Anatoliese herdershonde pas reeds jare lank kleinvee op vir veeboere in Suid-Afrika en Namibië. Dié honde kom oorspronklik van Turkye waar hulle Turkse veeboere se vee beskerm.
Hierdie natuurlike manier om te voorkom dat roofdiere vee vang, bied 'n oplossing aan boere wat groot verliese ly en met bewaringsinstansies wil saamwerk om bedreigde roofdiere te beskerm.
Na aanleiding van die sukses met die eerste projekte in Namibië en Suid-Afrika het Cheetah Outreach en die De Wildt Cheetah and Wildlife Trust onlangs ook 'n projek begin. Cheetah Outreach, wat finansiering vir die projek bekom het, teel nou Anatoliese herdershonde. Veertien hondjies is reeds deur De Wildt na plase uitgeplaas, waar hulle opgelei word om vee te beskerm.
Vee is maklike prooi en roofdiere word vinnig bederfwanneer hulle agterkom daar is 'n makliker bron van kos as wilde diere. Boere en bewaringsowerhede is gedurig in konflik oor die saak. Die nuwe projek bied dalk 'n omgewingsvriendelike en doeltreffende oplossing vir die probleem.
In Namibië word kleiner honderasse ook gebruik om vee te beskerm, maar omdat De Wildt en Cheetah Outreach se belangrikste oogmerk die bewaring van die jagluiperd is, word die Anatoliese herdershond hier gebruik. Danksy hierdie hond se grootte en harde blaf sal 'n uitgegroeide hond groot roofdiere afskrik en selfs aanval.
In die noorde van Limpopo is volop jagluiperds en luiperds buite wildtuine. Daardie boere het die afgelope twee dekades stelselmatig van vee- na wildboerdery oorgeskakel. Omdat leeus nie daar voorkom nie, het dit 'n goeie habitat vir jagluiperds en luiperds geword.
Die gebied is waarskynlik die enigste gebied waar jagluiperds op lang termyn sal oorleef. Bewaringsgebiede in Suid-Afrika is te klein om volhoubare jagluiperdbevolkings te onderhou en die verantwoordelikheid berus dus by grondeienaars om hierdie diere vir die nageslag te bewaar.
Ongelukkig het dit die twee bedreigde roofdiersoorte in konflik met veeboere gebring. Boere het al verliese van tot twintig speenkalwers in 'n enkele seisoen aangemeld.
Die ongesonde en onwettige gebruik van gif is nie selektief nie en verskeie ander bedreigde, kleiner roofdiere is soms slagoffers. Volgens die natuurkenner dr. Gerhard Verdoorn is dit moeilik om syfers oor die vergiftiging van roofdiere en roofvoëls te gee, maar dit is 'n groot probleem wanneer desperate boere gif uitplaas om veeverliese te voorkom. Talle roofvoëls en roofdiere vrek jaarliks weens vergiftiging.
Omdat die jagluiperd oor 'n wye gebied rondbeweeg, is dit ook vir bewaringsinstansies uiters moeilik om probleemdiere in hokke te vang vir verskuiwing. Op 'n onlangse werksessie oor luiperdbewaring is bekend gemaak dat byna twee keer méér luiperds onwettig gejag en op ander maniere doodgemaak word as waarvoor permitte vir wettige jagte uitgereik word.
Veeboere is nie die enigste sondaars nie, maar het wel 'n groot aandeel in die onwettige jag en vergiftiging van probleemdiere.
Bewaringsbeamptes is dit egter eens dat die meeste boere gif uit radeloosheid uitplaas en bereid is om saam met hulle te werk.
In Limpopo word honde in 'n proefprojek opgelei om beeste teen groter roofdiere, soos luiperds en jagluiperds, te beskerm. Twee van die honde is by mnr. Petrus van der Walt van die plaas Cambridge,Maasstroom, en mnr. Attie van der Westhuizen van die plaas Weltevreden, Lephalale. Albei hondjies, Delta en Echo, het reeds 'n goeie band met hul kuddes gevorm en in hierdie stadium lyk die projek belowend.
Die hondjie moet van die begin tussen jong skape, bokke of kalwers gehou word. Aan die begin bly die hondjie in 'n kampie in die kraal waar die vee oornag.
Sodra hy oud genoeg is, kan hy saam met die vee begin veld toe gaan. Die eerste ruk moet die vee redelik naby aan die kraal in 'n kleinerige kamp gehou word, aangesien die hondjie eers vertroud moet raak met sy omgewing en nog nie so ver kan loop nie.
Dit is moeiliker om 'n hond by beeste as by kleinvee aan te wend, omdat koeie met klein kalwertjies nie geduld met 'n hond in die kraal het nie. Delta is al 'n paar keer deur 'n befoeterde Brahmankoei afgeknou, maar hy het vinnig geleer om liewer tussen die ander beeste te bly. Hy gaan nou saam met sy trop beeste veld toe en bly die hele dag getrou op sy pos.
Ook by Van der Westhuizen was daar min probleme om Echo by die kudde in te skakel. Die hondjie het reeds vroeg uit sy kampie gegrawe om tussen die beeste te wees. Dié reuntjie gaan reeds van die ouderdom van vyf maande veld toe saam met die beeste. Van der Westhuizen, 'n deeltydse boer, sien Echo soms vir 'n paar weke nie, maar as hy op sy plaas kom, is die hond op sy pos.
Die beeswagter maak seker hy het kos en water. Hierdie boer het voorheen gereeld kalwers verloor as koeie in die veld kalf,maar vandat Echo saam met sy beeste in die veld bly, het hy nog nie weer verliese gehad nie. Sy beeste het dikwels krapmerke gehad soos wat hulle vir roofdiere gevlug het. Ook hiervan is daar nie meer tekens nie.
Van der Westhuizen sê boere wat skepties is omdat beeste gewoonlik ver van mekaar wei, hoef nie bekommerd te wees nie. Echo het aan die begin baie maer geword, omdat hy baie moes loop om by al die beeste te waak, maar nou het hy die beeste blykbaar "geleer" om nader aan mekaar te wei.
Vandat hy saam met die beeste in die veld bly, het 'n groepie luiperds ook opgehou om by die veesuiping water te drink. Dit wil voorkom of die hondereuk hulle laat besluit het om liefs op 'n ander plek te gaan suip. Die hond se urinemerke en mis skrik roofdiere af, want dit is 'n roofdier se eerste instink om konfrontasie te vermy.
Van der Westhuizen sê hoewel die aanhou van so 'n hond 'n bietjie moeite en aandag van die boer verg, is die langtermynvoordele beslis die moeite werd.
Mnr. Marthinus Opperman en sy vrou, Louise, van die plaas Hartjesveld, tussen Alldays en Musina, vertel hulle is uiters tevrede met die twee honde wat hulle gekry het. Die een hond pas sowat 240 skape op en die ander een 50 bokke.
Vandat hulle herdershonde inspan, het verliese reeds met die helfte verminder. Hoewel die honde nog jonk is, het hulle al kwaaddoener- jakkalse naby die skaap- en bokkraal doodgebyt. Van die boere is oortuig die honde kan ook help om veediefstal te beperk.
Daar word beoog om jaarliks sowat veertig hondjies oor die hele land uit te plaas, waarvan vyftien na boere in Limpopo se jagluiperdgebied sal gaan.
Cheetah Outreach se borgskap bepaal dat die hondjie die instansie se eiendom bly, maar permanent op die boer se plaas kan bly. Goeie hondekos en inentings word ook vir 'n jaar geborg, waarna die boer self vir die hond se onderhoud verantwoordelik is.
Belangstellendes wat aan die projek wil deelneem, kan die veldbeampte, mnr. Luke Strugnell, by sel 079 878 3741 of e-pos: luke@ dewildt.org.za kontak. Algemene navrae kan aanme. Liezel Smith van Cheetah Outreach gerig word by sel 083 364 6278 of e-pos: cheetah@intekom.co.za.
Alet van der Walt is 'n vryskutskrywer.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008