Die temperatuur en meer spesifiek 'n verhoogde temperatuur in 'n melkkoei is 'n vroeë waarskuwingsteken dat een of ander siekte of siektetoestande aan die ontwikkel is.
Bogenoemde is die teorie agter 'n prosedure wat meer en meer op plase met baie groot sukses toegepas word, naamlik die neem van elke koei se temperatuur vir die eerste 10 dae na kalwing. Hierdie beginsel is ook die hoeksteen van die Pfizer Varskoei Program as deel van die Pfizer 100™ Dae Suiwelprogram.
Omdat baie koeie vatbaar is vir infeksies in die vroeë na-kalwingsperiode neem baie produsente die temperatuur vir 'n paar dae en op die meeste vir die eerste week ná kalwing. Uitgebreide navorsing dui egter daarop dat dit onvoldoende is en dat baie verhoogde temperature ook later in koeie gesien en dan gemis word.
In die meegaande grafiek kan duidelik gesien word dat 314 koeie in 'n proef waar 1 485 vars koeie se temperatuur gemonitor is, 'n temperatuurreaksie gehad het tussen dag 3 en 5 ná kalwing. Hierdie koeie het normaal gekalf en 'n mens sou nie enige probleme by hulle verwag nie.
![]()
|
In 'n ander proef is een groep diere met 'n temperatuurreaksie met antibiotika behandel en die ander groep nie - daar was 'n beduidende groter aantal diere met baarmoederinfeksie in die onbehandelde groep 30 dae ná kalwing.
Hoekom moet 'n mens die temperature monitor?
In 'n melkkoei word 'n koors gediagnoseer as die rektale temperatuur hoër as 39,5 °C is. In meeste gevalle sal daar 'n verhoging in temperatuur wees 24 tot 36 uur voor daar ander kliniese simptome, soos verlaagde produksie, aptytverlies of algemene depressie is.
Teen die tyd wat die veearts ingeroep word, is die koei tien teen een heeltemal af van haar kos, en sy gaan nog verder in 'n negatiewe energiebalans as wat sy reeds direk ná kalwing is. Behandeling is dan ook minder suksesvol aangesien die infeksie reeds sy pad geloop het en dan 'n chroniese probleem begin raak. Afhangend van die antibiotika wat gebruik word, sal groot hoeveelhede melk ook mee weggedoen word - 'n verdere ekonomiese verlies.
Reproduksie en spesifiek die herstelfase van die reproduksiesiklus word hier alreeds beïnvloed en hierdie koei kan dalk later as 'n probleemkoei uitgeskot word omdat sy na herhaalde dekkings nog nie dragtig sal wees nie.
Kan die neem van temperature ná kalwing prakties gedoen word?
Die antwoord is ja, met 'n aantal klein aanpassings kan hierdie prosedure deel word van elke dag se normale take op 'n melkplaas. Elektroniese termometers is beskikbaar wat minder as 20 sekondes per koei neem. Deur elke dag die temperatuur te neem, "forseer" dit ons ook om elke dag die koeie fisies onder oë te neem en seker maak dat sy wel gesond is, en indien nie, dadelik verdere stappe te neem.
Die beste tyd om die temperature te neem is soggens net ná melking - middagtemperature, veral in die somer, is baie keer 1-2 grade hoër en koeie mag dan verkeerdelik behandel word.
Daar kan nadele wees deur koeie net op verhoogde temperature te behandel en 'n basiese kliniese ondersoek moet steeds deel van enige behandelingsprogram in die vars koei wees. U veearts sal u kan help met behandelingsprogramme.
14 Mei 2008