'n Tekort aan fosfor gee aanleiding tot 'n laer weidinginname wat die groeitempo van diere verlaag en uiteindelik vrugbaarheid, melkproduksie en speenmassa nadelig beïnvloed, terwyl 'n tekort ook onderdrukte en ongereelde hittesiklusse tot gevolg het.
Voldoende fosfor- en spoorelementinname is uiters noodsaaklik om 'n hoë kalf- en lampersentasie asook groeitempo te verseker.
Fosfor word wêreldwyd as die mees beperkende en ekonomies belangrike mineraal vir weidende herkouers beskou. Dikwels word 'n wanverhouding tussen fosfor en kalsium in natuurlike weiding aangetref weens veral 'n té hoë kalsiuminhoud. Vir optimum diereprestasie, asook benutting van fosfor moet die kalsium tot fosforverhouding in die herkouer se dieet 1 tot 2:1 wees. Produsente wat hulle eie fosfaatlekke meng, neem meestal slegs die fosfor- en kalsiuminhoud in ag en misken dikwels die belangrikheid van magnesium, swawel, koper, mangaan, sink, selenium, kobalt en jodium (Corah, 1996).
Die gebruik van moderne en wetenskaplike seleksietegnieke het tot groot verbetering van die produktiwiteit van beeste en skape gelei. Behoeftes is volgens Cohar (1996) egter nie terselfdertyd aangepas om in die produksiepotensiaal van vandag se diere te voorsien nie. Volgens hierdie navorser is daar toenemend meer gevalle van verlaagde produktiwiteit en immuniteit weens spoorelementtekorte sonder duidelike waarneembare kliniese tekortsimptome. Daarbenewens sal fosforaanvulling weiding-inname en groei slegs verbeter as die proteïeninhoud van die weiding meer is as 8 % en die fosforinhoud van die weiding minder as 0.15 % is (Winks, 1990).
'n Té hoë kalsiuminname, byvoorbeeld in kalkrykgebiede, vererger 'n fosfortekort omdat dit fosforabsorpsie met tot 18 % kan verlaag. Volgens Little (1970) gebeur dit ook dikwels dat fosforaanvulling nie 'n respons gee nie weens veelvoudige voedingstoftekorte, veral proteïen- en energietekort.
Fosfortekortsimptome
Fosfortekortsindroom, ook bekend as afosforose, manifesteer in verskillende vorms. Tipies van 'n fosfortekort is 'n versteurde eetlus (pika) wat aanleiding gee tot die vreet en kou aan vreemde voorwerpe byvoorbeeld bene, lappe, plastieksakke, klippe, yster, hout, ensovoorts. Een van die bekende fosfortekortsimptome (ook dié van natrium-, kalium-, energie- en proteïentekort), is osteofagia (beenhonger) waar diere bene vreet of aan bene van verrotte karkasse kou. Indien hierdie bene met Clostridium Botulinum besmet is, kan hierdie diere van 'n siektetoestand, algemeen bekend as lamsiekte, vrek. Ander tekortsimptome is ragitis, dik litte, stywe bene, kloue groei lank uit en punte krul na binne, verlies aan aptyt, stadige groei, ernstige vermaering, onderdrukte en ongereelde hittesiklusse, verlaagde vrugbaarheid en melkproduksie, vertoon lusteloos, dowwe haarkleed en melkkoors asook verlaagde immuniteit en mikrobeproteïen-produksie.
Belang van fosfor vir beeste
Die mees ernstige gevolg van 'n fosfortekort is 'n verlaagde weidingsinname wat dan tot verlaaagde groei en reproduksie lei. Kalfpersentasie van 80 % teenoor 51 % van die kontrole (geen fosforaanvulling) asook 'n toename in speenmassas van tot 27,5 % is gerapporteer as gevolg van die aanvulling van fosfor in fosfortekortgebiede. Die normale riglyne vir fosforaanvulling gedurende die groenseisoen varieer van 6 tot
16 g/bees/dag afhangend van die ernstigheid van die fosfortekort en die produksie-stadium van die dier. Daar word beraam dat vleisbeeskoeie in totaal 3,3 tot 4,5 kg fosfor per jaar moet inneem om optimale produksie en reproduksie te verseker.
Belang van fosfor vir skape
Skape word nie in dieselfde mate as beeste deur 'n fosfortekort geaffekteer nie, trouens in verskeie studies kon geen voordeel met fosforaanvulling aan skape, in fosfortekort-gebiede vir beeste, bewys word nie. Van die redes wat hiervoor aangevoer word, is dat kleinvee 'n hoër voerverbruik per eenheidliggaamsmassa en 'n kleiner proporsie been tot liggaamsmassa as beeste het en daarom 'n laer fosforbehoefte het en ook omdat hulle 'n beter seleksievermoë het. Hulle kan dus weiding met 'n hoër fosforinhoud selekteer. Verder lakteer kleinvee vir 'n korter periode van hulle jaarlikse reproduksiesiklus en het dus meer tyd om hulle fosforreserwes aan te vul. Volgens Engels (1981) kan moontlik verwag word dat die reproduksietempo van ooie en groeitempo van hulle lammers op fosforarmweiding benadeel word soos die lampersentasie van ooie toeneem. Dit blyk dus dat soos produksievlakke (d.i. lampersentasie, groeitempo, ensovoorts) toeneem, die voorsiening van voldoende fosfor al belangriker raak. 'n Swak respons met fosfor-aanvulling by skape kan ook wees weens 'n te lae swawelinname omdat dit die benutting van stikstof (proteïen) en fosfor beperk.
Volgens die NRC (1985) is die totale daaglikse fosforbehoeftes van groeiende lammers, afhangend van hulle liggaamsmassa en groeitempo, 2,6 tot 3,0 g/lam en dié van laat-dragtige en lakterende ooie, afhangend van hulle liggaamsmassa en die aantal lammers wat soog, 3,4 tot 9,0 g/ooi. Normaalweg word daagliks 1 tot 2 g fosfor per kleinvee via lekke aangevul wat in sekere omstandighede te min kan wees vir optimale produksie. Die grootste waarde van die voorsiening van fosfaatsoutlekke aan kleinvee is dat terselfdertyd spoorelemente aangevul word om die dier se spoorelementstatus op te bou. 'n Hoë spoorelementreserwe is noodsaaklik vir hoë produksie, reproduksie en vir weerstand teen siektes.
Aanvulling van fosfor
Fosforaanvulling geskied meestal gedurende die groeiseisoen wanneer die grasweidings groen is en aktief groei en dit hoog in proteïen is. Little (1968) is van mening dat die proteïen in weiding ondoeltreffend benut word as daar 'n tekort aan fosfor is. Die aanvulling van fosfor en spoorelemente geskied deur middel van soutfosfaatlekke. Daar moet gewaak word teen die oorinname van sout, veral as die drinkwater heelwat sout bevat, want dit kan die respons wat met fosfor- en spoorelementaanvulling verkry word, benadeel. Ondanks uitstekende resultate wat met fosforaanvulling, veral by beeste, verkry word, is daar nog steeds produsente wat slegs 'n soutlek of klipsout (soutblok) op groenweiding verskaf. Te hoë soutinname ontwrig sekere prosesse in die grootpens en verlaag massatoename en produksie waarskynlik as gevolg van 'n wanbalans tussen natrium en kalium in die liggaamsvloeistowwe. Baie hoë soutinnames wat dikwels in die praktyk ondervind word waar slegs soutlekke gevoer word, is nie net altyd as gevolg van 'n southonger nie, maar kan moontlik ook 'n aanduiding van pika wees as gevolg van 'n fosfortekort en/of ander makromineraal- of spoorelementtekort en/of -wanbalans of selfs 'n energie- en/of proteïentekort. Daarbenewens is aangetoon dat te hoë soutinname 'n fosfortekort kan induseer (veroorsaak). Soutlekke (bv. klipsout) behoort nie saam met soutfosfaatmineraallekke gevoer te word nie, want diere verkies sout en sal dus glad nie of te min van die mineraallek inneem (Arthington, 2002).
Fosfaatlekke
Voermol Voere bemark 'n reeks melassegebaseerde fosfaatlekke wat uitstekende resultate lewer en terselfdertyd stowwerigheid verminder, windverliese beperk en ook vir melkkoeie en wild geskik is.
(1) Voermol Superfos (V17422)
Voermol Superfos is slegs drie seisoene op die mark, maar is reeds gevestig as een van die beste produkte in sy klas. Verskeie produsente rapporteer uitstekende resultate waar hierdie produk op groen natuurlike grasveld aangevul word. Voermol Superfos is 'n klaargemengde, melassegebaseerde fosfor- en spoormineraalaanvulling vir beide beeste (120 - 240 g/dag) en kleinvee (20 - 40 g/dag). Hierdie produk is smaakliker as die tradisionele fosfaatlekke wat verseker dat die meeste diere in die trop voldoende hoeveelhede daarvan, wat diereprestasie verhoog, inneem. Op sappige groenweiding en in soetveldgebiede, waar die innames van tradisionele fosfaatlekke laag is, verseker dit ook voldoende innames. Voermol Superfos is een van die produkte met die hoogste en bes gebalanseerde spoormineraalsamestellings op die mark. 'n Deel van die spoor-minerale is in 'n organiese vorm, waardeur die opneembaarheid van spoorminerale drasties verhoog word en wat meehelp om diereprestasie in terme van immuniteit, groei en vrugbaarheid verder te verhoog. Daarbenewens bevat Voermol Superfos ook 15 % proteïen, 'n lae soutvlak en ekstra magnesium asook 'n noue kalsium- tot fosfor-verhouding. Die lae sout- en kalsiumvlakke maak die produk uiters geskik as 'n aanvulling waar oormatige sout en kalsium vermy wil word. Weens die matige proteïeninhoud van Voermol Superfos kan dit ook as 'n oorgangslek aan die einde van die groenseisoen gebruik word. Dit verskaf ook voldoende proteïen wat volgehoue diereprestasie verseker, sou die weiding se proteïeninhoud te laag daal weens 'n midsomerdroogte, soos soms die geval is. Dit vergemaklik ook die aanpassing na 'n hoë ureumbevattende lek op droë winterveld waardeur die gevaar van ureumvergiftiging verminder word.
(2) Voermol Rumevite 12P (V11994)
Voermol Rumevite 12P is 'n melassegebaseerde mineraallekkonsentraat wat beide makrominerale en spoorelemente bevat. Dit moet met gelyke dele sout gemeng word om 'n P6-lek te gee wat die produksie van groeiende en produserende diere op groenweiding stimuleer. Die aanbevole inname van die lekmengsel is 100 tot 240 g/bees/dag en 17 tot 40 g/kleinvee/dag. Indien die inname te laag is, kan 50 kg Rumevite 12P met 50 kg sout en 40 kg Voermol Super 18 (V355) of Voermol Melassemeel (V1995) gemeng word.
(3) Voermol Rumevite 6P (V11995)
Voermol Rumevite 6P is 'n klaargemengde fosfor-spoorelementaanvulling vir beeste en kleinvee. Voermol Rumevite 6P bevat 6 % fosfor, 12 % kalsium plus dié sewe belangrikste spoorelemente. Die aanbevole inname is 100 tot 240 g/bees/dag en 17 tot
40 g/kleinvee/dag.
(4) Voermol Fosfaatblok (V10264)
Voermol Fosfaatblok, maak die aanvulling van fosfor gerieflik omdat geen lekbakke nodig is nie. Aangesien dit 'n goeie weerbestandheid het, is dit veral geskik om te gebruik in gebiede waar reën dikwels voorkom. Die blok weeg 25 kg en is dus maklik om te hanteer. Voermol Fosfaatblok bevat 6 % fosfor, 12 % kalsium plus dié sewe belangrikste spoorelemente. Hierdie blok asook Superfos het tans die hoogste spoorelementinhoud van alle fosfaataanvullings in Suid-Afrika. Dit is belangrik dat die spoorelementreserwe van diere deurgaans aangevul word om optimale groei en reproduksie te verseker. Weens die die hoë magnesiuminhoud (3 %) van hierdie blok lewer dit uitstekende resultate in magnesium-armgebiede. Die aanbevole inname is 100 tot 240 g/bees/dag en 17 tot 40 g/kleinvee/dag.
Samevatting
In ekstensiewe gebiede waar lekke nie gereeld verskaf word nie, is die aanvulling van fosfaatsoutlekke baie belangrik. Nie net om fosfor aan te vul nie, maar ook om die dier se spoorelementreserwes aan te vul. In hierdie gebiede kom dikwels geïnduseerde spoorelementtekorte voor weens die oorinname van veral kalsium, yster en swawel. Addisionele spoorelementaanvulling stimuleer weidingsinname, groei en vrugbaarheid terwyl dit diere se immuniteit en dus weerstand teen siektes verhoog. Die doeltreffende beheer van interne parasiete is ook noodsaaklik omdat navorsing toon dat parasiete wat die dunderm beskadig, die fosforabsorpsie met tot 40 % verlaag en gevolglik tot 'n aansienlike verhoging van die fosforbehoeftes van die dier lei. 'n Swaar interne parasiet-besmetting kan ook 'n negatiewe effek uitoefen op die potensiële weerstand wat diere opbou wanneer hulle teen siektes geënt word.
Indien spesifieke fosfaatlekresepte of meer inligting verlang word, raadpleeg u naaste Voermol Agent of Voermol se hoofkantoor (032 - 4395599) of stuur 'n e-pos na info@voermol.co.za.