Landbou
Promosie-artikel:
Vars begin is halfpad gewin
Deur CHRIS VAN DYK

Meeste produsente is bekend met die Kaliforniese mastitistoets, of, soos meer algemeen bekende, die CMT-toets waar klein hoeveelhede melk in 'n spesiale bakkie gegooi word, 'n reagens bygevoeg word en die reaksie wat dan plaasvind 'n aanduiding kan gee van die graad van mastitis in die verskillende kwarte. Hierdie toets kan egter ook direk ná kalwing gebruik word om pasgekalfte koeie vir subkliniese mastitis te ondersoek.

Die CMT kan ook op die melk van pas gekalfte koeie gebruik word. Kolostrum wat gewoonlik meer dig as varsmelk is het nie 'n negatiewe effek op die CMT toets nie - die reaksie met die CMT word bepaal deur die seltelling en nie deur die digtheid van die melk nie.

Die uitdaging lê daarin om die CMT-resultate te interpreteer. 'n Kenmerkende verdikking van die melk word waargeneem in koeie later in laktasie met subkliniese mastitis en dit sal verskil as dit vergelyk word met koeie wat pas gekalf het.

Om eenvormige toetsresultate te verseker moet alle bestuurders en persone verantwoordelik vir CMT korrek opgelei word - u kuddeveearts kan hier leiding neem.

Hierdie eenvoudige prosedure kan in 'n paar minute gedoen word en behoort deel uit te maak van die roetine ná-kalwingsbestuur. Daar sal kortliks na die riglyne vir hierdie prosedure verwys word - u kuddeveearts sal u verder kan help.

  • Bepaal die koei se CMT-telling met afdroog en dan weer direk ná kalwing. 'n Koei met 'n verhoogde CMT-telling sal waarskynlik dui op 'n nuwe infeksie wat tydens die droë tydperk plaasgevind het en nuwe infeksies kan van ou infeksies uit die vorige laktasie onderskei word. Verwys ook na die tabel hieronder wat vir rekord doeleindes gebruik kan word.

  • Gebruik die CMT op die eerste of tweede dag ná kalwing - die hele idee is om nuwe infeksies so vroeg moontlik vas te stel.

  • Behandel alle nuwe infeksies met die korrekte middel wat in samewerking met u kuddeveearts deur middel van antibiogramme bepaal is. 'n Groot persentasie van subkliniese streptokokkus- en staphylokokkus-infeksies sal op hierdie behandeling reageer.

  • Moenie ou kronies besmette kwarte behandel nie wat nie tydens die afdroog tydperk genees is nie. Indien kwart reeds in die vorige laktasie en met afdroog behandel is, is daar geen voordeel om weer te probeer behandel direk na kalwing nie.

  • Alle verse moet met die CMT getoets word - positiewe kwarte moet as nuwe infeksies beskou word en moet behandel word.

  • Lesers is welkom om die skrywer oor hierdie artikel of oor enige ander suiwelverwante aspekte te kontak.
    Selnommer: 082 789 4499 of per e-pos by: chris.vandijk@pfizer.com

    5 Mei 2008