vorentoe beweeg," sug hy.
Landbouweekblad, 25 April 2008