Keer vrektes by speenlammers betyds
Dr. JOHAN VAN ROOYEN
Skaaplammers wat verlede lente
gebore is, moet nou gespeen word.
Speentyd is 'n moeilike tyd vir die
lammers en vrektes kom dikwels
voor. Boere kan hierdie verliese voorkom
deur die onderstaande wenke te volg.
Verwyder altyd die ooie - en nié die
lammers nie - uit die trop. Skuif die lammerooie
na die kamp waarin die speenlammers
moet loop. Doen dit 'n week of twee
voordat die lammers gespeen word.
Los 'n paar ou ooie by die pas gespeende
lammers. Hou dié ooie daar totdat die lammers
oor die speenskok is.
Sommige boere ruil die lammerooie in
verskillende kampe met mekaar om wanneer
hulle speen. Die lammers kan dan nie
meer suip nie,maar ervaar minder stres.
Spuit die lammers voor speentyd minstens
een keer teen bloednier in.
Doseer die lammers met vitamiene A, D
en E asook spoorelemente. Dit dien as 'n
tonikum om hul weerstand teen siektes en
parasiete op te bou.
Klas die lammers 'n ruk nadat hulle gespeen
is in twee of meer groepe volgens hul
kondisie. Sodoende weet 'n mens watter
lammers swak groei. Dit vergemaklik die
bestuur van die lammerkudde.
Merk 10 tot 15 lammers in elke groep met
'n rooi plaatjie. Weeg die gemerkte lammers
maandeliks om te sien of daar probleme in
'n groep is. Só kan skade vroegtydig voorkom
word. Bepaal met hoeveel die ooilammers
moet groei om teen paartyd ten minste
70% van hul volwasse gewig te bereik.
Bekamp haarwurms. Die FAMACHA-tegniek
is die beste manier om aan die kleur
van die oogslymvliese vas te stel watter lammers met
haarwurms besmet is. Doseer net
die lammers met bleek oogslymvliese. Gebruik
'n produk uit die groep doseermiddels
met levamisool/tetramisool as aktiewe
bestanddeel. Dit is gewoonlik onnodig om
die lammers teen lintwurms te doseer, want
hulle skud vanself die lintwurms af nadat
hulle gespeen is. Swak lammers kan wel
met 'n lintwurmmiddel behandel word.
In tye van droogte kan dit baie help om
die lammers aan byvoeding gewoond te
maak terwyl hulle nog by die ooie is. Die
lammers vreet dan reeds sterk wanneer
hulle gespeen word.
Speen eerder te vroeg as te laat. Wanneer
'n ooi begin swak word, produseer sy dikwels
nie meer melk nie. Dit is dan beter om
die ooi en die lam van mekaar te skei sodat
hulle elkeen volgens behoefte kos kan kry.
As speenlammers gevoer word, wees versigtig
met voer wat ureum bevat. Die lammers
kan te veel voer vreet en dan ureumvergiftiging opdoen.
Waak teen koksidiose by speenlammers.
'n Lam met koksidiose groei swak. Die dier
het ook soms 'n slymerig maagwerking en
'n irritasie van die rectum (die lam loop met
sy stert in die lug ná ontlasting). Dikwels
word net 'n bietjie droë, swart mis op die
lam se broek gesien. Koksidiose kan met 'n
misondersoek bevestig word. Landbouweekblad, 21 Maart 2008
Dr. Johan van Rooyen is 'n veearts by die Landbou-
ontwikkelingsinstituut Grootfontein by Middelburg
(Oos-Kaap). Hierdie inligting is bedoel
as algemene riglyne. Boere moet altyd hul veearts
raadpleeg vir advies. Die skrywer dra geen verantwoordelikheid
vir enige skade wat op die toepassing
van die inhoud van hierdie artikel op die plaas of in
'n kudde kan volg nie.