Landbou
'n Skatkis vol Bonsmaras in Vaalbos
Deur JOHAN NORVAL (jnorval@landbou.com)

Die hedendaagse teler wat bo sy mede-telers uitstyg, is die een wat die beste teelmateriaal van goeie bloedlyne najaag, wetenskaplik boer en 'n goeie teelbeleid nastreef.

Dit is die mening van mnr. Dawid Visser van die plaas Skatkis, Vryburg. Hy en sy seun, Ernst, het hierdie resep gevolg. Binne twee jaar het hulle 'n puik Bonsmara-stoetery, die Vaalbos-stoetery, op die been gebring en selfs hul eerste veiling gehou.

Die twee elemente wat vir hom as teler die skaal na enige kant kan laat kantel, is winsgewendheid en die behoud van die integriteit van die Bonsmara-ras. Hy is gesteld daarop dat die beginsels en eienskappe van die ras ten nouste nagekom moet word en dat nie van die ras se teelprogram afgewyk kanword nie. "'n Suksesvolle teler se boerdery word hierdeur op 'n naaldpunt gebalanseer: Dit is 'n kwessie van staan of val," sê hy.

Daar is minstens twee faktore wat bygedra het tot die Vissers se wenresep op Skatkis. Die eerste was die geleentheid wat hom voorgedoen het deurdat topteelmateriaal op 'n bepaalde tyd op verskeie Bonsmarauitverkopings beskikbaar geraak het.

Die tweede is die betrokkenheid van die land se voorste Bonsmarakenner, mnr. Danie Bosman, as die Vaalbos-stoetery se kuddemeester.

Bosman, wat as groentjie in 1962 by veeverbetering by die Departement van Landbou betrokke geraak het, is die afgelope 45 jaar, selfs ná sy aftrede, by die Bonsmarabedryf betrokke. Vanaf die eerste raadsvergadering van die Bonsmara-telersgenootskap, dien hy sedert 1964 ononderbroke in die Bonsmara-raad. As beskermheer van die ras geniet hy ook plaaslik en internasionaal erkenning vir sy werk.

Bosman sê vir Vaalbos se teelbeleid word die beste teelmateriaal uit 'n produksie- en aanpasbaarheidsoogpunt gekies. Vir dié doel gebruik hy as kuddemeester prestasietoetsing, teelwaardes soos deur die Landbounavorsingsraad verskaf en funksionele doeltreffendheidsnorme. Om dit te bewerkstellig, word soveel as moontlik gegewens ingesamel en 'n stelsel van beplande parings toegepas.

Daar's nie plek vir "passasiers" in die boerderystelsel nie. Om sukses te verseker, kan 'n teler vroulike diere nie meer as een kans gee om te produseer nie.

Elke bul se nageslag word deeglik geevalueer en as 'n bul nie aan die standaarde voldoen nie, word hy onmiddellik vervang.

Ingevolge nog 'n stelsel word verse op 12 maande tot 15 maande by die jong selfgeteelde bulle gesit. Die verse word strategies gevoer sodat hulle met die daaropvolgende paring 'n goeie besetting het en nie die reproduksieproses onderbreek nie.

Semen van voortreflike bulle word gebruik om die genetiese basis te versterk en verskillende teellyne word in die vooruitsig gestel ten einde met 'n breë genetiese basis te werk.

Bosman sê hulle oorweeg om 'n poenskoplyn ook te vestig. "Dit kan wees dat in die toekoms meer klem op poenskop-beeste gelê word. Dit sal die onthoringsproses uitskakel wat arbeidsintensief is en deur sekere groepe (Groenes) teengestaan word."

Bosman streef ook daarna om die Bonsmara se oorspronklike balans in die teling terug te kry. Dié uitgangspunt was 'n balans van vyf agtstes Afrikaner en drie agtstes uitheemse rasse. Dit beteken aanpassingseienskappe is belangrik en bulle moet prominente skofontwikkeling hê.

Bosman sê prof. Jan Bonsma het met die ontwikkeling van die ras beeste uitgesoek van al die rasse wat goeie aanpassingseienskappe gehad het. Sy doel was om 'n aangepaste dier te teel met goeie produksie- eienskappe. Die vloei van Bonsmarateelmateriaal na die koeler dele van Suid- Afrika het egter veroorsaak dat die klem nie meer op aanpasbaarheid val nie. Vaalbos se doel is om hierdie balans terug te kry.

Die Vaalbos-stoetery het sy ontstaan te danke aan Dawid Visser se besluit om met beeste te boer en om 'n nalatenskap vir sy seun, Ernst, te vestig. Dawid was onder meer in die boubedryf betrokke en het uitgebreide belange in diamantdelwerye.

Hy het die plaas Skatkis in die distrik Vryburg op die pad na Delareyville bekom. Vanweë sy klimaat en plantegroei leen die plaas hom tot 'n vleisbeesboerdery. Die gebied beskik oor soetveld met 'n jaarlikse reënval van 550 mm en warm somers en koue winters.

Dawid wou aanvanklik met Simbras boer, maar hy het na Bonsmaras oorgeskakel omdat hy gesien het dié beeste kan in sy weidingstoestande oorwinter. Hy het drie jaar gesoek na 'n plaas met soetveld waar sy beeste sonder byvoeding deur 'n strawwe winter kan kom. En vir hom is die Bonsmara 'n bees wat "tussen my vier hoekpale werk".

Hulle het weggespring met 'n kommersiële kudde bestaande uit Bonsmara-tipe koeie en Rooi Angus-bulle. Die opbou van die stoetery het begin toe die geleentheid hom voordoen om van die land se beste teelmateriaal in die hande te kry.

Vir dié doel is Bosman se dienste bekom vir drie groot uitverkopings van Bonsmarateelmateriaal: Dié van mnr. Burkhardt Hermann van Fortress- Bonsmaras by Frankfort, daarna die Benchmark-veiling by Excelsior en vervolgens die veiling van wyle mnr. Bokkie van der Merwe van Reivilo.

Bosman sê hulle het hulle toegespits op algehele uitverkopings waar die beste teelmateriaal beskikbaar gestel is en hoofsaaklik op dragtige koeie, koeie met kalwers of verse op die ouderdom van 15 maande.

Nog bulle is bekom van mnr. Arthur de Villiers van Vrede, die bul LAR 00/84 (geteel deur mnr. Lawrence Ralfe van KwaZulu- Natal) asook 'n aandeel in die rekordbul AG 98 338 op die Benchmark-veiling. Aanvanklik het hulle te veel stoetbulle gehad, maar die helfte is intussen verkoop. Die oogmerk is om 'n teelgroep van 600 Bonsmara-koeie te vestig.

Visser besef dat behoorlike bemarking deel van 'n suksesresep is en belangrik is as hy naam in die bedryf wil maak. Vandaar die ontwikkeling van 'n weelderige veilingsentrum en ander geriewe van etlike honderdduisende rand op sy plaas. Behoorlike bemarking moet Vaalbos-Bonsmaras se kuddemerk, VBB, help vestig, sê Dawid.

Hy beoog ook om die mark in Namibië en Botswana te bereik vanweë sy liggingsvoordeel in Noordwes. Hy wil ook die bemarkingsgeleenthede in ander Afrikalande benut.

Vir dié doel het hy die veilingsentrum en die ander geriewe op Skatkis gevestig. Dit sluit in 'n embriostasie wat hy op die oomblik net vir homself gebruik, maar wat hy later kan laat registreer. In dié geval kan dit tot 'n KI- en embriostasie opgegradeer word. Die veilingskraal en onthaalkompleks is ingerig met geriewe vir sy eie veilings en vir die onthaal van besoekers.

Die geriewe is geskik vir sowat 300 mense vir die hou van boeredae en ander geleenthede. Die geriewe is ontwikkel binne 15 maande nadat die Vissers die grond bekom het.

Die twee Vissers het reeds daarin geslaag om belangstellendes uit Namibië en Botswana te lok na hul eerste veiling, wat uitsonderlik vinnig gevolg het op die vestiging van die kudde.

Teelmateriaal uit dié kudde het ook die belangstelling van Australiese telers gaande gemaak en die proses is reeds aan die gang dat dit in die vorm van embrio's uitgevoer word. Mnr. Tony Berry, 'n verteenwoordiger van die Australiese maatskappy Wirlinga-Bonsmaras, het tydens 'n vroeëre besoek aan die plaas opgemerk dat Vaalbos oor die regte tipe teelmateriaal vir dié land se ekstensiewe boerderyomstandighede beskik.

Bosman sê die vestiging van die Vaalbos- stoetery is in die geskiedenis van die Bonsmara-bedryf uitsonderlik. Dawid is die teler wat die geleentheid gebruik het om in die kortste tydperk teelmaterial van hoogstaande gehalte by uitverkopings te bekom. Hy is ook vol vertroue dat Dawid naam in die bedryf sal maak, aangesien hy dryfkrag en goeie sakevernuf het.

Bosman is heel in sy skik met die uitslag van Vaalbos se eerste veiling. Die bulle het 'n gemiddelde prys van bykans R25 000 behaal en die mikpunt van R9 000 vir koeie en R10 000 vir koeie met kalwers is amper behaal.

Landbouweekblad, 21 Maart 2008